FW de Klerk by amptelike roudiens gegroet

Oudpres. FW de Klerk is verlede maand in die ouderdom van 85 dood. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

Suid-Afrika het Sondag amptelik hulde aan FW de Klerk gebring.

De Klerk, president van 1989 tot 1994, is op 11 November in die ouderdom van 85 ná ʼn stryd teen kanker dood. Hy het die Nobelprys vir vrede in 1993 met oudpres. Nelson Mandela gedeel nadat hy Mandela in 1990 uit die tronk laat vrylaat het. Mandela is in 1994 tot Suid-Afrika se eerste swart president verkies.

Pres. Cyril Ramaphosa het die huldeblyk by Kaapstad se Groote Kerk – een van die land se oudste kerke – gelewer en De Klerk “dapper” genoem omdat hy die demokratiese oorgang in 1990 van stapel gestuur het.

“De Klerk het teen elemente in sy eie staatsveiligheidsinstellings opgetree, en teen bittereinders wat bereid was om die wapens op te neem om die bestaande situasie te handhaaf,” het Ramaphosa gesê.

De Klerk se weduwee, Elita Georgiadis, het aan die sowat 200 roubeklaers gesê die oudpresident is dikwels misverstaan omdat hy so uiters korrek was.

“Ek sal nooit die man vergeet wat my bekoor het, wat gemaak het dat ek hom wil help om die enorme taak voor hom te verrig nie.”

De Klerk kon ook nooit vrede in die apartheidstelsel vind nie, het sy volgens News24 gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa oorhandig die Suid-Afrikaanse vlag aan Elita Georgiades, weduwee van oudpres. FW de Klerk, tydens die ampelike gedenkdiens in Kaapstad. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

“Dit het hom sielkundig geraak. Hy was ʼn baie private man, wat oor sy diepste siel en sy lojaliteit gewaak het. Hy het begin insien dat dit nie verraad beteken om geregtigheid te betoon nie, dit het geregtigheid beteken. Hy was altyd bekommerd oor die nuwe Suid-Afrika.”

ʼn Private misdiens en die speel van die volkslied het die seremonie voorafgegaan wat deur familielede, vriende, staatsamptenare en verskeie ander hooggeplaaste roubeklaers bygewoon is. Die Kaapstadse filharmoniese orkes het ʼn uitvoering gelewer en ʼn foto van De Klerk is tussen twee kerse voor in die kerk geplaas.

Ondanks ʼn positiewe beeld en goeie naam in die buiteland, het De Klerk menings in Suid-Afrika verdeel en sy dood het gemengde reaksie veroorsaak. Kritici van die oudpresident sê hy is onlosmaaklik deel van apartheid-era-misdaad en kon aanspreeklik gehou word as hy langer geleef het.

Ramaphosa het erkenning gegee aan dié gevoel van ongeregtigheid wat talle Suid-Afrikaners nog handhaaf.

Roubeklaers by die diens in Kaapstad se Groote Kerk. (Foto: Rodger Bosch/AFP)

“Ons kan dit nie ignoreer nie en ons moet ook nooit die woede, die pyn en die teleurstelling van diegene wat die rol wat FW de Klerk in die hiërargie van ʼn onderdrukkende staat gespeel het, probeer afmaak nie.

“Ons moet nooit die ongeregtighede van die verlede vergeet nie.”

Buite die kerk het ʼn klein groepie betogers saamgedrom, maar die polisie het hulle vinnig weggelei. “Ramaphosa het simpatie met De Klerk, wat nooit verantwoording vir die sterftes gedoen het nie, maar het geen ontsag vir die slagoffers nie,” het Cassiem Khan, een van die betogers, gesê.

Opmerkings in sy laaste lewensjare het skade aan De Klerk se beeld aangerig en kritiek veroorsaak omdat hy versuim het om amptelik verskoning vir die misdade van apartheid te vra.

Hy het onlangs nog ontken dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom was, voor hy die stelling teruggetrek en om verskoning gevra het. De Klerk se stigting het ná sy dood ook ʼn video gedeel waarin hy verskoning vra vir die “lyding, pyn, onwaardigheid en skade aan swart Suid-Afrikaners weens apartheid”.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, het ná afloop van die gedenkdiens aan News24 gesê De Klerk was ʼn leier met “buitengewone moed” wat uiters belangrike besluite op ʼn kritieke tydstip geneem het wat eindelik ʼn burgeroorlog in die land verhoed het.

Zille was ʼn joernalis tydens De Klerk se termyn in die kabinet.

“Dit is belangrik om te noem dat dit De Klerk was wat al die wetgewing opgeskort het waarop apartheid berus het en die grondwetlike onderhandelings van stapel laat stuur het. Sonder hierdie groot gebeure sou die Suid-Afrika waaraan ons vandag werk, nie moontlik gewees het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Tiptol

In die video wat De Klerk verskoning vra vir apartheid het hy in die 2de deel van die video ook gesê dat wat nou aangaan in SA verkeerd is. Mense moet die volle video kyk.

Johan

Hy’t ons uitverkoop vir eie gewin.

Chris dupreez

Rus in Vrede.

Linx

En daar toets hy positive vir covid

H.A.

Onderhandelings ? SA is tot vandag nie moontlik nie.