FW de Klerk: ‘n Veelbewoë lewe

FW de Klerk (Foto: RODGER BOSCH/AFP)

Oudpres. FW de Klerk, wat vanoggend in die ouderdom van 85 jaar in sy huis in Fresnaye, Kaapstad ná ‘n lang stryd teen kanker oorlede is, het ‘n veelbewoë lewe gelei.

Hy is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore as deel van ‘n familie wat van die politiek deurdrenk was. Sy pa, Jan de Klerk, was die swaer van die destydse leier van die Gesuiwerde Nasionale Party in Transvaal (en latere eerste minister) J.G. Strijdom en het self later senator en minister geword. FW de Klerk se broer was die latere koerantredakteur en akademikus Willem de Klerk.

FW de Klerk het aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer en hom in die regsgeleerdheid bekwaam aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO), waar hy later jare kanselier was.

Hy is in 1959 met wyle Marike Willemse getroud. Van hul drie kinders is een reeds oorlede.

Hy was ‘n prokureur in Vereeniging en was op pad om ‘n dosentepos aan die PU vir CHO te aanvaar toe die posisie as Volksraadslid vir Vereeniging in 1972 vakant geraak het.

De Klerk is verkies onder die vaandel van die Nasionale Party (NP) en het Vereeniging tot in 1989 in die parlement verteenwoordig.

Van 1978 tot 1989 het De Klerk, oor wie oudpremier John Vorster reeds in 1975 voorspel het dat hy Suid-Afrika eendag sou lei, in verskeie portefeuljes as minister gedien.

In 1982 het ‘n groep NP-parlementslede onder leiding van dr. Andries Treurnicht, destydse leier van die NP in Transvaal, uit die NP weggebreek omdat die destydse premier, PW Botha, van apartheid af begin wegbreek het ten gunste van nie-rassigheid en veelrassigheid.

As Treurnicht die meerderheid Transvaalse NP-LP’s agter hom kon skaar, sou die NP al sy materiële bates kwyt wees, maar op ‘n vergadering van die NP se Transvaalse hoofbestuur in Pretoria is Treurnicht met 172 stemme teen 36 verslaan en De Klerk het Transvaalse NP-leier geword.

FW de Klerk en sy eksvrou, Marike, tydens sy inhuldiging as staatspresident in September 1989. (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

Nadat PW Botha vroeg in 1989 ‘n beroerte gehad het, het De Klerk waarnemende NP-leier geword, in Augustus 1989 waarnemende staatspresident en in September 1989 staatspresident van Suid-Afrika.

Op 2 Februarie 1990 het hy die politiek van Suid-Afrika onherroeplik verander deur aan te kondig dat verbanne politieke organisasies soos die ANC, PAC en Kommunistiese Party ontban word, rasdiskriminerende wette afgeskaf word en politieke gevangenes soos die latere pres. Nelson Mandela vrygelaat word.

Dit het die onderhandelinge wat in 1994 sou uitloop op ‘n demokratiese Suid-Afrika ingelui. Hy het ‘n referendum wat hom die mandaat gegee het om te onderhandel, in 1992 met ‘n meerderheid van 69% van wit kiesers en ‘n stempersentasie van 85% gewen.

In 1993 is die Nobelprys vir vrede gesamentlik aan hom en Mandela toegeken.

In die 1994-verkiesing het die NP onder De Klerk se leiding meer as 20% van die stemme getrek, en hy het adjunkpresident geword in Mandela se regering van nasionale eenheid (RNE).

FW de Klerk en Nelson Mandela spreek die media toe in Kaapstad (Foto: WALTER DHLADHLA/AFP)

In 1996 het De Klerk en die NP uit die RNE getree en in 1997 het hy uit die politiek getree. Hy het ‘n ondersteuner van die Nasionale Party gebly, ook toe Marthinus van Schalkwyk die party in 2001 uit die DA onttrek het. De Klerk was nie ‘n ondersteuner van die besluit om die party te laat opgaan in die ANC nie, en het nie ‘n ANC-lid geword nie.

Hy het die FW De Klerk-stigting aangevoor en was ‘n gewilde spreker, raadgewer en staatsman oorsee. Hy het voor die Waarheid- en Versoeningskommissie (WVK) om verskoning gevra vir die gevolge van apartheid – ‘n verskoning wat vir sommiges te veel en vir ander te min was. Dit was ‘n kwessie wat hom in sy laaste dae gekwel het, en wat hy nie onafgehandel wou laat nie.

De Klerk is in 1999 geskei van sy eerste eggenote en getroud met Elita Georgiades, deur wie hy oorleef word. Hy word ook oorleef deur sy twee kinders en sy kleinkinders.

Begrafnisreëlings sal binnekort bekend gemaak word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.