FW de Klerk op die been, nie in hospitaal

Oudpres. FW de Klerk. (Foto: ANA)

Die FW de Klerk-stigting het Dinsdag mediaberigte ontken dat oudpres. FW de Klerk in ʼn hospitaal om sy lewe veg.

“Daar was omvattende beriggewing dat mnr. De Klerk se gesondheid ‘vinnig agteruitgaan’. Dit is nie so nie. Daar was geen noemenswaardige verdere agteruitgang in sy gesondheid sedert mesotelioom – ʼn kanker wat die voering van die longe raak – in Maart by hom gediagnoseer is nie,” lui ʼn verklaring van die stigting.

In Maart vanjaar, op sy 85ste verjaardag, het De Klerk sy kankerdiagnose bekend gemaak.

Volgens die stigting oorweeg die oudpresident nou die voorsetting van die immunoterapie wat hy reeds die afgelope twee maande ondergaan.

“Mnr. De Klerk het gister ʼn vergadering van die FW de Klerk-stigting se raad bygewoon en kom drie of vier keer per week kantoor toe.

“Hy en sy vrou, Elita, hoop om vir ʼn vakansie na Griekeland te reis sodra Covid-regulasies dit toelaat.”

Dave Steward, woordvoerder van die stigting, het by navraag benadruk dat De Klerk nié in ʼn hospitaal opgeneem is soos sommige berigte lui nie.

“Daar is hoegenaamd geen waarheid in die gerugte dat hy in die hospitaal besig is om vir sy lewe te veg nie,” het Steward aan Maroela Media gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.