FW de Klerk-stigting verwelkom Ace se skorsing

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC. (Foto: Gulshan Khan/AFP)

Die FW de Klerk-stigting verwelkom die onmiddellike skorsing van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, asook ander ANC-lede wat teregstaan op strafregtelike aanklagte, waaronder veral korrupsie of ander ernstige misdade.

Maroela Media het vroeër berig die brief aan Magashule – wat deur Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC onderteken is – lui dat hy vanaf 3 Mei tydelik geskors word, hangende die finale uitslag van die strafsaak teen hom. Die saak teen Magashule en sy medebeskuldigdes word in Augustus in die hooggeregshof hervat.

Die ANC se Nasionale Werkkomitee (NWK), wat Maandag vergader het, het beslis dat ʼn besluit van die party se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) – dat diegene wat strafregtelik aangekla word vrywillig opsy moet staan of geskors word – bindend is en in werking gestel moet word. Dit baan die weg vir diegene soos Magashule om nou geskors te word. Magashule se spertyd van 30 dae om vrywillig opsy te staan, het reeds verstryk.

Die ANC het vroeër besluit ʼn openbare verteenwoordiger, ampsdraer of lid wat in ʼn hof van ʼn misdaad beskuldig word, kan geskors word indien dit in die beste belang van die party is.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het gesê die NWK het opdrag gegee dat die besluit van die laaste NUK – die ANC se hoogste besluitnemingsliggaam – in werking gestel moet word. Diegene wat aangekla is van korrupsie of ander ernstige misdade, en wat nog nie opsy gestaan het nie, moet ingevolge reël 25.70 van die ANC-grondwet geskors word.

Volgens Mabe het die NWK opdrag gegee dat die nodige briewe aan die betrokke lede geskryf moet word om die besluit in werking te stel en waarin die bepalings en voorwaardes oor hul deelname en gedrag tydens die skorsing gereguleer word.

Hy sê die NWK het ook voorstelle ontvang vir die samestelling van ʼn appèlpaneel vir diegene wat beslissings van die ANC se Integriteitskommissie wil betwis.

Luidens ʼn verklaring uitgereik deur die FW de Klerk-stigting kan die besluit om Magashule te skors, gesien word as ’n konsolidasie van pres. Cyril Ramaphosa se mag binne die ANC in die voortslepende faksiegevegte tussen Ramaphosa aan die een kant en oudpresident Jacob Zuma en Magashule aan die ander kant.

“Dit moet ook verwelkom word as ’n belangrike en langverwagte stap om korrupsie aan te pak en streng op te tree teen ANC-topamptenare wat beskuldig word van ernstige oortredings. Die ANC se faksiegevegte het die regering en doeltreffende dienslewering veels te lank negatief beïnvloed,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

MakersMark ·

Nou sal die wat SA verraai het en aan die tipe korrupsie oorgegee het in ’94 met allerhande slim praatjie beloftes van “wigte en teenwigte” ook ‘n eier lê. Die wiggies bestaan nie die spul is op pad in een rigting……

Fritz ·

Ek dog die stigting gaan sê die wigte en teenwigte is nou besig om in te skop. Hoe irrelevant kan n mens tog wees.

Jacobus ·

Stem saam – kwessie van checks en balances. ACE kry nog sy cheques en die balance moet maar sien kom klaar!

Dries ·

Wie op aarde wil nou weet wat die irrelevante klomp ringkoppe te sê het. Plaas dat hulle wegkruip in n hoekie van skaamte

Persheks Adri ·

Integriteit? Verstaan hulle die woord? Ons betaal nog steeds sy salaris en voordele pffft. Wat ‘n skande man

Windhond ·

Kan iemand my net asb inlig wat die FW de Klerk stigting se nut en funksie is, en wat het hulle nou al vir die man in die straat bewerkstellig?

Werner ·

Hulle verkoop net die man in die straat uit om hulself te probeer beskerm

Pieter ·

Laat die de klerk stigting ou ACE se selaris betaal. Dit is te danke aan DE KLERK dat ons met die ANC gemors sit.

Thom ·

Baie erger ___ hy is soos trompie ___ ‘n beroepsleuenaar .

Mallie ·

FW de Klerk was hand om die blaas met die ANC kaders en nou? Hoe nou mnr de Klerk.

Nico ·

Ace gaan eenvoudig net met betaalde verlof, skorsing wat ‘n grap.

Susanna ·

Skorsing! Seker met betaling! Hoekom nie afdank nie? Hoekom nie gevonnis nie? Net in SA nê?!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.