FW de Klerk: Van prokureur tot president

FW de Klerk. Foto: FW de Klerk-stigting/Facebook

Oudpres. FW de Klerk het Donderdag sy stryd teen kanker verloor. Hy was 85 jaar oud.

Frederik Willem (FW) de Klerk is op 18 Maart 1936 in Johannesburg gebore, die seun van senator Jan de Klerk, ’n senior kabinetsminister.

Hy het sy skooljare grotendeels op Krugersdorp deurgebring, waar hy aan die Hoërskool Monument matrikuleer het. Hy het aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys studeer en in 1958 die grade BA- en LLB (cum laude) verwerf. Gedurende sy universiteitsjare was hy aktief by studente-aangeleenthede betrokke.

De Klerk het by ’n prokureursfirma in Vereeniging aangesluit, wat hy help opbou het tot een van die voorste prokureursfirmas buite Suid-Afrika se groot metropolitaanse gebiede. Terselfdertyd het hy ’n prominente rol gespeel in verskeie gemeenskapsaktiwiteite. In 1972 is hy ’n professoraat in Administratiefreg aan die Potchefstroomse Universiteit aangebied, maar moes dit van die hand wys vanweë sy besluit om die politiek te betree.

Hy is in November 1972 verkies as Lid van die Parlement vir Vereeniging. In 1978, en kort ná sy 42ste verjaardag, na slegs vyf en ’n half jaar as agterbanker, is hy verkies tot die kabinet.

Gedurende die daaropvolgende 11 jaar was hy vir die volgende portefeuljes verantwoordelik:

  • Pos- en telekommunikasie en Maatskaplike Welsyn en Pensioene;
  • Sport en Ontspanning;
  • Mynbou en Omgewingsbeplanning;
  • Mineraal- en Energiesake;
  • Binnelandse Sake, asook die Staatsdiens; en
  • Nasionale Opvoeding (die portefeulje wat hy behartig het tot sy verkiesing as Staatspresident).

De Klerk is op 1 Julie 1985 verkies tot voorsitter van die Volksraad se ministersraad en op 1 Desember 1986 word hy die leier van die Volksraad. Op 6 Maart 1982 word hy verkies as die leier van die Nasionale Party in die Transvaal. Die koukus van die Nasionale Party verkies hom op 2 Februarie 1989 tot die nasionale leier van die Party. Op 15 Augustus 1989, ná die bedanking van president PW Botha, word De Klerk die waarnemende staatspresident, en na afloop van die algemene verkiesing op 6 September, is hy op 20 September ingehuldig as staatspresident.

Nelson Mandela en FW de Klerk skud blad nadat hulle op 10 Desember 1993 die Nobel-vredesprys in Oslo, Noorweë ontvang het (Foto: GERARD JULIEN/AFP)

De Klerk het as staatspresident gedien tot en met oudpres. Nelson Mandela se inhuldiging op 10 Mei 1994. Gedurende hierdie tydperk het hy die inklusiewe onderhandelings van stapel gestuur en bestuur, wat gelei het tot die beëindiging van apartheid en die aanvaarding van Suid-Afrika se eerste ware demokratiese Grondwet in Desember 1993.

Nadat hy die Nasionale Party gelei het tot die tweede plek in Suid-Afrika se eerste ten volle verteenwoordigde algemene verkiesing op 27 April 1994, is De Klerk ingehuldig as een van Suid-Afrika se twee uitvoerende adjunkpresidente. Hy het in hierdie posisie gedien tot aan die einde van Junie 1996 toe sy party, onder sy leierskap, besluit het om van die Regering van Nasionale Eenheid te onttrek. Hy was leier van die amptelike opposisie tot en met sy uittrede uit die aktiewe politiek op 9 September 1997.

De Klerk het verskeie nasionale en internasionale toekennings en eredoktorsgrade ontvang. In 1981 het hy die Suid-Afrikaanse Dekorasie vir Voortreflike Diens ontvang. In 1992 het hy die Prix du Courage Internationale (die prys vir politieke moed) ontvang en hy was mede-ontvanger van Unesco se Houphouet-Boigny-prys. In dieselfde jaar het hy ook die Prins van Asturias-prys in Spanje ontvang. In Julie 1993, saam met Mandela, ontvang De Klerk die Philadelphia-vredesprys en op 10 Desember dieselfde jaar was hy die mede-ontvanger, ook saam met Mandela, van die Nobel-vredesprys.

De Klerk se outobiografie, Die Laaste Trek – ’n Nuwe Begin (MacMillan), is in Januarie 1999 uitgereik en hy het in dieselfde jaar die FW de Klerk Stigting gestig, wat ten doel het om vrede in multi-gemeenskaplike samelewings te bevorder.

De Klerk word oorleef deur sy vrou, Elita, sy twee kinders, Jan en Susan, en sy kleinkinders.

Bron: FW de Klerk Stigting

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.