G20-parlemente hoor hoe SA korrupsie stryd aansê

Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies. Foto: ANA

“Suid-Afrika durf korrupsie aan en ek weet ons sal dié stryd wen,” was die voorsitter van die nasionale raad van provinsies, Thandi Modise, se boodskap aan die speakersberaad van G20-parlemente in Buenos Aires, Argentinië.

Sy het Donderdag aan afgevaardigdes gesê Suid-Afrika het sterk wetgewing, beleidstellings en instellings om korrupsie te bestry, maar wel erken dat die wetgewing soms nie genoegsaam toegepas word nie.

“In die afgelope paar maande was daar egter ʼn reeks parlementêre ondersoeke na openbare en private instellings en regterlike kommissies van ondersoek na beweerde korrupsie, staatskaping en ander vorme van ampsmisbruik,” het Modise gesê.

“As parlementslede moet ons volhard in ons verbintenis tot deursigtigheid en verantwoordbaarheid. Integriteit is ʼn kultuur en ʼn wapen wat ons in ons samelewing moet verskans. Die burgerlike samelewing en die media moet as waghonde optree en die regering steeds fyner dophou.”

Modise het gesê dis belangrik om wetgewing teen korrupsie toe te pas, maar op sigself is dit nie genoeg om korrupsie te bestry nie. Belanghebbendes in die samelewing moet hulle daartoe verbind om integriteit te verskans en toe te sien dat die regering se optrede die burgery se belange vooropstel.

Sy het gesê al is dit dikwels moeilik om korrupsie te definieer, is dit “ongelooflik maklik” om te herken. “Dit vernietig openbare vertroue en die samelewing se moraliteit. Dit verswak staatsinstellings en kniehalter ontwikkeling … Dit het ʼn nadelige uitwerking op die land se veiligheid.”

Vrydag is die laaste dag van die beraad wanneer afgevaardigdes sal praat oor die rol van parlemente in die samestelling van die G20.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

marco polo ·

Modise, kan jy dan nou vir ons se hoeveel van die korruptes is al aangekla en gestraf?

zoom zoom ·

Is dit nie ook die vrou wat ‘n plaas in NW het wat nie eens vir haar diere kon kos gee en toe het omtrent al die diere gevrek
Selfs die werkers was nie eens betaal nie.

waarheid ·

Se die korruptes dit van ander korrupte? Dit help niks – die hele lot is korrup.
Niemand is al in die tronk nie, en niemand sal tronk toe gaan nie – alles is net ‘n klug.

Hoe nou....... ·

Is dit moontlik vir hulle om die waarheid te kan praat? Hulle het hulle eie weergawe van die waarheid en ek vermoed hulle dink die wereld glo hulle bollie soos al die inwoners van die pragtige geweldadige en korrupte land van ons!!!

Ed ·

Dit is seker die beste grap wat ek in ‘n lang tyd gehoor het.

RG ·

Hoe lekker lag ek nou. Wel ek veronderstel ons moet dankbaar wees sy’t dit nie ontken nie.

(F)Luister ·

“Suid-Afrika het sterk wetgewing…). Wat ‘n grap. Ek weet van ten minste een stuk uiters belangrike wetgewing wat deur hulle verander en verkrag is, om dit vir hulself moontlik te maak om korrupsie te pleeg en skotvry daarvan af te kom. Daar is mos darem nou al genoeg dade gepleeg en die bewyse is daar om dit wat ek hier genoem het, te rugsteun.

Jannie ·

“Ons sal die stryd wen” sê sy! Darem altyd lekker om ‘n bietjie humor teë te kom….veral op ‘n Vrydag, na ‘n moeilike week!!! LOL!!!!

lewies ·

Jy kan geen opvoeding, voorbeeld en rolmodelle in jou huis van oorsprong in ‘n oogwink omkeer of regstel nie. Dit neem drie geslagte om hierdie regstelling te doen as daar ‘n wil is om dit te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.