G7 wil plastiekbesoedeling teen 2040 beëindig

Japan se minister van omgewingsake Akihiro Nishimura (derde van links) en Japan se minister van ekonomie, handel en nywerheid Yasutoshi Nishimura (derde van regs) by die G7-beraad in Sapporo, Hokkaido (16 April 2023) (Foto: STR/Jiji Press/AFP)

Klimaat- en omgewingsakeministers by die G7-beraad het onderneem om plastiekbesoedeling in hul onderskeie lande teen 2040 te beëindig, het hulle Sondag in ʼn verklaring gesê ná gesprekke in die noorde van Japan.

“Ons verbind ons daartoe om ʼn einde te bring aan plastiekbesoedeling, met die doel om bykomende plastiekbesoedeling na zero te verminder teen 2040,” lui die verklaring.

Duitsland, Frankryk, Kanada, Brittanje en die Europese Unie is reeds deel van ʼn veelparty koalisie wat dieselfde onderneming verlede jaar gemaak het.

Dit is egter die eerste keer dat die oorblywende Groep van Sewe-lede – Japan, die VSA en Italië, ook hulself aan die 2040-doelwit verbind het.

Duitse minister van omgewingsake, Steffi Lemke, het die groep se nuwe onderneming as ʼn “ambisieuse doelwit” beskryf tydens ʼn perskonferensie ná die twee dae se gesprekke in Sapporo.

Die uitfasering sal bereik word deur “die bevordering van volhoubare verbruik en vervaardiging van plastiek, om sirkelvormigheid in die ekonomie te verhoog en omgewingsgesonde bestuur van afval”, lui die verklaring.

Plastiekrommel het in 20 jaar wêreldwyd verdubbel en slegs 9% is suksesvol herwin, aldus die OESO-groep van ontwikkelde lande.

Volgens die Verenigde Nasies sal die volume plastiek in die oseane teen 2040 byna verdriedubbel.

Die G7 het Sondag ook onderneem om vinniger van fossielbrandstof afstand te doen en het ander lande gemaan om in hul spoor te volg. Hulle kon egter nie ooreenkom oor enige spesifieke sperdatum vir die beëindiging van kragbronne soos steenkool nie.

Die groep se ministers het wel onderneem om “die uitfasering van fossielbrandstof te versnel sodat net zero in energiestelsels teen 2050 op die laatste bereik kan word”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

annie ·

Kyk, hoe dit sal werk. Bogenoemde lande is die enigste wat plastiek op grootskaal in die toekoms sal mag gebruik terwyl die res dadelik dit moet staak. Die EU gaan ook nou steenkool goedkoop invoer (want dis mos gemors waarvan ontslae geraak moet word) en hul atoomkragstasies sluit. Afrika en die res mag nie meer plastiek mag gebruik nie en sal gevaarlike atoomkrag ten duurste moet invoer (en ons bogenoemdes sal help met die tegnologie). Groot straf en sanksies wag op die ongehoorsames!

Neestemmer ·

Plastiekbesoedeling was nie ‘n probleem toe jy destyds jou melk, Coke en watookal in glas gekoop het nie, en dieselfde trok wat aflewer kan sommer die lee bottels terugvat vir hervul in plaas van leeg terug ry. Die klimaatnarre sou die besoedeling wat deur hulle befondsers veroorsaak word , aangespreek het as daar werklike erns was.

CO2 maak 0,04% van die atmosfeer uit en het gestyg met 0,01% die afgelope 100 jaar, wat eintlik net goed is vir die plantegroei want C is plantkos so die “ greenhouse” effek is nonsens storie, plante groei lekker met die extra co2 en stel weer suurstof vry as dit gebruik word. As die CO2 in die wereld onder 0,02% sou daal gaan die plante doodgaan en die mense en diere ook….

Treurwilger ·

Glo nie ‘n mensdom, verslaaf aan gerief, sal ooit op groot genoeg skaal om ‘n verskil te maak, afsien van plastiek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.