Gaan ChatGPT ons dom(mer) maak?

(Argieffoto: Pixabay)

Skryf hierdie opstel. Voltooi daardie ontleding. Verduidelik die bedoeling agter dié uittreksel. Vir menige student wat ʼn huiswerkopdrag moet afhandel, gee opdragte soos hierdie koue rillings. Lang opstelle oor dinge waaroor studente waarskynlik minder kan omgee – en waarvan hulle hoegenaamd nie die belang sien nie.

Maar die huiswerk is nie veronderstel om vreesaanjaend te wees nie; dit is saamgestel om die grysstof aan die werk te sit en kritiese denke te stimuleer; dit moet studente uitdaag om hul eie menings te vorm en navorsing en kognitiewe denke te gebruik om dié gevolgtrekkings te staaf.

Bedreig kunsmatige intelligensie-toepassings (KI) soos die toenemend gewilde ChatGPT dié kritiese denke?

KI-toepassings is beslis hier om te bly, sê Anna Collard, verbonde aan die maatskappy KnowBe4 Africa. Pleks daarvan om dit as ʼn bedreiging te beskou, moet dit eerder as ʼn bate gesien word; een wat kognitiewe groei en geheuefunksie steun, eerder as om dit bloot te vervang.

Brein kan ook net sóveel doen

Navorsing dui op verminderde geheue omdat daar te swaar op tegnologie gesteun word; waarna verwys word as die Google-uitwerking. (Grafika: Gordon Johnson/pixabay)

“Navorsing deur George Millar in 1956 het bevind dat die deursneemens net sowat sewe items in hul werkende geheue kan hou,” verduidelik Collard.

“Miller se Wet van sewe plus/minus twee, beteken dat tot nege of so min as vyf items die limiet van ʼn mens se verwerkingsvermoë is. Daardie syfer het vandag tot vier gedaal.

“Die navorsing, asook ander akademiese verhandelings en ontledings, dui op verminderde geheue omdat daar te swaar op tegnologie gesteun word; waarna verwys word as die Google-uitwerking.”

Dit is kommerwekkend en ʼn kwessie wat al hoe meer aandag kry terwyl navorsers en opvoeders peins oor die uitwerking van tegnologie – en nou ook KI – op kognitiewe gedrag en geheueretensie.

Sommige navorsing wys egter dat mense al eeue lank hul “geheue” op verskeie maniere “uitkontrakteer”. Dink papier, perkament, papirus en selfs hout.

Sommige navorsing wys egter dat mense al eeue lank hul “geheue” op verskeie maniere “uitkontrakteer”. Dink papier, perkament, papirus en selfs hout. (Argieffoto: Frederick Florin/AFP)

Moderne tegnologie verskil nie veel daarvan nie. Dit kan ʼn instrument wees om geheue te verbeter en dit veel makliker maak vir mense om lewens te bestuur wat toegegooi word met hope inligting, geraas en digitale rommel.

“Die navorsing gaan na albei kante en dui daarop dat tegnologie menslike geheue onderdruk en in staat stel,” sê Collard.

“Dit wys dat die uitwerking nie regtig lê in die gebruik [van KI] nie, maar in hoe dit gebruik word of in die geval van ChatGPT, hoe dit misbruik word.

“Dit kan ʼn geweldig nuttige instrument wees wat studente met hul navorsing en studies help, maar indien dit die enkele bron van inligting word en al die skryfwerk namens hulle doen, begin die probleem.”

Waar het ek daardie feit gesien?

Deesdae is dit veel meer belangrik om te onthou waar jy ʼn feit raakgesien het, as wat daardie feit in die eerste plek was. Dit word eindelik ʼn toepassing soos ChatGPT se groot probleem: Die bronne is vaag en dikwels verouderd, wat beteken dit is selde so akkuraat as wat dit moet wees.

“ChatGPT gebruik masjienleer om inligting oor te dra en dit lei tot onakkuraathede,” sê Collard.

Indien jy ChatGPT byvoorbeeld vra wat gebeur indien jy ʼn spieël breek, is daar lang verduidelikings oor bygelowe wat daarmee verband hou – maar darem ook praktiese verduidelikings oor die beserings wat dit kan veroorsaak en die feit dat ʼn spieël wat breek eintlik net lei tot … wel, ʼn stukkende spieël.

Sommige KI-antwoorde is dus gegrond op kwessies soos bygeloof – en berus nie op feite nie.

“As gebruikers nie deurlopend die feitelike akkuraatheid van ChatGPT nagaan nie, bestaan die gevaar dat hulle fopnuus, onakkurate inligting of selfs samesweringsteorieë kan deel,” sê Collard.

Die TruthfulQA-toets het bevind dat die meeste generatiewe modelle net 25% van die tyd by die waarheid hou, aldus ʼn 2022-studie deur die Stanford-universiteit.

Dit beteken indien daar te swaar op tegnologie soos ChatGPT gesteun word, gaan dit ʼn student se werk eenvoudig onnosel laat lyk.

Dit stuit egter nie mense om hulle tot tegnologie te wend wanneer hulle moeg, oorweldig of lui is nie – wat beteken die beste benadering is om die tegnologie te aanvaar.

“Moet dit nie verban nie, maar leer studente eerder hoe om dit binne ʼn praktiese raamwerk en beleid te gebruik wat hulle help om hul begrip van KI en dié soort tegnologie te verbeter,” sê Collard.

“Dit gaan hul eie kritiese denkvaardighede verskerp deur hulle te vra om die bronne, inhoud, waarheid en akkuraatheid van die inhoud van die platform wat die inligting bedien, na te gaan.

“En dít gaan ʼn bedreiging in ʼn geleentheid omskep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.