Gaan die droogte die Wes-Kaap onderkry?

droogte

Foto: Daeron/Pixabay.com

In die derde en laaste aflewering oor die droogtetoestand in die Wes-Kaap, word gefokus op wat die toekoms kan inhou, maar ook deur na die verlede te kyk.

Verskillende weerdienste en landbouweerkundiges het reeds voorspellings gemaak oor hoe die reënval hierdie winter in die Wes-Kaap sou verloop. Elke wintermaand sou reeds vanjaar volgens minstens een deskundige ’n bogemiddelde reënval oplewer, terwyl ander die teenoorgestelde voorspel het. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het onlangs voorspel dat die Wes-Kaap later die winter bogemiddelde reënval te wagte kan wees. Dit is in pas met projeksies wat reeds in die verlede gedoen is vir wanneer die verwagte klimaatsverandering sy tentakels sou begin inslaan.

Dit is besonder moeilik om op die langer termyn vir die Wes-Kaap die weer te voorspel, omdat dié provinsie se reënval nie, soos die binnelandse provinsies, aan die El Nino en verwante stelsels gekoppel is nie. Boonop beleef verskeie Afrikalande, soos Etiopië, Somalië en Madagaskar nou ook knellende droogtes. In sommige gevalle word die frekwensie van hierdie droogtes ook aan klimaatsverandering toegeskryf.

Klimaatsveranderings in die Wes-Kaap en die omgewing is nie ’n nuwe verskynsel nie. Argeoloë ondersoek byvoorbeeld hoe menslike aanpassings in die verlede tydens droër periodes oorlewing vergemaklik het, en selfs improvisasies gestimuleer het wat tot nuwe uitvindings gelei het.

Studies het egter daarop gedui dat die klimaaatsveranderings die Wes-Kaap eers van 2030 tot 2050 sou affekteer. Dit het egter skynbaar gouer toegeslaan, en die beplanning in ’n warboel gewerp, en het die geskarrel om planne in werking te stel tot gevolg wat nou gesien word.

Hierdie droër winters tree in as die vogdraende fronte wat van die 40-50ste breedtegraad na die Wes-Kaap beweeg, suidwaarts beweeg. Die impak word veral in die vroeë en middel van die winter gevoel. Destyds is voorspel dat daar dan ’n toename in reënval in die oostelike kusstreke, sowel as die binneland sou wees.

Die bekende Clem Sunter skryf, aan die hand van syfers waartoe hy toegang gehad het, dat daar nou ’n 45% kans is dat die droogte die Wes-Kaap in ’n posisie van uiterste maatreëls en grootskaalse ontwrigting gaan dompel. Dit is die scenario wat die hoogste persentasie kry.

Ampsdraers van die stad Kaapstad verwys gereeld daarna dat klimaatsverandering reeds begin intree het – ’n paar jaar vroeër as wat verwag is – en dat die provinsie en stad nou die gevolge dra van dié klimaatsverandering. Dr. Kobus Olckers, bekende sonkundige van Florida in die VSA en gereelde deelnemer aan die program, Sterre en Planete, wys daarop dat die son nou op die oog af in ’n periode van son-minimum inbeweeg, en dat sommige kosmo-klimatoloë selfs ’n lang, koeler tydperk vir die aarde voorspel. Dit beteken nie noodwendig dat dit koeler eerder as warmer gaan word nie, maar dat die verwagte styging in temperatuur as gevolg van aardverwarming sowat 1,3 grade minder kan wees – vir solank die son-minimum hou. Olckers wys egter daarop dat die proses van aardverwarming volgens talle aanduidings ’n momentum van sy eie gekry het, en die koeler toestande heeltemal kan oorheers. Groot hoeveelhede metaangas word nou uit die smeltende ys op die pole vrygestel. Metaangas is ’n baie meer effektiewe broeikas-gas as koolsuurgas. Boonop begin alge op die warmer ys groei, wat verhinder dat weerkaatsing soos normaalweg plaasvind, en die ys nog warmer word en vinniger smelt. Die smeltende ys veroorsaak ook talle ligte aardtrillings wat die ys brosser maak en nóg vinniger laat verweer.

En selfs al is daar danksy ’n minder aktiewe son ’n bietjie koeler weer, beteken dit nie noodwendig meer reënval nie.

Ander faktore wat die klimaat kan beïnvloed is wisselinge van die aarde om sy rotasie-as, en afwykings in sy baan om die son. Só het argeoloë pas 46 paleo-mere in ’n gedeelte van die woestyn van Saoedi-Arabië opgespoor, en ook klipwerktuie en fossiele in die bodems gekry. Dit blyk dat die Arabiese woestyn in die verlede natter tydperke beleef het wanneer die aarde siklies op sy rotasie-as geskuif het, wat die moesonreëns in staat gestel het om dié gebiede te bereik. Die studies toon egter dat dit nie onlangs gebeur het nie, en die projeksies dui daarop dat dit nie gou weer sal gebeur nie. Wat die Wes-Kaap betref, het die sogenaamde “Agulhaslek” (wanneer warmer water van die Agulhasstroom in die koue Benguela beland) ook ’n impak op die klimaaat. Dit het byvoorbeeld in die verlede tot die opklaar van ystydperke in Europa bygedra, en word ook onregstreeks gekoppel aan die uitwerking van die aarde se rotasie om sy as. Dit word onder meer bepaal deur navorsingskepe wat plankton van die Indiese Oseaan in “bane” in die Benguela opspoor.

Omvattende toekomsbeplanning, en geen tekort aan improvisasie nie, is dus noodsaaklik. Instansies het reeds kursusse begin aanbied om op die beste aanpassings aan besproeiingstegnieke aandag te gee.

Dit is duidelik dat die landbou en die dorpe en stede nie langer kan bekostig om om dieselfde waterbronne te moet meeding soos nou die geval is nie. Kaapstad is reeds omvattend besig om te kyk na alternatiewe waterbronne, waaronder die see. Ontsoutingsplanne is op dreef, maar moet ook by beskikbare fondse kan bly. Ontsouting word deur innovasie elke jaar sowat 5% goedkoper, maar in lande waar elektrisiteit duur is, bly die bekostigbaarheid van ontsouting ’n probleem. Daar kan egter verwag word dat Kaapstad en ander kusstede en nedersettings mettertyd al hoe meer van ontsouting gebruik sal moet maak weens die onbeperkte beskikbaarheid van die bron, terwyl ander bronne toenemend vir voedselsekerheid, en die verdien van buitelandse valuta opgeëis sal word.

Aquafir of waterklip-benutting kan plek-plek weer die stad se oorlewingspotensiaal verleng, maar dié bron sal waarskynlik binnekort ook primêr tot die landbou en nedersettings ver van die see se beskikking gestel moet word.

Groot veranderings lê vir almal voor.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

John ·

Dit is duidelik dat mense nie glo dat die Hemelvader in beheer van sy heelal is nie. Ons, die mens, is die baas oor die gang van sake op aarde en ons voorspellings dui die gang van sake aan. As ons wetenskaplikes se dit gaan droog wees, moet die Vader luister… Aai tog…

Eish ·

Voorwaar n treurmare wat voorlê vir die Wes Kaap. Ek wonder onwillekeurig of daar enige bystand van die sentrale regering se kant gaan wees vanweë die ideologiese verskille. Dan verder of ons regering hoegenaamd oor die kapasiteit beskik om n probleem van die omvang aan te spreek. Tot op hede was beriggewing slegs tov insette op provinsiale vlak en die van die stad Kaapstad.

Renier ·

Ek boer in die Olifantsrivier vallei by Koekenaap en ons is afhanklik van die Clanwilliam dam wat tans net 28% water het teenoor laas jaar die tyd 100%. As ek na die geskiedenis kyk kan ons nie op die regering staatmaak nie. As daar nie n verandering gou kom nie gaan hier n ongekende ramp hom afspeel. Net ons hemelse vader kan die situasie omkeer. Ons kyk maar na bo, waar anders.

Twilight ·

Wat hulle nie sê nie is hoeveel water gebruik was met die onnodige brande wat die Kaap geteister het…..water wat vir die mense se gebruik belangriker is.

Hoeveel galone water is daar gebruik?

jaco ·

nou verstaan ek die rede vir die brande. daars mos juis n paar keer gese mense in ANC en EFF t-hemde is opgemerk op plekke waar brande later ontstaan het. Hulle stig brande op groot skaal sodat skaars water daarop gemors kan word. later kom daar dan n regte waterkrisis en as een watervragmotor in Constantia opgemerk word en nie in Gugulethu nie, is daar opstande, beskuldigings van rassisme en alle hel breek los, gevolg deur die nasionale ANC regering wat die Wes-Kaap se regering ontbind en dan die Wes-Kaap direk beheer.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.