Gaan doen gerus gevorderde bestuurkursus

Die instrukteurs skep noodsituasies in ʼn gekontroleerde omgewing. (Foto: Brendon Staniforth)

Ek bestuur al so naastenby 23 jaar lank. Ek was bevoorreg genoeg om nog nooit in ʼn groot botsing betrokke te wees waar ek self bestuur het nie. Ek het al drie klein bufferstampies gehad wanneer die verkeer wegtrek en dan weer nie wegtrek nie – asook talle noue ontkomings.

Ek is oortuig daarvan dat die noue ontkomings nie in groot moleste ontaard het nie te danke is aan die paar gevorderde bestuurskursusse wat ek al agter die blad het.

Hoekom? Dis eenvoudig.

Die instrukteurs skep noodsituasies in ʼn gekontroleerde omgewing en leer jou dan wat die motor kan doen, hoe om op nuwe veiligheidstelsels staat te maak en dit tot jou voordeel te gebruik.

Dit is fantasties as ʼn mens vir die eerste keer teen 80 km/h ʼn vol noodstop tussen die kegels doen sonder om een om te ry en te voel hoe die ABS-remme die voertuig toelaat om te draai met vol remme en dus die hindernis te vermy.

Natuurlik wou almal so gou moontlik op die glybaan kom. (Foto: Brendon Staniforth)

Ons was onlangs weer vir ʼn verfrissingskursus by Jaguar Land Rover Experience in Lonehill, Johannesburg. Dit is ʼn puik fasiliteit wat Jaguar Land Rover Suid-Afrika gebou het om sy produkte ten toon te stel en waar klante en toekomstige klante sy produkte op die verskillende bane op die proef kan stel. Aan die Jaguar-kant is daar al die dinamiese hanteringsbane en aan die Land Rover-kant al die 4×4-hindernisbane.

Natuurlik wou almal so gou moontlik op die glybaan (skidpan) kom om hul glyren (drifting)-vermoëns te wys. Wel, bitter min mense het eintlik uitsonderlike glyren-vermoëns. Ek inkluis. Ek kan ʼn reusewieltol verhoed en elke nou en dan kan ek een volle ronde van die baan doen met die boude wat mooi uitswaai, maar elke motorjoernalis se droom van honderde konsentriese sirkels óm en óm… Nee wat, daai is ʼn kuns wat jare se oefening en ʼn reuse-bandbord verg.

As mense my vra of hulle só ʼn kursus moet bywoon is my antwoord altyd: Absoluut.

(Foto: Brendon Staniforth)

Dit kan duur raak, maar baie versekeringsmaatskappye gee korting op jou premie indien jy die sertifikaat vir hulle stuur.

Ek glo ook vas ʼn groot faktor wat tot noodlottige ongelukke bydra, is benoude bestuurders wat paniekbevange verkeerd in stresvolle situasies optree. Gevorderde bestuurskursusse is puik om dié benoudheid te voorkom.

Jaguar Land Rover bied verskeie kursusse in Johannesburg en Kaapstad aan. Loer gerus hier vir meer inligting oor Jaguar se aanbiedings by die Jaguar Land Rover Experience Centre in Johannesburg en hier vir Land Rover s’n.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Joe Olivier ·

Ek stem saam Brendon. Ek het jare terug ‘n gevorderde bestuurskursus deur BMW op Kayalami gedoen. Die vermoë om proaktief te bestuur het my al in baie situasies gered en baie strykwerk aan die kar gespaar.

Duck ·

Wat help dit jy spandeer duisende rande aan gevorderde bestuur kursusse en die idiote langs, agter jou het hul lisensies by Pepstores gekry? Ten minste kan jy iets wat voor jou gebeur afweer.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ja nee. Dit is altyd ‘n tameletjie. Gevorderde bestuurskursusse leer jou ook om vir ander bestuurders te dink soos daai waarvan jy praat.

Tanniepetoors ·

Ek het ook lank terug deur BMW n gevorderde bestuurskursus gedoen. Dit het my menigmaal al in netelige situasies gehelp. Ek het baie lang afstande gery en Kaapstad, Johannesburg en Pretoria se stadsverkeer is nou nie elke dag ‘n plesierrit nie. My versekeringsmaatskappy het verlede jaar vir die eerste keer in amper dertig jaar ‘n eis moes betaal. Ek moet erken, dit was my fout. My voertuig het geen skade gehad nie, maar die arme klein karretjie wat met die trekstang op my voertuig kennis gemaak het se plastiek buffer het minder goed gelyk.
Gaan doen maar daardie gevorderde bestuurkursus. Jy sal nooit spyt wees nie.

JohanR ·

Kyk ek verkeerd, of het ek brulle nodig. Waar doen jy die kursus in Kaapstad? Teen vandag se kar pryse, sal die seker my enigste kans ooit wees om in ‘n Jaguar of Land Rover in te klim!

Mad Mike die Rhodesiër ·

Google dit. Of klik die skakel na die webwerf. Ek dink hulle is in die Waterfront.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Ditsem! Ek het ook gevorderde bestuurskursusse gedoen toe ek jare terug vir Team Gunston in SA kom jaag het. Dit het my ook gehelp toe ek ‘n streekresiesjaer was, die “Roof of Africa” gejaag het en later ‘n busbestuurder was. Ek kan bevestig dat ek nog nooit in ‘n ongeluk was in my 52 jaar van bestuur nie. Ek het selfs ‘n “blowout” oorleef. Op ‘n stadium ‘n hartaanval agter die stuur gehad. Ek kon die voertuig stop en aftrek voor ek my bewussyn verloor het. Dis die laaste wat ek van daardie dag onthou – die volgende is dat ek wakker word in intensief in Paardekraal Hospitaal, Krugersdorp. Daar was blykbaar ‘n dokter agter my wat gesien het wat gebeur het. Na daardie voorval ry ek nou net in noodgevalle, maar die kennis is steeds in my stelsel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.