Gaan e-tol geskrap word?

e-toll

(Argieffoto)

Daar sal na verwagting Woensdag meer bekend gemaak word oor die lot van die omstrede e-tolstelsel op Gautengse hoofweë.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Maandag tydens ’n mediakonferensie gesê ’n aankondiging oor die gewraakte stelsel sal Woensdag deur Enoch Godongwana, minister van finansies, tydens sy mediumtermynbegrotingsraamwerk gedoen word.

Dit kom nadat Mbalula in die verlede al verskeie beloftes gemaak het rakende ’n aankondiging oor die stelsel waarvan daar niks verder gekom het nie.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) meen die regering kan nie langer uitstel om ’n amptelike aankondiging hieroor te doen nie.

Die betaling van e-tol vir die Gautengse snelwegverbeteringsprojek is sedert dit in 2013 bekendgestel is, ’n omstrede kwessie met baie motoriste in die provinsie wat weier om daarvoor te betaal.

Die AA het in Augustus ’n petisie van stapel gestuur en ’n beroep op motoriste gedoen om hul ongelukkigheid met die e-tolstelsel te kenne te gee. Meer as 20 000 mense het reeds die petisie onderteken. Dit is aan Mbalula en Godongwana gestuur.

“Die voldoeningskoers vir e-tolbetalings is reeds onder 20%, met Gautengse motoriste wat reeds hul standpunt aan die regering duidelik gemaak het,” het die AA gesê. “Dit is egter nou tyd dat die regering ’n amptelike verklaring uitreik oor hul standpunt oor e-tol en die provinsie se burgers die versekering gee dat hy die stelsel sal skrap en nie enige skulde wat verskuldig is, sal najaag nie.”

Benewens die kansellasie van ou skuld, moet alle geld wat tot dusver ingevorder is, terugbetaal word, meen die AA.

“Slegs ’n besluit om die stelsel te skrap sal vir burgers aanvaarbaar wees, en dit moet nou gedoen word. Versuim om dit te doen, sal mense se houding teenoor e-tol verder verhard en sal in elk geval lei tot ’n verdere afname in voldoeningsvlakke. ’n Besluit om die stelsel te skrap sal ook aandui dat die regering luister na die mense wat hy behoort te dien wat al jare lank uitgesproke is oor hul opposisie hierteen. Om nie e-tol in Gauteng te skrap nie, het die bykomende gevolg dat die publiek, wat reeds geteister word deur elektrisiteitsonderbrekings, waterbeperkings, stygende brandstofkoste en stygende inflasie, verder vervreem sal word.”

Daar is reeds groot druk op verbruikers se beursies en hulle kan eenvoudig nie ’n reddingsboei vir die regering verskaf vir ’n situasie wat hulle gewaarsku het sou misluk nie.

“Om nou met die stelsel voort te gaan, sal ’n boodskap stuur van ’n regering wat nie omgee vir die finansiële krisisse van sy mense nie, en ook nie dat hy enigiets doen om daardie uitdagings te versag nie. Minister Godongwana het nou ’n perfekte geleentheid om aan te dui dat dit nie die geval is nie en om hierdie stelsel finaal te skrap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Grassie ·

Dit is vir my moeilik om ‘n mening oor tolpaaie te vorm. Dit is nog die enigste paaie in die land wat in ‘n goeie bruikbare toestand is. Die ander paaie, wat deur die provinsiale of nasionae ANC-regering in standnd gehou moet word is swak, vol slaggate gevaarlik om te gebruik omdat daardie kaders die geld wat vir instandhouding begroot word, elders gaan blaas.

Kirst ·

Ons R-roetes (die provinsiale paaie) in die Wes-Kaap word goed onderhou en opgegradeer sonder enige tolgeld.

Gaitsigubib ·

Grassie etol is net nog n manier om mense te verder te belas. As hulle dit kon doen soos hulle wou, dan het hulle dit net van jou lisensie gelde verhaal, maar OUTA het hulle gestop. Die BEE vernote het amper naar geword want hulle wou fabelagtige bedrae geld skep tot in lengte van dae. Mens kan en mag nie instem vir so iets nie. Daar is afmerkers wat dit nie verstaan nie. Jy sal die gieriges nooit kan stop as almal nie aan boord kom nie.

Gaitsigubib ·

Daar was niks verkeerd met die pad voor die tolpad nie. As die tolhekke slaag, gaan nog baie volg en die verval op ander paaie vererger, want daat is dan mos n gerieflike verskoning, “bou n tolpad”. Mens moet hande vat en hierdie euwel smoor voor dit vlam vat.

Snowball ·

Grassie die R21 tolpad in Gauteng voel plek-plek soos ‘n grondpad in die heel regterkantste baan. Allesbehalwe onderhou. En ‘n magdom klippies en gemors wat gereeld opspat en windskerms verwoes.

Snowball ·

Dan is al die ‘gantries’ waaronder ek elke dag op die R21 deurry seker my verbeelding.

Andre ·

Dit sal baie beter waarde bied om dit te gebruik vir bekamping van misdaad.

Pietertjie ·

E-tol kan nie sommer geskrap word sonder om eers ‘n “skoon blaadjie” te skep nie, en dís onmoontlik: óf alle agterstallige heffings moet eers gevorder word sodat daar ‘n nul-balans vir alle motoriste is, óf alle gelde wat tot dusver gevorder is moet terugbetaal word, óf die owerhede moet met goedkeuring van die betalers die nie-betalers se skuld afskryf. Good luck!

domheks ·

Goed en wel – maar vertel my of die TAXI’s betaal het. NEE – hulle was kwytgeskeld. Die land met sy 2 stelle reels is skandelik!

Pierre ·

Die volgende gaan moontlik gebeer
1. Uitstel tot na verkiesing met baie beloftes dat hulle daaraan werk.
2. Vervoer belasting sal gehef word wat verskeie vorme kan aanneem soos brandstof heffing, lisensie geld verhogings of additionele belasting
3. of n kombinasie van alles.

Johan ·

Jy is verkeerd, hul moet eers die zero balans kry. Die wat reeds betaal het terugbetaal of die ander invorder…hulle is “gescrew”.

Sandra ·

Ek dink dit is ‘n goeie idee om dit te skrap. Want in realiteit, wie betaal ooit hul etol gelde? Ek dink as hulle voortgaan met dit, gaan dit ‘n logistieke nagmerrie wees.

SjN ·

Moes in die eerste plek nie ingestel en opgerig gewees het nie, die betrokke kaders het gedeel in die tender bedrog.

Wielspore ·

In ons omgewing is TrackN4 die konsessie houer van die N4 roete vanaf PTA tot by Maputu (Nee Komatipoort) en is veronderstel om die pad in stand te hou en die veiligheid van gebruikers te verseker. Tolgeld is baie hoog op die roete en as daar op TrackN4 se webtuiste gekyk word borg hulle heelwat nie verwante sosiale geleenthede op tolgeld. Ons betaal alreeds ‘n brandstof heffing om ons land se paaie in stand te hou, daar behoort geen tolgeld in SA gehef te word.

JohanR ·

Vlugte is nou duur, maar ek sal kom met my 400 pond hamer en hulp om daai vuilegoed af te breek! Jy sit Tolls op hoof paaie nie binne ‘n stad gebied(inner city) nie.

Lillian ·

Of hulle dit nou skrap of nie, iewers gaan ons weer hoes vir hul dwase besluit om dié stelsel aan te koop, want iemand moet daarvoor opdok, terwyl die taxis en busse gratis en verniet ons paaie gedaan ry!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.