Gaan Gigaba se kop rol?

malusi-gigaba-ANA

Malusi Gigaba, minister van finansies. Foto: ANA

Malusi Gigaba, minister van finansies, se dae is dalk getel.

Dit is tans ʼn groot besprekingspunt in sakekringe, onder ekonome en vakbondleiers.

Die rede hiervoor is dat Gigaba waarskynlik onder die vergrootglas sal kom wanneer die kommissie van ondersoek na staatskaping met sy werksaamhede begin. Daar is verlede jaar berig dat staatskaping op dreef gekom het die dag toe Gigaba die eerste keer in die kabinet aangestel is. Hy was voorheen minister van binnelandse sake en minister van openbare ondernemings.

Dennis George, hoofsekretaris van Fedusa, sê Cyril Ramaphosa, nuwe president van die ANC, het vroeër gesê hy wil ʼn skoon regering hê. “Hy het ook aangedui dat hy ʼn persoon in finansies soek wat skoon regering nastreef en sal opstaan teen ministers en departemente wat op hul begrotings oorbestee.”

Volgens George kan die staatskapingkommissie vir Gigaba polities swak laat. Hy voeg by dat Gigaba sedert sy aanstelling as minister van finansies gesukkel het om kop bo water te hou.

In die ANC-kringe word verwag dat nie net Gigaba se kop kan rol nie. Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, en Mosebenzi Zwane, minister van minerale hulpbronne, is glo ook in die spervuur. Brown oor die swak staat waarin openbare ondernemings soos Eskom, Denel en Transnet hulle bevind; Zwane oor sy botsings met die mynbousektor oor die nuwe Mynbou-manifes.

George sê dit is alles faktore wat buitelandse beleggers van die land laat afsien en die rand geknou het. Dit sal dus positief wees om van die sogenaamde Zuma-vertrouelinge ontslae te raak.

Sedert die 2014-verkiesing het Suid-Afrika drie ministers van finansies gehad. Nhlanhla Nene wat in Desember 2015 gepos is, Pravin Gordhan wat in Maart verlede jaar afgedank is en Gigaba wat Gordhan  vervang het.

George wys daarop dat Luthuli-huis baie gou sy spiere teenoor die Uniegebou sal bult.

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens. Foto: Flickr/GovernmentZA

Mike Schussler, hoofekonoom by economists.co.za, meen Gibaba, Zuma en vele ander se koppe sal ná die begrotingsrede rol.

Hy sê daar is druk op Suid-Afrika om sy huis in orde te kry. En die tyd daarvoor is baie beperk, waarsku hy.

Schussler sê Gigaba sal moet waai aangesien die Nasionale Tesourie ʼn ander rigting onder hom ingeslaan het. Nog ʼn bron van kommer is wanadministrasie by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

‘’Dit is nie net ministers wat die trekpas kan kry nie. Top-staatsamptenare soos SAID-hoof Tom Moyane is ook ʼn moontlike teiken vir ʼn skoonmaak-aksie,’’ sê Schussler.

Die rede hoekom daar moontlik tot ná die begrotingsrede gewag sal word, is om nie nou onstuimigheid op die markte toe te laat nie.

“Dit kan groter onsekerheid meebring, veral indien dit tot ʼn openbare bekgeveg sal lei,” sê Schussler.

Sowel Schussler as George glo dat Mcebisi Jonas die sterk gunsteling is om Gigaba op te volg. Hy was voorheen adjunkminister van finansies onder Nene en Gordhan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

apie ·

klink tog of dinge positief draai. en dit na ek nou laasnag heelnag in my kop ge-emigreer het. :)

AJ ·

Moenie vergeet van die “Weekend-special” Minister an Finansies, Des van Rooyen nie.

snoefie ·

dit was groot skoene om vol te staan en gigaba het eenvoudig nie wat dit vat nie.

Bernard Hellberg ·

Gigaba is die enigste winkelpop wat nog heel is?

Liamari ·

Beslis JA vir Mnr Jonas vir minister van finansies. Hulle kan selfs vir Nene terugbring. Albei het bewys dat hulle teen korrupsie sal opstaan en het groot bedrae omkoop geld van die hand gewys….

Nico K ·

Ek glo soos die mense gaan besef dat bande met Zuma hulle nie meer gaan help nie gaan sy vriende vinnig minder word.

christa ·

Ja Gigaba Jy is nog seuntjie jy gaan nie reg kom nie glo nie vir daai job nie Die Wiel begin nou draai vir dit wat hul aan Gordan en Nene gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.