Gamsberg: Gedenkdiens vir mynwerker

Melvin Saal is in die grondverskuiwing dood. (Foto: Facebook)

Vedanta Zinc International gaan meer as twee weke na ʼn rotsstorting by sy Gamsberg-sinkmyn steeds voort met pogings om ʼn vermiste mynwerker op te spoor.

Die mynwerker word nou reeds meer as twee weke lank vermis nadat ʼn geotegniese fout op 17 November voorgekom het. ʼn Geotegniese voorval word beskryf as ʼn ongeluk wat gewoonlik voorkom weens skade aan ondergrondse uitgrawings.

Agt mynwerkers is dieselfde dag reeds na veiligheid gebring terwyl die liggaam van Melvin Saal sowat twee dae later uit die skag na die oppervlak gebring is.

ʼn Dag van herinnering is Vrydag vir Saal gehou.

“Ons is diep bedroef deur sy heengaan. Dit is duidelik dat mnr. Saal nie net ʼn indruk op die mynspan gemaak het nie, maar ook op die mynbedryf. Hy sal werklik gemis word,” het Pieter van Greunen, algemene bestuurder van bedrywighede by Gamsberg, gesê.

“Ons gedagtes en gebede is by sy geliefdes. Mag hulle die krag vind om mekaar in hierdie moeilike tyd te ondersteun.”

Alle mynboubedrywighede by die Gamsberg-sinkmyn is na die voorval tot verdere kennisgewing gestaak.

Die redding-en-herwinningsoperasie duur intussen voort en die eerste vragte materiaal wat gebruik gaan word om ʼn toegangsoprit na die gebied te bou, het reeds aangekom.

Die mynmaatskappy sê radarstelsels word steeds in die gebied ingespan om enige verdere beweging dop te hou.

Reddingswerkers werk so vinnig as moontlik sonder om die veiligheid van spanne in die gedrang te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

johanf ·

My innige simpatie met die famile, en agtergeblewendes…..

Tanniepetoors ·

Lees ek verkeerd of is daar steeds een mynwerker wat vermis word?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.