Gamsberg: Onstabiliteit bemoeilik reddingspoging

Die Gamsberg-sinkmyn (Foto: Vedanta Zinc International)

Die soektog na die vermiste mynwerker by die Gamsberg-sinkmyn in die Noord-Kaap duur voort.

ʼn Span geotegniese ingenieurs, mynbou-ingenieurs en ander kundiges het intussen voorgestel dat steierwerk gebou word om veilige toegang tot dié gedeeltes te gee wat deur verlede week se rotsstorting by die westelike gedeelte van die suidelike skag van die sinkmyn geraak is.

Vedanta Zinc International het Donderdagaand gesê die stabiliteit van die wal van die skag word in dié stadium met radartegnologie gemonitor. Enige verdere onstabiliteit in die grond hou ʼn groot gevaar vir reddingswerkers in.

Die mynmaatskappy sal nou met voorbereiding begin vir die oprigting van die steierwerk bo-op die oppervlak wat vroeër meegegee het en sê alles moontlik word gedoen om die veiligheid van werkers te verseker.

Die mynwerker word nou reeds meer as ʼn week lank vermis nadat ʼn geotegniese fout verlede Dinsdag by die myn voorgekom het. ʼn Geotegniese voorval word beskryf as ʼn ongeluk wat gewoonlik voorkom weens skade aan ondergrondse uitgrawings.

Agt mynwerkers is dieselfde dag reeds na veiligheid gebring terwyl die liggaam van nog ’n mynwerker Donderdag uit die skag na die oppervlak gebring is.

Alle mynboubedrywighede by die Gamsberg-sinkmyn is tot verdere kennisgewing gestaak.

Reuters het verlede week berig die sluiting van die myn het die prys van sink, die vierde mees gebruikte metaal op die Londense metaalbeurs, die hoogte laat inskiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Plaaskind

Tragies. Ek hoop werklik hulle kry hom, die kans dat hy leef is skraal, maar dan kan sy geliefdes darem afskeid neem.