‘Gangster State’-bespreking by UV gaan nou wél voort

Pieter-Louis Myburgh, skrywer van die boek Gangster State. (Foto: Courtney Africa/ANA)

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) sê ʼn paneelbespreking oor die skrywer Pieter-Louis Myburgh se omstrede boek Gangster State gaan Donderdag wél voort.

Die bespreking is aanvanklik op aanbeveling van die UV se veiligheidsdepartement gekanselleer, ʼn besluit wat groot kritiek ontlok het. Penguin Random House (PRH), uitgewer van die boek, het verlede week in reaksie gesê dit is die universiteit se plig om op te staan vir vryheid van spraak. Die geleentheid is boonop gekanselleer sonder om Myburgh óf die uitgewer in te lig.

“PRH is baie bly en verlig dat die bespreking by UV voortgaan,” het Surita Joubert, ʼn senior publisiteitsbestuurder by die uitgewer, vanoggend aan Maroela Media gesê.

Die UV sê sy uitvoerende bestuur het die besluit heroorweeg. “Die bestuur het gevoel die platform vir intellektuele debat en gesprek, saam met die beginsels van akademiese vryheid en vryheid van spraak, moet eerbiedig word en daarom is aanbeveel dat die UV Sakeskool voortgaan met die boekbespreking,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

“Die universiteit wil verder benadruk dat vryheid van spraak nie onbegrens is nie en binne ʼn spesifieke konteks gesien moet word. Die universiteit verwelkom en waardeer die feit dat mnr. Myburgh ingestem het om met die boekbespreking voort te gaan,” het die universiteit gesê.

Ace Magashule, die ANC se sekretaris-generaal en ʼn voormalige Vrystaatse premier, is die onderwerp van Myburgh se boek, Gangster State: Unravelling Ace Magashule’s Web of Capture. Die boek bevat verskeie skokonthullings oor Magashule, ʼn man wat deur baie mense as Suid-Afrika se gevaarlikste politikus beskryf word.

Verlede maand is ʼn bekendstelling van die boek by ʼn geleentheid in Sandton ontwrig toe ʼn groep mense, geklee in ANC-T-hemde, die plek bestorm en die bekendstelling ontwrig het.

Magashule se ondersteuners in die Vrystaat het later planne laat vaar om eksemplare van die boek op ʼn vullishoop in Bloemfontein te verbrand, nadat ANC-ringkoppe by Luthuli-huis ingegryp en die voorneme veroordeel het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bonita ·

Deel hierdie boek met die “afvaardiging” wat kom van America vir ons president se groot indulging. Hul sal die boek verstaan. ..EN geniet!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.