ʼn Taxidrywer en ʼn paramedikus het Maandag twee kolganse en hul kuikens van ʼn gewisse dood gered toe hulle op die N1-snelweg in Johannesburg vasgekeer geraak het.
Volgens Max Cohen, woordvoerder van Emer-G-Med en die paramedikus wat saam met die taxidrywer, Leonard Tshabalala, tot die gansfamilie se redding gekom het, was paramedici van dié nooddienste op bystand by die BP-vulstasie naby Montecasino in Fourways.
ʼn Motoris wat “byna in trane was” het die bemanning ingelig dat die eende in die vinnige baan van die N1-Noord naby die William Nicolweg-afrit vasgekeer is.
Die bemanning het Emer-G-Med se beheerkamer ingelig en Cohen het na die toneel gehaas.
“Die taxibestuurder [Tshabalala] het in die noodbaan van die snelweg stilgehou en benoud rondgehardloop om die eende buite gevaar te hou deur hulle naby die regterkantse skouer van die snelweg te hou,” het Cohen gesê.
Cohen het verkeer met sy noodvoertuig gestop en Tshabalala gehelp om die twee ganse met hul vyf kuikens na veiligheid te lei.
“Op die skouer van die pad is hulle oor die versperring gelig, waarna hulle dolgelukkig en veilig na die nabygeleë rivier gewaggel het,” het hy gesê.
Cohen het namens Emer-G-Med vir Tshabalala vir sy braafheid en deernis bedank.
- Die ganse op die snelweg. Foto: Emer-G-Med
- Die kolganse waggel na veiligheid. Foto: Emer-G-Med
- Maxwell Cohen en Leonard Tshabalala.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
26 Kommentare
Baie mooi julle het goed gedoen bly daar is nog mense soos julle dit maak my dag dankie
Ag dis nou ‘n oulike lekker-kry storie!
ag my hel hier sit ek nou met trane in my oe en lees dit ek is so dankbaar vir julle 2 se goedheid baie dankie julle!!
Mooi so aan julle. Dis daardie einste versperrings wat dig teen mekaar damme water veroorsaak het met die oorstromings. Dalk, net dalk, sal iemand nou wakker word om gate te voorsien tydens vervaardiging.
Duisend dankies Ouens, julle onbaatsugtige hulp word baie waardeer. Te oulik die gansies!!!