Gapings in verslag waarop alkoholverbod berus

(Foto: A Gorman Photography/Facebook)

ʼn Onafhanklike ontleding van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) se verslag waarop die voortgesette verbod op die verkoop van alkohol berus, het verskeie beperkings in die verslag uitgewys wat nou al hoe meer vrae oor die navorsing laat ontstaan.

Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryfkoalisie sê die MNR se verslag getiteld “Impact of alcohol on health services in South Africa” is saam met ander navorsing op 15 Julie aan die nasionale koronavirus-bevelsraad voorgelê.

Die verslag het ʼn ooreenkoms getref tussen die getal trauma-hospitaalopnames ná ʼn hipotetiese verbod op alkoholverkope in vlak 3 van die afsonderingstydperk en voer aan daar is ʼn beduidende verband tussen hospitaalopnames en drankverkope.

Die drankbedryf het egter ʼn onafhanklike hersiening van die verslag en die data wat hy daarvoor gebruik het, laat doen. Waar die oorspronklike verslag aangevoer het ʼn verbod hou groot voordeel in vir die openbare gesondheidsorgstelsel, het die hersiening verskeie ontwerp- en statistiese beperkinge uitgewys wat verband hou met die gebrek aan omvattende data wat voorgelê is.

Die verslag het bevind dat ʼn verbod op alkohol hospitaalopnames in Suid-Afrika aansienlik gaan laat afneem en beddens beskikbaar gaan stel vir die behandeling van Covid-19-pasiënte. Dit sou volgens die verslag lei tot 49 550 minder opnames oor ʼn tydperk van agt weke. Die vermindering in trauma-opnames sal ook gepaard gaan met minder oorbevolking in hospitale, wat weer kan verband hou met die oordrag van die virus tussen pasiënte en medici in ongevalle-eenhede. Indien die verbod nie geld nie, het die verslag bevind, gaan daar minder beskikbare hulpbronne, medici en beddens vir Covid-19-pasiënte wees.

“Die hersiening het bevind omdat die data wat tydens die modellering gebruik is onvolledig is, dit moeilik is om die omvang van die verband tussen trauma-opnames en alkoholmisbruik vas te stel. Die grootste rede hiervoor is omdat die oorsaak van elke traumageval tydens hospitaalopname nie in die verslag aangedui word nie.

(Argieffoto: Unsplash)

“Daar is geen inligting oor die kwessie of die traumagevalle met drankgebruik verband hou of deur enigiets anders veroorsaak is nie. Die model kan moontlik die totale getal moontlike traumagevalle voorspel, maar dit is onseker wat die strekking van die verhouding tussen alkoholgebruik en die getal opnames in Suid-Afrikaanse hospitale is,” het die koalisie gesê.

Van die data was gebruik is, is boonop tot 20 jaar oud. Om die getal trauma-gevalle by hospitale in 2020 te bepaal, is dit met bevolkingsgroei vermeerder.

Die oorspronklike navorsingsverslag het boonop self toegegee dat die verminderde getal traumavoorvalle wat aanvanklik tydens die afsonderingstydperk (toe ʼn alkoholverbod die eerste keer ingestel is) aangemeld is, aan faktore soos beperkte beweging, werk, oefening en minder voertuie op die paaie toegeskryf kan word.

Die koalisie stem saam dit is uiters belangrik dat die verspreiding van Covid-19 die prioriteit moet wees, maar gegewe die beskikbare data is dit moeilik om die werklike verband tussen drankverkope en traumagevalle te bepaal.

“Ons doen ʼn beroep op die regering om kennis te neem van die onafhanklike hersiening van die MNR se verslag en die beperkings met die data en om met die bedryf te praat om ʼn dringende oplossing vir die ophef van die verbod op alkoholverkope te vind,” het Sibani Mngadi, namens die bedryf, gesê.

“Dit gaan die bedryf toelaat om weer onder ʼn mate van normaliteit te funksioneer.”

Die drankbedryf is verantwoordelik vir nagenoeg een miljoen werksgeleenthede deur die waardeketting. Talle kleinsake-eienaars in die bedryf is vroue wat in townships en in landelike gebiede op dié manier ʼn inkomste verdien. Die verbod op die verkoop van drank het duisende mense nou weereens sonder ʼn inkomste gelaat.

Die bedryf glo dringende stappe deur die bevelsraad kan vinnig lewe in die bedryf help blaas en duisende werksgeleenthede red. Weens die verbod gaan reusebedrae belasting boonop vir die staatskas verlore.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Sarel ·

Dit is Magsmisbruik en die skade aan ekonomie dra minder waade.

My Mening ·

Dit het al lankal vir my baie duidelik geword dat meeste van die beperkings niks met ons gesondheid te doen het nie, maar om die Suid Afrikaanse ekonomie te vernietig. Die regering het duidelik sy eie agenda en Suid Afrikaners se welstand is beslis nie een daarvan nie…..

Pieter ·

Die negentiende augustus moet ons almal saam staan en die regering wys ons is nou gat vol gaan kyk op face book na ronel kotze se plan.

Carina ·

As smouse oop en bloot op straat kan loop en sigarette verkoop, sien ek geen rede hoekom ALLE besighede in die drank bedryf nie ook maar kan voortgaan en handel dryf nie. Wynplase, drankwinkels, restaurante – almal moet net eenvoudig oopmaak en begin drank verkoop soos gewoonlik. Van daardie 1miljoen mense wat in die drank- en hospitaliteits bedryf werksaam is, gaan nagenoeg 50% nie meer werk hê teen die tyd dat die belaglike verbod gelig word nie. Gaan die regering vir hulle sorg?? Definitief nie!!
Julle kan nie almal oor dieselfde kam skeer nie. Mense wat restaurante besoek vergryp hulle nie aan drank nie. Mense wat ‘n bottel wyn of 2 koop, drink verantwoordelik by hul huise by ‘n braai of aandete.
Die onwettige sigaret verkope veroorsaak dat die virus nog vinniger versprei (as die virus dan nou julle verskoning is), want die allerbelaglike swartmark pryse veroorsaak dat 1 sigaret tussen mense gedeel word. So wat help dit?

koos10 ·

Nou hoekom sal die regring hulle nou laat stuit deur feite.
Ek het dit al baie gesê, maar gaan dit nog ‘n keer doen. Die regering kondig breinlose “regulasies” wat dadelik van krag is, en dan gebruik hulle die mense se geld (belasting) om die “regulasies” te verdedig in die hof. So ons rokers en drinkers betaal “sonde belasting” en gewone belastings sodat die breinlose regering die geld gebruik om hulle besluite te regverdig. Die maatskappye gebruik die wins, wat ook deur ons betaal is, om in die hof te baklei. Dan as die uitspraak nie in die regering se guns is nie, word ons geld verder gebruik om te appeleer, en tydens die hofsake bly die “regulasies” in plek. Ek sou graag wil sien dat ons howe spoedig to ‘n punt kom, dan ons kan besluit wat om volgende te doen. Ek sou dink dat ‘n belasting boikot of die land afbrand die enigste twee opsies tans is.

Marius ·

Daar is meer as net gapings in die die reels wat die regering opstel . Taxis 100% vol solank die vensters net oop is . Die res van die land kan maar onder gaan ? Is die swak reels in plek gestel om die gaping toe te maak tussen ryk en arm of is dit alles apartheid se skuld ?? Vra maar net .

Oe la la ·

All animals are equal but some are more equal than others…..

Mariana ·

Maw die sogenaamde bevelsraad het weereens oor als gelieg. Magsbeheptes wat hul mag misbruik, als deel van die ANC plan.

Anoniem ·

Die beste van alles is, ons aanvaar dit gedienstig, gedulgig en gedweë.

Michael ·

78% van die mense het in onlangse opname verklaar hulle vertrou die kommunistiese regime en al hul drakoniese regulasies. Die wat daarteen is, is maar ver in die minderheid

Johann ·

Iemand dink tog sekerlik nie Ramaposa en sy Kopdiek Kaders steur hulle aan feite nie? Solank hulle netwerk van magsbehepte vergrypers baat by n situasie, dis die verwysing. Die ANC skep via hulle kaders lekker via die “onwettige” markte. En natuurlik is dit nog n verskoning vir die haglike stand van.ons land se basiese infrakstruktuur…
COVID?????? Die dag voor die uitbraak,was als ok!

Niklaas ·

Het Kopdoek nie alweer ‘n rol te speel met drank in SA wat tot haar voordeel is nie ? Daar is mos sommer baie bewerings wat haar seun se betrokkenheid by sigarette betref .

Charl ·

Ek Weet nie die 20jaar oue data is onverstaanbaar. Die Staat hou net Data en stats vir 5jaar waar na dit vernietig word. Suid-Afrikaanse alkoholbedryfkoalisie wat keer jul om jul deur oop te maak en dan maar self te besluit om alkohol weer te verkoop, hier Is nie genoeg polisie of weermag in die land om julle te keer of toe te sluit nie. Vat hul jul lesensies weg verkoop dan onwetig aangesein dit moes die nuwe tendens is moes in ons land?!

Yvette ·

Almal is gatvol vir die breinlose reels en regulasies. Besighede moet aangaan soos normaal. Daar is beslis nie genoeg polisie krag of plek in die tronke om al die miljoene besigheids mense toe te sluit nie.
CR wil die ekonomie oophou maar in dieselfde asem maak hy die helfte van die ekonomie toe. As hy so besorg is oor Covid en ekonomie gelyk, moes hy die oorsaak van die oorvol trauma eenhede ondersoek het en gesluit het…..shibeens. Dis waar al die geweld begin. As n man sy vrou wil slaan gaan hy slaan met of sonder drank.
Al hierdie breindood bollie wat hulle uitdink is om hul eie onbevoegtheid toe te smeer of hulle is besig met onderduimshede. Hoekom anders grawe hulle 1 miljoen grafte?
Die land is reeds korrup, die medici het tot ‘n totale val gekom en die polisie is……wel…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.