Gareth Cliff-saak: Regspan voer aan kontrak is onwettig beëindig

Gareth Cliff en adv. Dali Mpofu, Cliff se regsverteenwoordiger. Foto: ANA

Gareth Cliff en adv. Dali Mpofu, Cliff se regsverteenwoordiger. Foto: ANA

Gareth Cliff se regspan het Dinsdag in die Suid-Gautengse hooggeregshof aangevoer dat M-Net Cliff se kontrak as beoordelaar vir Idols onwettig beëindig het.

Adv. Dali Mpofu, Cliff se regsverteenwoordiger, het aangevoer dat ʼn kontrak tussen Cliff en M-Net bestaan het totdat Cliff in die rassisme-herrie op sosiale media beland het oor sy twiet oor vryheid van spraak.

“Ek moet dit duidelik maak dat hierdie saak nie gaan oor of Cliff rassisties is of nie. Albei partye stem saam dat hy nie is nie. Die saak is oor die handhawing van ʼn kontraktuele reg,” het Mpofu gesê.

M-Net het in ʼn beëdigde verklaring aangevoer dat die onderhandelinge met Cliff vir die 2016-seisoen nie afgehandel was nie, en daar dus nie ʼn kontrak tussen die twee partye bestaan nie.

Mpofu het egter gesê of ʼn getekende kontrak bestaan of nie, daar was wel ʼn verbale ooreenkoms.

“Natuurlik is dit makliker om te bewys as daar ʼn skriftelike kontrak is. ʼn Verbale of skriftelike kontrak is in albei gevalle bindend deur die wet.”

Hy het ʼn reeks e-posboodskappe in die hof voorgelees waarin M-Net bevestig het wat die datums vir die 2016-seisoen gaan wees. M-Net het ook reëlings deurgegee oor waar Cliff se bemanning geakkommodeer sou word tydens die landwye toer, asook sprake van ʼn 6% verhoging.

“Daar kan geen twyfel wees dat daar ʼn kontrak was en dat dit onwettig beëindig is nie. Die ooreenkoms was daar tot en met die twiet. M-Net het nêrens in sy openbare verklarings of aankondigings melding gemaak dat Cliff een of ander ooreenkoms oortree het wat gelei het dat sy kontrak beëindig is nie. Daar was niks.”

Cliff het die hof genader om te verhoed dat 2016-oudisies die aankomende naweek begin, tensy hy weer in sy pos aangestel word of vergoeding van R25 miljoen vir “onregmatige afdanking en kontrakbreuk” en “naamskending” ontvang.

M-Net het vroeër vandeesmaand aangekondig Cliff gaan nie in vanjaar se seisoen deel van die beoordelaarspaneel wees nie. Volgens berigte volg dié stap nadat Cliff erg op sosiale media deurgeloop het vir uitsprake wat hy oor die Penny Sparrow-debakel gemaak het. Cliff het gesê mense verstaan glad nie vryheid van spraak nie. Hy is uit talle oorde as ʼn rassis uitgekryt en sosialemedia-gebruikers het M-Net versoek om hom van Idols te onttrek. Cliff het reeds om verskoning gevra vir sy uitlatings en rassisme daarin veroordeel.

Die saak duur voort.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Henk ·

Het die SA publiek die ruggraat om teen Mnet op te staan? Kanselleer jou dstv vir die volgende twee maande. Jy gaan dit heelwaarskynlik nooit weer aansit as jy besef jy betaal jou agter ent af om dieselfde gemors wat jy die afgelope 30 jaar kyk oor en oor te kyk!
My WiFi/ADSL konneksie EN intekengeld op ‘n webtuiste is nie eens 40% van dit wat dstv my gekos het nie en ek kan alles en veel meer kyk as wat dstv my gebied het.
Buiten rugby en krieket wat in elk geval in dieselfde toestand is as ons land se politiek.
En het jy al opgemerk dat jy sokker op 5 verskillende goedkoop pakkette by dstv kan kry? Net rugby en krieket is NIE op daai goedkoop pakket nie? In kort – boikot dstv/mnet en dwing hulle om bekostigbaar te raak en alle rasse groepe te respekteer en nie net die by wie hulle gatkruip nie!

chrisp ·

Henk so waar.
Ek is al twee maande weg. Dit is ampet “bevrydend”

Frik ·

Henk. Dit is so waar wat jy hier sê Dit is nou die tyd dat meer mense die ruggraat kry om die ooglopende onregverdige toedrag van sake te stop deur nou daadwerklik hul kontrakte aan te pas. (Al is dit net vir twee maande soos jy sê)

MJ ·

Ons is ook in die proses om ‘n uncapped ADSL lyn te installeer en by Netflix aan te sluit. Veel goedkoper en jy hoef nie oor en oor na advertensies te kyk nie, om nie eers van die programme te praat wat heeltyd herhaal word nie.

DPJ ·

Dit sal intersant wees wie die hofsaak gaan wen.
Ons as algemene publiek het nie al die inligting nie om kant te kies nie.

kowa ·

Ek het my tv 5 jaar gelede uitgegooi, DSTV gekanselleer en was nog nie een dag spyt nie. Mis nie die lot twak wat hulle aanhoudend oor en oor uitsaai nie.

Lizell ·

Ek besit al 4 jaar nie n tv nie, en kyk nou en dan op my tablet…..ek kan my nie n huis indink met n tv wat bler in die agtergrond nie

Martin ·

Ek kan nie meer saamstem nie. Lees liewer of kuier met die familie. Wat ‘n klomp gemors dis hulle vir ons op om te kyk!!!!!!!!

anni ·

Ek dink Mnet het al die wette oortree hoe om n werknemer regverdig af te dank. Of jy nou van Gareth Cliff hou of nie, hy is gruwelik te na gekom en hoop ek van harte Mnet word goed in die bek geruk!

Flintstone ·

Al 7 jaar gelede myne afgesit.Belê in familietyd.Kon geen beter besluit gemaak het nie!Kry mense jammer wat kosbare tyd met vriende en familie verruil vir nuttelose tydverdryf en dan wonder waarom mislukte verhoudings hulle deel word.

Charmain ·

Ek het al vir 6 jaar nie n TV nie maar kry jaarliks klokslag die dreig oproepe, sms en eposse van die SABC se prokureurs om my lisensie te betaal! Wonder wie betaal die prokureur vir al die uitgawes om lisensiegelde van nie-TV eienaars te verhaal?

Johannes Meintjes ·

Die rookskerm-bohaai oor rassisme verdoessel die kritieke werklikhede van swak regering kort voor die 2016 verkiessing, – en baie met oogklappe speel saam. Staan jou man, Gareth!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.