Garsfontein-moorde: Tweede verdagte vas

‘n Nagwaak vir die slagoffers ná die aanval. Foto: Yusuf Abramjee @Abramee / Twitter

ʼn Tweede verdagte is aangekeer in verband met die aanval op ʼn gesin verlede maand by hul huis in Garsfontein in die ooste van Pretoria waartydens twee susters vermoor is.

Kapt. Ilze Jones, woordvoerder van die Garsfontein-polisie, het Dinsdag aan Maroela Media gesê die tweede verdagte (37) is in Kaapstad aangekeer nadat hy in ʼn hof verskyn het in verband met ʼn ander aanklag. Hy is glo familie van die eerste 37-jarige verdagte wat Donderdag in Vosloorus aan die Oos-Rand in hegtenis geneem is.

Albei verdagtes moet Vrydag in die Pretoria-landdroshof verskyn op aanklagte van moord, poging tot moord en huisroof. Die soektog na die derde verdagte duur voort.

Maroela Media het vroeër berig die gesin is die aand van 14 Maart in hul huis in Miasstraat deur drie mans aangehou, vasgebind en met skerp voorwerpe gesteek en sny.

Dr. Anna Moloto (43) en haar suster Mahlodi Moloto (39) is tydens die aanval vermoor. Dr. Moloto se lewensmaat, Albert Mafanele (59), Mafanele se 30-jarige dogter en hul huiswerker is tydens die aanval beseer en moes in die hospitaal opgeneem word. Al drie is intussen ontslaan. Mafanele is ʼn senior beampte van die departement van toerisme. Die Moloto-susters is Saterdag in Polokwane begrawe.

Die aanvallers het met twee televisiestelle en die een slagoffer se voertuig op die vlug geslaan. Die dogter kon kort daarna, die Woensdag omstreeks 00:30, daarin slaag om te ontsnap en het hulp by die bure ontbied. Die gesteelde voertuig is later verlate in Yeoville in Johannesburg opgespoor.

Lees meer oor die Garsfontein-moorde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tanya ·

Kom ons kyk of die polisie dit gaan regkry om hulle NIE te laat ontsnap op doe dag wat hulle moet voorkom nie. Ontsaglik hartseer dat mens jou lewe verloor vir ‘n paar stukkies tegnologie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.