Gary Player beweer seun veil sy trofees op

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player. (Foto: Logan Riely/Getty Images/AFP)

Die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player het op Twitter uitgevaar oor die beweerde “ongemagtigde” veiling van sy trofees en ander memorabilia deur sy seun Marc (62).

Die 86-jarige Gary het in ʼn verklaring vir Marc, sy oudbestuurder en een van sy ses kinders, daarvan beskuldig dat hy ʼn aantal items van sy loopbaan en nalatenskap sonder magtiging op veiling geplaas het.

“Hierdie items behoort aan my en ek het stappe gedoen om dit terug te kry,” lui Gary se verklaring.

“Ek het geen items te koop aangebied nie – hetsy per veiling of andersins.”

Besonderhede oor die veiling is nie bekend gemaak nie, asook nie die presiese trofees en memorabilia wat na bewering opgeveil gaan word nie.

Gary het in ʼn loopbaan wat oor sewe dekades strek verskeie toekennings ontvang.

Van dié wat veral noemenswaardig is, is onder meer die Bob Jones-toekenning wat hy in 1966 ontvang het – die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf. Daarbenewens is hy in 1974 ook in wêreldgholf se Heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler was om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Op tuisbodem is hy as die Suid-Afrikaanse sportman van die 20ste eeu aangewys, terwyl oudpres. Thabo Mbeki hom ook met die Orde van Ikhamanga (in goud) vereer het.

Oudpres. Donald Trump van die VSA het hom ook verlede jaar met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

Gary en Marc se verhouding is al jare lank onstuimig. Dit het egter die afgelope paar jaar erg versuur nadat ʼn hof in die VSA die onderneming wat Marc bedryf, aangesê het om Gary $5 miljoen te betaal in ʼn arbitrasiedispuut oor eienaarskap en benoemingsregte, berig News24.

Marc het nog nie op die bewerings gereageer dat hy sy pa se toekennings sonder sy toestemming opveil nie.

Dit is ook nie duidelik hoe die betrokke items moontlik in Marc se besit kon beland het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Santie Gildenhuys ·

Gary en sy vrou was nog altyd die toonbeeld van klas. Noudat sy oorlede is, moet hulle asb nie als afbreek wat oor dekades opgebou is nie. Pa en seun moet om ‘n tafel gaan sit en PRAAT.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.