Gary Player se vrou sterf

Gary en Vivienne Player. Foto: S. Greenwood/Getty Images North via AFP.

Vivienne Player, vrou van die Suid-Afrikaanse gholflegende Gary Player, het haar stryd teen kanker verloor.

Sy is verlede jaar met pankreaskanker gediagnoseer en het behandeling in die VSA ontvang. Die egpaar het in Januarie 2021 hul 64ste huweliksherdenking gevier.

“Vivienne is my rots en het my gehelp om sukses ver bo wat ek kon droom te bereik. Dit was ’n moeilike jaar waartydens ek haar kankerstryd moes aanskou, maar dit het my laat besef wat ’n spesiale lewe ons deel. ’n Vrou soos geen ander; ek het jou lief, Viv,” het Player destyds geskryf.

Die nuus van haar afsterwe is deur GolfRSA op Twitter bevestig.

“Dit is met hartseer dat ons moes verneem dat een van gholf se grootste ondersteuners, Vivienne Player, haar lang en dapper stryd teen kanker verloor het. Ons innige meegevoel aan haar man en familie.”

Die egpaar het ses kinders (Jennifer, Marc, Wayne, Michele, Theresa en Amanda), 22 kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Player word as een van die suksesvolste sportmanne ooit bestempel, tog het hy gereeld hulde aan sy vrou gebring en haar veral vir haar onwrikbare ondersteuning geloof.

In ’n gholfloopbaan wat oor sewe dekades strek, het hy onder meer die Bob Jones-toekenning, die hoogste eerbetoon in Amerikaanse gholf, in 1966 ontvang. Daarbenewens is hy in 1974 ook in die wêreldgholf-heldesaal opgeneem, terwyl hy in 2012 die eerste internasionale speler geword het om die PGA-toer se toekenning vir lewenslange bydrae te ontvang.

Hy het nege Major-titels ingeoes en is ook vroeër vanjaar deur oudpres. Donald Trump van die VSA met die presidensiële medalje van vryheid vereer.

“Om as internasionale atleet die hoogste eerbetoon vir Amerikaanse burgers van die president te ontvang, is beslis iets wat ek vir altyd sal koester,” het Player in ’n destydse onderhoud gesê.

“Ek is baie bevoorreg om ’n wêreldambassadeur vir gholf te wees, maar dit is my liefde vir my naaste wat my geïnspireer het om aan te hou reis en my bes te doen om mense te verenig en geld in te samel vir diegene wat dit broodnodig het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

Wat ‘n besonderse vrou. Was nnoit vir die verkeerde redes in die pers nie en ook nie iemad wat heeltyd op voorblaaie verskyn het nie. Min vroue sal ‘n man so ondersteun het soos sy. Saluut mevrou of sal ons haar die titel van LADY gee?

Jackie ·

Die afsterwe van n geliefde eggenote, maak nie saak hoe oud jy of sy is nie bly n hartseer saak. Abraham se vrou Sara was 92 toe sy dood is en hy het baie oor haar getreur. Gary, die hele Suid Afrika treur saam met jou. Mag die God van Abram, Izak en Jakob jou en jou kinders vertroosting gee.

Johanncb ·

Ai, dit is baie hartseer nuus! Ek het met die Player-naam groot geword. Sterkte aan die gesin en familie.

Anel ·

Baie sterkte aan ‘n man wat trots Afrikaans is. My ouers het hom baie jare terug in Frankryk ontmoet en hy het aan gedring om Afrikaans te praat. Dit is baie erg om jou lewensmaat na soveel jare te verloor. Maar troos u daaraan dat sy nou verlis is van pyn by ons Hemelse Vader. Baie stetkte aan die hele familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.