Gaste by Limpopo-lodge oorval, beroof

Argieffoto: SAPD/Facebook

Argieffoto: SAPD/Facebook

Die polisie is steeds op soek na drie gewapende rowers wat Maandag in die vroeë oggendure gaste by ʼn lodge in Tzaneen in Limpopo in hul kamer oorval, vasgebind en beroof het.

Marius Jacobs, woordvoerder van Northern Security en stigter van die Watchdog Tzaneen-inisiatief, het aan Maroela Media gesê dat die rowers omstreeks 03:00 op die Highgrove Lodge toegeslaan het. Hulle het die veiligheidswag op die perseel oorval en vasgebind, voordat hulle in die hoofgebou ingebreek en die spaarsleutels vir die kamers gekry het.

“In een van die kamers het besoekers van Botswana geslaap en hulle het wakker geword toe die rowers die kamerdeur oopsluit,” het Jacobs gesê. “Die verdagtes het die kamer binnegekom en ʼn vrou met ʼn vuurwapen oor die kop geslaan. Een van die rowers was baie aggressief en het die vuurwapen voor die gaste oorgehaal. Hulle het die mense vasgebind voordat hulle die gaste beroof het.”

Jacobs het gesê die rowers het ses televisies en ongeveer R10 000 kontant uit die gastekamers gesteel voordat hulle met een van die gaste se wit dubbelkajuit-Toyota-bakkie op die vlug geslaan het.

Frikkie van der Merwe, eienaar van die lodge, het aan Maroela Media gesê dat die gaste in die ander kamers waar die rowers ingegaan het nie wakker geword het nie. Volgens Van der Merwe het die rowers ook twee selfone en kontant by die gaste wat vasgebind is, gesteel.

“Die speurders is tans nog op die toneel, maar die gesteelde televisies sal vandag nog vervang word. Ons sal natuurlik ook stappe doen om die veiligheid by die lodge op te skerp. Ons het die veiligheidswag op die toneel, maar hy is ongewapen en dit is hoekom hy deur die rowers oorrompel is. So, ons kyk na alternatiewe veiligheidsmaatreëls,” het Van der Merwe gesê.

“Die goed wat gesteel is, is niks. Dit vervang ʼn mens net. Ek is net dankbaar dat niemand seergekry het nie. Dit is die belangrikste.”

Maroela Media het die polisie vir kommentaar genader en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Andre ·

Dit breek my hart om dit te lees; ek was die afgelope twee weke in die buiteland en het veiliger gevoel in Aus en Hong Kong as my eie land. Met die wisselkoers wat dit is behoort die land van ons die mekka te wees vir toerisme maar die geweld, roof weet ek nie kans sal sien om hierna toe te kom nie.

Denise ·

Ja Andre dit is so ongelukkig is dit nie meer n mekka nie maar moord,verkragting , kapings en inbrake is nommer een hier en so gan dit elke dag dit is T erg en nerens is mens meer veilig nie selfs nie in jou privaat woning nie o nee iets drasties sal moet gedoen word!!!!

CHRISTA ·

Dis nie net “nommer een” in ons land nie, dis deesdae ons land se nasionale sporte!!!

Annie ·

Hierdie klink na n bende wat lekker toe slaan op besighede hier in die dorp. Twee weke terug was dit die Garden Center en nou is dit Highgrove. Ek is dankbaar in beide gevalle is niemand ernstig beseer nie, maar hoekom altwee besighede in dieselfde straat!!!??? Hulle is nie ver van mekaar af nie…. Erens lek inligting…..

CHRISTA ·

Ek wil ook weet waar weet hulle om al die sleutels te kry? Is hulle nie dalk werknemers by die Lodge nie?

g..vol vi Govt ·

Jammer mense. Hieri slapgat govt stel net belang om hulself te verryk. Gee ni om wat word van die inwoners vani hieri land ni. Hul het mos geweld aangehits maar kan dit nie stop nie. Het oki die wil om dit te doen ni

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.