Gaste by luukse spa op Moedersdag beroof

Argieffoto

Argieffoto

Gaste en personeel van die gewilde en luukse Soulstice Spa op die Lombardy-landgoed in die ooste van Pretoria is op Moedersdag deur ʼn groep gewapende mans beroof.

Kapt. Marissa van der Merwe, woordvoerder van die Boschkop-polisiestasie, het Maandag aan Maroela Media gesê ʼn groep van vier verdagtes het omstreeks 13:00 die perseel in ʼn maroen motor ingery.

“ʼn Man het uit die voertuig geklim en die veiligheidswag met ʼn vuurwapen aangehou en beroof,” het Van der Merwe gesê. “Die res van die verdagtes is in die dagspa in waar hulle personeel en gaste beveel het om op te grond te lê.”

Van der Merwe het gesê die rowers het onder meer juweliersware, selfone en kontant gesteel voordat hulle van die toneel gevlug het.

Dit is nie in dié stadium bekend presies hoeveel mense aangehou is nie. “Sover ons weet is niemand tydens die voorval beseer nie,” het sy bygevoeg.

Die polisie ondersoek ʼn saak van sakeroof.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Die bestuur van die landgoed was nie dadelik vir kommentaar beskikbaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

scalla ·

Nog n bewys dat jy nerens meer veilig is in die eens pragtige land nie.

Peet Schabort ·

Lyk my die naam is “Soulstice Day Spa”.
Gewoonlik word mense by sulke plekke ook nie met hulle vuurwapens toegelaat nie en is ‘n ideale plek vir misdaad.

jakes ·

Tragies. Maar as my vrou die berig lees kan ek myself regverdig omdat ek geld spaar deurdat sy sulke eksotiese/ luukse plekke nie kan besoek. Bad sommer by die huis, veiliger.

SNEL ·

Die dr. stel voor mens moet die lewe stadiger vat en bietjie gaan ontspan iewers, maar dit word mens nie eers gegun nie. Nêrens is jy meer veilig nie, beste is seker om maar in jou traliehok met hoë heinings, alarm en n paar groot honde in die erf te bly as om jou bloot te stel aan misdade waar daar geen sulke sekuriteit is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.