Gasvryheidsbedryf sê laer heffings kan poste red

(Argieffoto: Facebook)

Die bedryfsliggaam vir die gasvryheidsektor, Fedhasa, doen ʼn beroep op die regering en munisipaliteite om dringend in te gryp in die werksverliese in die gasvryheidsbedryf.

Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, versoek dat munisipale heffings verlaag moet word.

“Talle akkommodasie-ondernemings beleef steeds ʼn omset van 50% minder as voor Covid-19. Dit maak die huidige ratio van omset tot munisipale heffings eenvoudig onbekostigbaar en onvolhoubaar.”

Sy sê voor Covid-19 was die heffingsrekening van ʼn gemiddelde groot hotel sowat 3% van hul totale inkomste. Tydens Covid-19 het dié syfer tot 86% gestyg, met slegs ʼn paar munisipaliteite wat ondernemings toegelaat het om hul betaling uit te stel.

“Heffings is tans so hoog as 10% van ʼn groot hotel se totale inkomste. Dit is bloot onvolhoubaar en moet dringend aangespreek word om verdere werksverliese te voorkom.”

Anderson sê die regering moet vergoed vir die skade wat veroorsaak is aan die gasvryheidsbedryf deur streng regulasies wat toegepas is. “Dit kan gedoen word deur te verseker dat die heffings regverdig is en gelykvormig is aan die bedryf se verminderde omsette.”

Volgens haar is munisipale heffings ʼn onbekostigbare uitgawe vir gasvryheidsondernemings, wat nog steeds sukkel ná Covid-19-regulasies en die reisverbod. “As die regering ernstig is daaroor dat hulle werksverliese wil bekamp, kan hulle dié bedryf help om weer op hul voete te kom en die heffings in die kort- tot mediumtermyn verminder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.