Gasvryheidsbedryf vies oor voorgestelde Covid-regulasies

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Joe Raedle/AFP)

Die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) is bekommerd dat die regering se voorgestelde Covid-19-regulasies vir die huidige en moontlike toekomstige pandemies ondoeltreffend is om die verspreiding van die virus hok te slaan.

Boonop plaas die huidige voorgestelde regulasies net nog struikelblokke voor die groei van die toerismebedryf in Suid-Afrika.

“Die konsepregulasies bevat beperkings, soos temperatuurkontroles, wat reeds as uiters ondoeltreffend bestempel is om die verspreiding van die koronavirus hok te slaan,” sê Rosemary Anderson, nasionale voorsitter van Fedhasa.

Die departement van gesondheid het vroeër vandeesweek ʼn lys van regulasies vir die bestuur van die huidige Covid-19-pandemie – en enige ander pandemie wat dalk in die toekoms kan uitbreek – voorgestel. Lede van die publiek is ook die geleentheid gegee om kommentaar of vertoë oor die voorgestelde regulasies in te dien.

Dit volg nadat die nasionale ramptoestand, te midde van skerp kritiek daarteen, opnuut verleng is.

Volgens Anderson stel die departement in een van sy regulasies voor dat enige reisiger wat Suid-Afrika verlaat ʼn geldige inentingsertifikaat of negatiewe PCR-toets, wat nie ouer as 72 uur is nie, in hul besit moet hê – ongeag van die vereistes van hul bestemmingsland.

“Nou stel die regering nie net voor dat reisigers wat Suid-Afrika binnekom dit benodig nie, maar ook dat diegene wat die land wil verlaat, dit moet hê al vereis hul bestemmingsland dit nie,” sê sy.

“Dit is heeltemal onsinnig en doen niks om Suid-Afrika as ʼn aantreklike bestemming vir internasionale toeriste te bemark nie.”

Anderson voer aan dat dit ook onsinnig is dat reisigers wat die land wil binnekom steeds ʼn PCR-toets of ʼn geldige inentingsertifikaat benodig.

“Vir elke dag wat hierdie PCR-toetsvereiste vir inkomende reisigers gestel is, is dit nog ʼn dag wat ons [die toerismebedryf] werk verloor. In teenstelling met Suid-Afrika het Engeland aangekondig dat hy al sy oorblywende Covid-19-reisbeperkings heeltemal gaan ophef,” sê Anderson.

“Ons word voortdurend vertel hoe die regering daartoe verbind is om werk te skep, maar steeds sloer die regering om die regulasies op te hef wat die toerismebedryf – wat die potensiaal het om duisende werksgeleenthede te skep – sal laat floreer.”

Voor die aanvang van die Covid-19-pandemie het die Suid-Afrikaanse toerisme- en gasvryheidsektor direk en indirek werk aan minstens 1,5 miljoen mense verskaf.

“Met ʼn krimpende belastingbasis en byna die helfte van die bevolking wat maatskaplike toelaes ontvang, is dit duidelik dat die situasie waarmee die land worstel, onvolhoubaar is. Broodnodige stappe moet nou gedoen word om die ramp om te keer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.