Gat in baba se hart herstel danksy weldoeners

Klein Thacious Makwala. (Foto: Verskaf)

“Sy is nog nie eens ’n jaar oud nie, en hoewel sy al deur só baie is, glimlag ons dogtertjie altyd.”

Só vertel die ma van klein Thacious Makwala nadat sy onlangs ’n operasie in die Netcare Sunninghill-hospitaal in Johannesburg ondergaan het om ’n groot gat in haar hart te herstel.

Thacious is maar tien maande oud en die Heart to Heart-veldtog se jongste begunstigde vir ’n hoogs gespesialiseerde hartoperasie nadat’n lewensbedreigende aangebore hartafwyking in April vanjaar by haar gediagnoseer is.

Precious Makwala vertel dat sy by Thacious, haar eersgeborene, se geboorte geen ondervinding van babas gehad nie. “Dit was my oorlede ma se ouer suster, Dorcus Manganye, wat besef het dat daar dalk iets fout met Thacious is.

“Sy het Thacious na die Dr. CN Phatudi-hospitaal in Maake geneem, wat nie te ver is van waar ons in Pulaneng, naby Tzaneen, woon nie.

“Dit was baie stresvol, want ons het nie geweet wat fout is nie,” onthou Precious.

Toetse by dié hospitaal het in April eindelik bevestig dat daar fout is met klein Thacious se hart en sy is na die Letaba-hospitaal verwys wat haar op sy beurt na die Polokwane- provinsiale hospitaal verwys het.

Precious Makwala en haar baba. Thacious. (Foto: Verskaf)

“Thacious is gebore met ventrikulêre septale defek [VSD], ʼn groot gat in die wand tussen die twee onderste kamers van die hart. Hierdie tipe hartdefek is geneig om die arteries van die longe te beskadig en dit moet so gou moontlik reggestel word,” sê dr. Erich Schürmann, kardiotorakale chirurg en medestigter van die Maboneng-hart-en-longinstituut.

“Hulle het vir ons gesê haar toestand kan verbeter ná ʼn operasie, maar daar is ʼn lang waglys, en mettertyd het haar hartprobleem meer skade aan haar liggaam tot gevolg gehad,” vertel Precious. “Ons was so bekommerd, maar toe sê die dokters by die Steve Biko Akademiese Hospitaal vir ons daar is ʼn kans dat sy die operasie baie gouer kan ondergaan met hulp van die private sektor. Die hospitaal het ’n verslag geskryf en ons bygestaan met die aansoek, wat uiteindelik daartoe gelei het dat Thacious vir ’n operasie in die Netcare Sunninghill-hospitaal oorweeg is.”

Schürmann vertel dat hy en sy kollegas van Thacious se toestand te hore gekom het en dadelik besef het dat hulle vinnig moet spring om haar die beste kans op ʼn normale lewe te gee en te voorkom dat potensieel lewensbedreigende gevolge ontwikkel.

Klein Thacious het die operasie gevolglik op 7 September in die Netcare Sunninghill-hospitaal ondergaan.

Thacious het ná die operasie maar drie nagte in die hospitaal deurgebring voordat sy ontslaan is.

“Sy het nou soveel meer energie en haar eetlus is baie beter. Sy tel ná net ʼn maand ná die operasie ook reeds gewig op,” vertel Precious. “Sy eet graag sagte pap met melk en wanneer ons by die huis liedjies aansit, raak sy opgewonde en beweeg saam met die musiek – ek dink sy sal eendag ’n goeie danser wees.”

Precious erken egter dat sy die afgelope tien maande ’n lang en moeilike pad met Thacious gestap het.

Precious Makwala en haar baba. Thacious. (Foto: Verskaf)

“Ek het probleme met my sig wat elke tree moeiliker gemaak het, en ek is ook werkloos. Ons is so dankbaar vir al hierdie ondersteuning wat ons ontvang het om die hulp te kry wat ons baba nodig gehad het.”

Thacious se naam beteken “kreatiwiteit” en is ’n kombinasie is van haar pa, Thabang, en ma, Precious, se name.

Mande Toubkin, Netcare se algemene bestuurder: noodgevalle, trauma, oorplantings en ’n trustee van die Netcare-stigting, sê Thacious se positiewe prognose wys wat moontlik is indien die openbare en private sektore saamwerk.

“Daar is tragies genoeg nog baie meer kinders wat prosedures soos hierdie benodig. Deur saam te werk, kan baie meer van hierdie kinders bereik word sodat hulle ook die kans kan kry om te floreer en hul merk in die wêreld te maak.”

  • Die Heart to Heart-veldtog is ’n korporatiewe maatskaplike inisiatief van die Netcare-stigting en Medipost Holdings en is spesifiek bedoel vir operasies vir behoeftige kinders met lewensbedreigende hartprobleme deur spesialiste van die Maboneng-hart-en-longinstituut.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Di ·

So bly daar is nog mense daar buite wat omgee. Sy kan nou ten minste ‘n normale lewe ly vorentoe. SO bly vir die ma en haar baba

Anonymouse ·

Awww kyk net daai gesiggie! Ek is so bly sy het die hulp gekry wat sy nodig het. Ek hoop jy hardloop jou ma moeg een van die dae, Thacious!

Marcello ·

Baie dankie aan hierdie wonderlike dokters, sodat sy ook ‘n normale lewe kan hê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.