Gauteng aanlynaansoeke: Opskud, waarsku departement

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het Donderdag gesê dat dié provinsie se aanlyn-registrasiestelsel vir leerders in gr. 1 en gr. 8 op 28 Mei net na middernag sal sluit.

Die departement het in ʼn verklaring gesê ouers wat reeds geregistreer het, word versoek om dringend die vereiste dokumentasie aan die betrokke skole deur te stuur.

“Gautengse skole sal as ʼn spesiale vergunning dié dokumente nog tot op 5 Junie om 14:00 aanvaar,” lui die verklaring. “Indien die dokumente nié ingedien word nie, sal ouers hul plek in die ry verloor.”

Die departement het gesê altesaam 535 064 aansoeke is sedert 16 April vanjaar verwerk. Van dié aansoeke is 251 808 vir gr. 1 en 283 256 vir gr. 8.

Die departement het ouers wat gehou het by die registrasiedatums bedank.

Volgens Steve Mabona, woordvoerder vir die departement, het altesaam 596 skole hul beskikbare plek oorskry.

Mabona sê skole soos Hoërskool Mondeor, die Pretoria Hoër Meisieskool en die Hoërskool Northcliff het tussen 1 538 en 1 960 aansoeke ontvang.

Hy sê daar is 385 skole in die provinsie met minder as 50 aansoeke, 79 skole met minder as 20 aansoeke en 69 skole met minder as tien aansoeke. Dié skole is almal in informele nedersettings geleë.

Volgens Mabona is dit kommerwekkend dat ouers in informele nedersettings té laat wag om te registreer. “Die departement beweeg weg van laat aansoeke en ouers wat nie op 28 Mei 2018 om middernag aanlyn aansoek gedoen het nie, loop die risiko dat hul kinders nie in Januarie 2019 skool toe sal kan gaan nie,” sê hy.

Hy sê plasings sal tussen 18 Julie en 31 Oktober gedoen word. Mabona sê vergunnings sal nié gemaak word indien skole nie meer kapasiteit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sure... ·

Mabona se laaste stelling is interessant. Sal dit wil sien gebeur dat geen vergunnings gemaak sal word nie. Overvaal…

marous ·

Hoe verwag hulle moet mense wat nie eers water het nie , aanlyn moet aansoek doen ? Waarom stuur lefufie nie mense uit om hul by te staan met aansoeke nie? Sy heersers gil elke dag oor skoolopvoeding maar hulle het geen erns daarmee nie . More word onskuldiges se eiendom weer vernietig omrede daar nie opvoeding is nie.

Vegter ·

Kom Januarie dan wil hul weer skool afbrand wat hulle nie wil toelating gee nie.
Slaap rustig voort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.