Gauteng betaal glo dubbel die prys vir hospitaalbeddens

Hospitaalbeddens vir die behandeling van Covid-19. (Foto: Adhy Savala/Unsplash)

Die DA beskuldig die Gautengse departement van gesondheid daarvan dat hy hospitaalbeddens vir die kwarantynfasiliteit in Johannesburg aangekoop het teen dubbel die prys wat dit werklik kos.

Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder van gesondheid in Gauteng, het die beddens vir die Nasrec-veldhospitaal die Gautengse departement R13 000 elk gekos. Dít terwyl dié beddens in werklikheid R5 000 elk kos. “Die departement kon die beddens dus teen minder as die helfte van die prys by ʼn ander verskaffer gekoop het,” sê Bloom.

Bloom sê die algehele koste van al die toerusting by die Nasrec-veldhospitaal beloop R24,1 miljoen.

“Dié bedrag is ook waarskynlik dubbel wat dit behoort te wees, aangesien die departement R18 000 bestee het aan 40 muurhorlosies, teen R450 elk.”

Volgens Bloom is dit net nog ʼn bewys dat die departement gekul word weens die swak en moontlik korrupte keuse van verskaffers vir Covid-19-toerusting.

“Ek hoop die spesiale ondersoekeenheid sal hierdie kontrakte ook ondersoek,” sê Bloom.

Dié eenheid ondersoek verskeie bewerings van onreëlmatige tenders in die Gautengse departement van gesondheid, het Maroela Media verlede week berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marisa ·

Ek wonder is daar enige iets waar hulle betrokke is waar dinge nie korrup is nie???

christo ·

Ramaphosa mag dalk die president wees, maar hy is nie in beheer van die land nie. Die sistemiese korrupsie is net nog ‘n bewys dat die ANC leaders net sorg vir hulle eie, familie en vriende se sakke. Al Ramaphosa se dreigemente om korrupsie hok te slaan is ook net leë beloftes

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.