Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag gesê altesaam 925 kinders wag steeds om deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling in pleegsorg geplaas te word.
Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder, sê die vertraging in pleegsorgplasings is glo deels te wyte aan advertensies wat laat geplaas is. Boonop is die verkryging van toepaslike verslae van sielkundiges en psigiaters, asook van toepaslike regsdokumente van voornemende pleegouers, ook vertraag.
“Dit toon die departement se swak beplanning en dat die plasing van kinders in pleegsorg nie ʼn prioriteit is nie,” het sy gesê.
Die departement het luidens ʼn verslag ook nie daarin geslaag om 130 beurshouers in diens te stel nie.
Gauteng het volgens die verslag boonop ook net 11 maatskaplike werkers verlede jaar gehad wat spesialiseer in pleegsorg en die plasing van kinders in pleegsorghuise – iets wat volgens die DA “nie volhoubaar is nie” weens die werkslading van elke maatskaplike werker.
“Dit is onaanvaarbaar – die kernmandaat van die departement is juis om te verseker dat kwesbare groepe, veral kinders, beskerm word. Maatskaplike ontwikkeling is “die hartklop van die departement” wat die verantwoordelikheid dra om om te sien na kwesbare groepe. Deur daarin te misluk om kinders in pleegsorg te plaas, ontneem hulle die kinders die reg om in ʼn liefdevolle gesinsomgewing groot te word,” het sy gesê.
Volgens Nt’sekhe is die kinders in kinder- en jeugsorgsentrums geplaas – dít terwyl die departement volgens haar weet dat kinders hul volle potensiaal eerder in liefdevolle huise bereik. Sy sê die ANC se ontoereikende prosesse en ondoeltreffendheid het “kinders geïnstitusionaliseer”.
Die DA het ʼn beroep op Nandi Mayathula-Khoza, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, gedoen om die saak dringend te hanteer. Die party eis dat sy prosesse instel om te verseker dat kinders vinnig in pleegsorg geplaas word. Die DA eis voorts ook dat nog maatskaplike werkers wat spesialiseer in pleegsorg aangestel word sodat kinders uit jeugsorgsentrums na huise oorgeplaas kan word.
“Liefde is een van die belangrikste bestanddele om ʼn kind groot te maak,” het sy gesê.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
22 Kommentare
My gesin se ervaring (ons het kinders in pleegsorg geneem en later aangeneem) is dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling uiters flink is wanneer dit kom om hulle salarisse in ontvangs te neem.
Enige dienslewering is bysaak.
..en hoeveel mense sal eerder n hond aanneem as, n “kind” en dit eerder die liefde en opoffering en “toekoms” gee wat n mens toekom in die aangesig van die Here ?
Ek sukkel al 5 jaar om n kind aan te neem en die probleem is nie by ons nie
Watter departement funksioneer behoorlik die afgelope 15 jaar. Ek daag die lesers uit om my te antwoord.
Ons het ook n kind in pleegsorg en voel ook d staat ondersteun en help bitter min. Kinders lei daaronder.