Gauteng: Bykans 1 000 kinders wag vir pleegsorghuise

ouerskap-pleegsorg-ma-pa-en-kind

Foto: Lela Johnson/Pexels.com

Die Demokratiese Alliansie (DA) het Sondag gesê altesaam 925 kinders wag steeds om deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling in pleegsorg geplaas te word.

Refiloe Nt’sekhe, DA-woordvoerder, sê die vertraging in pleegsorgplasings is glo deels te wyte aan advertensies wat laat geplaas is. Boonop is die verkryging van toepaslike verslae van sielkundiges en psigiaters, asook van toepaslike regsdokumente van voornemende pleegouers, ook vertraag.

“Dit toon die departement se swak beplanning en dat die plasing van kinders in pleegsorg nie ʼn prioriteit is nie,” het sy gesê.

Die departement het luidens ʼn verslag ook nie daarin geslaag om 130 beurshouers in diens te stel nie.

Gauteng het volgens die verslag boonop ook net 11 maatskaplike werkers verlede jaar gehad wat spesialiseer in pleegsorg en die plasing van kinders in pleegsorghuise – iets wat volgens die DA “nie volhoubaar is nie” weens die werkslading van elke maatskaplike werker.

“Dit is onaanvaarbaar – die kernmandaat van die departement is juis om te verseker dat kwesbare groepe, veral kinders, beskerm word. Maatskaplike ontwikkeling is “die hartklop van die departement” wat die verantwoordelikheid dra om om te sien na kwesbare groepe. Deur daarin te misluk om kinders in pleegsorg te plaas, ontneem hulle die kinders die reg om in ʼn liefdevolle gesinsomgewing groot te word,” het sy gesê.

Volgens Nt’sekhe is die kinders in kinder- en jeugsorgsentrums geplaas – dít terwyl die departement volgens haar weet dat kinders hul volle potensiaal eerder in liefdevolle huise bereik. Sy sê die ANC se ontoereikende prosesse en ondoeltreffendheid het “kinders geïnstitusionaliseer”.

Die DA het ʼn beroep op Nandi Mayathula-Khoza, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, gedoen om die saak dringend te hanteer. Die party eis dat sy prosesse instel om te verseker dat kinders vinnig in pleegsorg geplaas word. Die DA eis voorts ook dat nog maatskaplike werkers wat spesialiseer in pleegsorg aangestel word sodat kinders uit jeugsorgsentrums na huise oorgeplaas kan word.

“Liefde is een van die belangrikste bestanddele om ʼn kind groot te maak,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Hein ·

My gesin se ervaring (ons het kinders in pleegsorg geneem en later aangeneem) is dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling uiters flink is wanneer dit kom om hulle salarisse in ontvangs te neem.
Enige dienslewering is bysaak.

Oop oge ·

..en hoeveel mense sal eerder n hond aanneem as, n “kind” en dit eerder die liefde en opoffering en “toekoms” gee wat n mens toekom in die aangesig van die Here ?

Dieremens ·

Ek neem verl eerder n dier asn die proses is vinniger meer permanent en spaar soveel hartseer!
Diere is ook deur God geskape en verdien ook goeie huise.

Cedz ·

Hi Oop pge,

Ek hoor jou, maar ek voel twee goed:
Een van ons hoof redes hoekom ons op die aarde geplaas is, is oordat ons na God se ryk en wereld moet omsien.
Twee: Ek voel dat baie mense nie moet kinders kry nie… want hulle kan juis nie vir hulle sorg nie.
Drie: n dier kan nie praat nie, n mens kan. Wie staan op vir hulle regte?
Vier: Daarso is daagliks honderde diere wat uitgesit word, want hulle word nie aangeneem nie… maar ons moet eerder n kind help wie se ouers eintlik vir hulle moet sorg. En voordat jy sê dat almal wees kinders is, gaan doen jouself n guns en kyk hoeveel kinders is werklik wees. Dis n baie dieper kwessie as net hierdie woorde, maar ek dink ek dra my boodskap wel oor.

Pik ·

Ek sukkel al 5 jaar om n kind aan te neem en die probleem is nie by ons nie

Alida ·

Watter departement funksioneer behoorlik die afgelope 15 jaar. Ek daag die lesers uit om my te antwoord.

marous ·

Die departement van ” Sosiaal Verkeer Vir Staatsampernarre ” funksioneer fantasties

Madeleine ·

Ons het ook n kind in pleegsorg en voel ook d staat ondersteun en help bitter min. Kinders lei daaronder.

Hannah ·

My hart wil breek as ek hierdie goed hoor… kinders is ‘n groot verantwoordelikheid – ek steier as ek kyk na mense met kinders wat dit eintlik nooit moes gehad het – ‘n kind vra nie spoggerige klere met handelsname – hulle vra nie fancy kos…hulle vra nie hope duur speelgoed nie… kinders vra dit wat jy die moeilikste gee…naamlik jou tyd, aandag, liefde en betrokkenheid in hul lewens!

Salome van der Merwe ·

Ek wil graag n kind aanneem of onder toesig hou (pleegsorg) onder die ouderdom van twee. Ek het 2 kinders, 15 en 13. Bly in Hennenman, Vrystaat

NIci ·

Salome jy kan jou naaste maatskaplikewerker kontak of welsynsdepartement. Sterkte, dit is ‘n proses maar wel die moeite werd!

Louis ·

Ek wil net hoor is dit waar dat as jy jou naam opgee vir aanneming dat jy nie kan kies watter kind jy wil aanneem nie. Soos ek verstaan moet jy vat wat hulle vir jou gee.

Nici ·

Louis jy kan kies. Jy hoef nie te ‘vat wat jy kry nie’. Jy moet net meer geduldig te wees as jy spesifiek is.

Sassy ·

@Louise – ons het ‘n dogtertjie aangeneem en ons maatskaplike werkster het vir my gese dat mense is onder die verkeerde indruk. Jy kan definitief kies en ook kies of jy ‘n dogtertjie of seuntjie wil he. Soos Nici se – jy gaan net moet wag. Maar dis beslis die moeite werd!!!!

Nici ·

Ons is bevoorreg genoeg om ‘n pragtige kind in pleegsorg te he. Gelukkig het ons ‘n wonderlike maatskaplikewerker, maar almal is nie so gelukkig nie. Ek dink agv van al die ‘red tape’ is mense vrekbang om betrokke te raak. Ek wens net die stelsel was meer vir die kinders en nie die families waar hulle verwyder is nie. Maak asseblief oop julle harte en huise vir die kinders. Hulle almal verdien geluk en liefde!

PLEEGMOEDER ·

NICI EK SE OOK SO WENS DIE STAAT WAS MEER AAN DIE PLEEGOUERS SE KANT AS DIE VAN DIE OUERS, DIT IS SO N EMOSIONELE PROSES. DIE OUERS KRY MEER KANSE AS DIE PLEEGOURS WAT SOVEEL LIEFDE EN BESKERMING KAN GEE EN EK SAL SE DIE STAAT MOET DIE AANEMINGS PROSES MAKLIKER EN VINNIGER MAAK. MENS OORWEEG PLEEGSORG MET DIE BEDOELLING OM AAN TE NEEM EN OMDAT DIE PROSES SO LANK EN MOEILIK IS SKRIK DIT BAIE GETROUDE PAARTJIES AF WAT NIE KAN KINDERS KRY NIE MAAR GRAAG WIL HE.

Nici ·

Ai PLEEGMOEDER, ek wens so ons pleegouers kan deurdring tot die ‘powers that be’! As ek moet sal ek dag in en dag uit daar gaan sit om te baklei! Soos jy se die proses skrik mense af! Sterkte vir julle pad vorentoe!

ek sê maar ·

Ek is huiwerig… om slegs een rede: mens raak lief vir daardie kind en dan kom die ma wat eintlik glad nie omgee en wil kind terughê en alhoewel jy weet die kind gaan nooit by haar kry wat hy/sy by jou kry is dit so dat as die ma “gerhabiliteer” sy die reg het om die kind terug te kry. Ek het al te veel sulke hartseer stories gehoor. Daarom borg ek liewer twee kinders in ‘n kinderhuis maandeliks finansieel en stuur ook maandeliks ‘n pakkie met al hul toiletware, bederfies en ‘n briefie by.

Karolis ·

Jy is ‘n ENGEL.
Kyk verby die hartseer stories.
Bly eerder ‘n ENGEL.

Pleegouer ·

Ek dink hulle moet hulle syfers nagaan…. Oos-Rand area alleen het meer as ‘n 1000 kinders wat wag vir pleeghuise en kinders word ingeprop in sogenaamde “pleeghuise” waar standaarde selfde of slegter is as waar kinders was. Vra maar vir organisasies soos Wild Wild Guardians en Hi5Kids…hulle het hofsake hieroor.

Lewies ·

Goeie dag,
Ek is 30 jaar getroud het 2 dogters, die oudste is 30 en gekwalifiseerde apteker en die jongste is 23 en het matriek deurgekom en werk vir n Vet Shop. Nou soos U kan aflei moes ek trou en was maar 17, maar is nog steeds getroud met die pa van my kinders en sal hom tot die dood vir niks verruil nie, dit was n harde 30 jaar, moes baie val en weer opstaan, maar nooit gaan le nie.
Nou om tot die punt te kom is. In 30 jaar se sewe sakke sout wat ons oor en oor moet eet het ek die pragtigste 2 kinders wat nou al grootmense is groot gemaak met net “water, brood en baie liefde”, hoekom moet daar eers na jou lewenstyl, inkomste en status gekyk word voordat jy enigsins oorweeg word om na n weerlose kind te kan kyk. Is dit nie veronderstel om eers na die kind se belange om te sien nie. Soos ek dit verstaan het daardie kind op daardie oomblik net iemand nodig om te kan vertrou en het baie baie liefde nodig en dit mense kan jy nie met GELD koop nie.
Ek sal enige tyd my deure oopmaak om vir daardie kinders al my vertroue en liefde te gee net soos ek my 2 kinders groot gemaak het met sewe sakke sout.

Karolis ·

Nee, jy moes nie trou nie, dit was ‘n keuse wat jy daardie tyd gemaak het.
Kyk watse goeie keuse het jy toe gemaak!
Eer aan jou en jou man. Wat ‘n pragtige verhaal. Jy is ‘n ma duisend.
Aai, hoe smag ek na jou Moederliefde.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.