Gauteng-damvlakke styg terwyl Wes-Kaapse damme bly daal

Argieffoto: https://pixabay.com

Meeste damme in Gauteng is byna vol danksy volgehoue reën onlangs in die provinsie, aldus ʼn weeklikse verslag van die departement van water en sanitasie.

Die gemiddelde damvlakke in Gauteng is 101%, gevolg deur die Vrystaat (92.2%) en Mpumalanga (81.7%), het Sputnik Ratau, woordvoerder van die departement, gesê.

Volgens weervoorspellings deur die Suid-Afrikaanse Weerdiens word reën oor die volgende twee weke in KwaZulu-Natal verwag. Die huidige damvlakke in KwaZulu-Natal is 64.7%.

Die nasionale vlak is 77.6%, ʼn verbetering van 2.3% in vergelyking met 2017.

Damme in die droogtegeteisterde Wes-Kaap neem egter weekliks af met ʼn gemiddeld van 17.6%. Voëlvleidam, wat Kaapstad van water verskaf, het van 14.2% verlede week gedaal tot 14.1%. Bergrivier, wat ook water aan Kaapstad verskaf, het met 2% gedaal van 43.4% tot 41.1%.

Clanwilliamdam aan die Wes-Kaap is byna heeltemal droog en die plaaslike munisipaliteit maak van watertenks gebruik om plaaslike inwoners van water te voorsien.

Indien daar nie binnekort reën in die provinsie val nie, sal betrokke munisipaliteite selfs strenger waterbeperkings moet toepas. Stad Kaapstad het reeds vroeër vanjaar vlak 6B-waterbeperkings begin toepas. Die winterreën sal na verwagting aan die einde van April of aan die begin van Mei begin.

Damvlakke in die Oos-Kaap het ook gestyg en Macubeni en Cacadu is 100% vol. Ander damme wat ook vol is, is Sandile in Keiskamma, Binfield in Tyume, Mabeleni in Mhlahlane, Umtata, Ntyenetyana, Belfort in Mafube en Tsojana.

Damvlakke in Noordwes is op 72.9% en Boegoeberg in die Vrystaat staan op 116.7%. Dit word gevolg deur Bon Accord op 107.2% en die Vaal (aan die Vrystaat-kant) op 106.7%.

Die departement doen ʼn beroep op alle Suid-Afrikaners om steeds water te bespaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

snoefie ·

en in sie gesig van hierdie verskriklike droogte sien die munisipaliteit van einate kaapstad kans om water met 35% te verhoog om (hou vas) oo te maak vir hulle verlies van waterverkope. word wakker!!!!!

Wonder ·

Vaaldam is 106.7% aan Vrystaatkant, wonder hoeveel aan Gauteng- en Mpumakant?

Penellope Jones ·

Bly maar net glo, vertrou en bid dat dit sal reen in die droogte geteisterde gebiede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.