Gauteng-dokters wag nog steeds vir salarisse

Argieffoto (Foto: Parentingupstream, Pixabay)

Ondanks beloftes dat alle persone wat internskappe doen en gemeenskapsdiensdokters by hospitale in Gauteng teen Donderdag hul salarisse sou ontvang, duur die vertraging in uitbetaling voort.

Volgens die Demokratiese Alliansie het die provinsiale departement van gesondheid bevestig dat daar ʼn vertraging is met die betaling van salarisse vir Januarie ná ʼn administratiewe fout waar hul poste nie betyds geskep is nie.

Die departement het vroeër vandeesweek onderneem om die salarisse op die laatste teen 7 Februarie te betaal.

Die DA het gesê slegs 552 uit 1 378 junior dokters het hul vergoeding teen 31 Januarie ontvang; terwyl sommige op spesiale verlof geplaas is, omdat hulle nie vervoer of kos kon bekostig nie.

“Junior dokters by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg word die ergste hierdeur geraak en het verlede naweek geweier om te werk,” het Jack Bloom, skadu-LUR van gesondheid in die provinsie, Donderdag gesê. “Dit is onverskoonbare behandeling van professionele mediese personeel wat vanjaar vir die eerste keer begin werk het.”

Hy het bygevoeg die departement se bewering, dat die probleem veroorsaak is omdat die poste te laat op die stelsel bygevoeg is, is ʼn swak verskoning. “Dit is net nog ʼn teken dat die (regerende) ANC in Gauteng versuim om probleme in die departement, wat deur korrupsie en wanbestuur geteister word, op te los.”

Die departement het gesê hy het tans 1 528 internskappe in die provinsie, alhoewel die aanvanklike getal 1 378 was. Die bykomende 150 personeellede is bygevoeg om seker te maak dat alle studente, wat ʼn internskap moet doen, die geleentheid kry om hul studies af te handel.

Maroela Media het vroeër berig Solidariteit Jeug sal ʼn klag by die departement van arbeid indien rakende dié nie-betaling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jef ·

Ag solank die anc comrades hulle vet salaris ontvang elke maand vir niks doen dan hoort dit seker maar so
En dokters wat mense help om gesond te word ontvang niks hoort ook seker maar so volgens anc beleid gmmmf patetiese klomp narre

Elsa ·

Man, hoe mis ek darem nou my werk waar ek mag gehad het om iemand se bankrekening kon vries…
Vet katte sou maande sonder n sent gesit het.

Dan vra hulle hoekom dokters wil staak.

Boer ·

Ek het n goeie akademiese pos by goeie staathospitaal 30 jaar gelede gehad. Toe al het rompslomp en lui mense veroorsaak dat ek in privaatsektor gaan werk het. Mediese fonds het veroorsaak dat ek 10 jaar gelede kom boer het en nou het ek vrede op my plaas. Ten spyte van eef en droogte ens is dit hier waar ek wil doodgaan as ek 90 is. Helfte van my pelle is in kanada vir groot geld maar die koue sal my doodmaak. Die arme junior dokters wat so misbruik word gaan ook oor 2 jaar hulle tassies pak!!

Magriet ·

In die Oos-Kaap is daar ook Zuma-jaar mediese personeel wat ook nie hul salarise gekry het nie. Ek weet van ‘n dame wat by ‘n hospitaal in die Oos-Kaap haar Zuma-jaar begin het en glad nie salaris ontvang het nie. Haar ouers is nie in staat om haar finansieel te help nie. Sy moet huur betaal, studieskuld, petrolgeld om by die werk te kom ens….hoe?

ne ·

Skande op skande vir die anc. Sal julle verniet werk en nie salaris kry nie? Daai dokters het studie skuld en ander uitgawes/dalk gesinne, maar nee die mense weet nie hoe om ander te betaal nie want daar bly dalk nie genoeg oor om die kaders te betaal nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.