Gauteng gekap oor Konstitusionele Hof-aansoek oor Tshwane

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering in Gauteng. (Foto: Twitter)

Die DA en die VF Plus het die Gautengse regering gekap oor sy aankondiging dat hy hom tot die Konstitusionele Hof sal wend rakende die administrasie van die Tshwane-metro.

Lebogang Maile, LUR vir samewerkende regering, het dié besluit van die Gautengse uitvoerende komitee Donderdag aangekondig in reaksie op verlede week se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria waar die besluit om die raad onder administrasie te plaas, omgekeer is.

Die DA het verlede maand ʼn dringende aansoek gebring om Maile se besluit om die raad onder administrasie te plaas, ongeldig te laat verklaar. Die metro is op 4 Maart onder administrasie geplaas.

Maile het intussen gesê die provinsiale regering respekteer die Grondwet en dat die komitee se fokus op die ondersteuning en versterking van munisipaliteite tot gevolg het dat hulle intree en nie wag tot ʼn munisipaliteit in duie stort nie.

Volgens Maile is die uitvoerende komitee van mening dat ʼn ander hof, spesifiek die Konstitusionele Hof, die beslissing van die hooggeregshof sal omkeer. “Belangriker nog is dat die uitspraak belangrike grondwetlike en regskwessies aan die lig gebring het, en as dit onbetwis en onduidelik bly, sal dit ’n slegte presedent skep.”

(Foto: DA/Twitter)

Randall Williams, DA-burgemeesterskandidaat in Tshwane, het gesê die ANC se appèlaansoek is niks anders as ʼn vermorsing van belastingbetalers se geld nie.

“Die voortgesette pogings om Tshwane te destabiliseer word polities deur die ANC gedryf en dit belemmer dienslewering, aangesien die inwoners ongelukkig aan die ontvangkant van die ANC se vertragingstaktiek is.”

Volgens Williams kan die ANC nie vrede maak met die feit dat kiesers die party in 2016 uitgestem het nie.

Die VF Plus het die aansoek bestempel as ’n desperate poging tot die ondermyning van ’n demokraties verkose koalisieregering.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se nasionale voorsitter, het gesê sy party beskou die aansoek as niks anders nie as ’n desperate poging om die mag in die metro op ’n ondemokratiese wyse te bekom.

“Daar is geen sprake daarvan dat die ANC demokrasie eerbiedig nie. Die ANC dompel hiermee die toekoms van die Tshwane-metro en al sy inwoners in verdere onnodige onsekerheid terwyl die nasionale plaaslike regeringsverkiesing waarskynlik in net meer as ’n jaar sal plaasvind.”

Indien Maile se appèl sou slaag, sal dit volgens Alberts ’n belaglike situasie skep waar ’n baie duur tussenverkiesing in die metro moet plaasvind en binne ’n jaar weer ’n nasionale plaaslike regeringsverkiesing.

“Dit is uiteraard ’n vermorsing van geld en energie en sal veroorsaak dat inwoners verkiesingsmoeg word terwyl hulle eintlik smag na goeie dienslewering wat tans nie plaasvind nie.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Hy is een van daai 30 % slaagsyfer kinders mors belasting geld

Fedup

Service delivery and democracy is 2 very big words for the anc to grasp. Neither can they spell it nor can they understand it. Unschooled, hypocrites and stupid.

Karlahari

Wat ek nie kan verstaan is dat die ANC die party is wat raads vergaderings geboikot het en besluite nie geneem kon word nie.
Hulle provinsiale regering besluit dan dat dienste nie gelewer word nie deurdat hulle (ANC) die munisipaliteit lam lê en die regter sien dit in en nou wil hulle teen hulle self appéleer?
Maar die Vrystaatse ANC beheerde misluktepaliteite word toegelaat om te bestaan?
Ace. Ek verstaan nie.

Jaco

dit was nog erger in Zimbabwe. toe regters daar gese het Mugabe se afvat van wit boere se grond is ongrondwetlik, het hy eenvoudig daardie regters afgedank en vervang met regters wat konsekwent sy beleid goedgepraat het. mark my words: dis besig om in SA ook te gebeur…

henndrik

Ek het geen probleem dat hulle dit na ‘n hoër hof to neem nie op voorwaarde dat die ANC die kostes daarvan dra en nie die belastingbetalers nie.