Gauteng gereed vir matriekeindeksamen

Argieffoto

Die Gautengse departement van onderwys het Dinsdag gesê matrikulante sal Woensdag met hul eindeksamen begin.

Steve Mabona, woordvoerder van die departement, het gesê altesaam 111 775 voltydse skoliere en 41 599 deeltydse kandidate is vir die eksamen geregistreer. “Dit is 4 612 kandidate meer as verlede jaar. Die Gautengse regering het die hoogste getal inskrywings vir die eksamen.”

Altesaam 1 007 sentra is in 15 distrikte gereed om die eindeksamen te administreer. Van dié sentra is 667 staatskole, 235 onafhanklike skole, 87 AET-sentra, 11 korrektiewedienste-sentra en sewe toegewyde sentra.

Mabona het gesê alle toesighouers is amptelik aangestel en opgelei. “ʼn Omvattende netwerk is oor die provinsie heen aangestel.”

Reëlings is ook getref om die verspreiding en invordering van vraag- en antwoordstelle te bestuur. “Die proses sal daagliks bestuur word. Ons is tevrede met die sekuriteitmaatreëls wat getref is, maar ons kan ongelukkig nie die besonderhede hiervan bekend maak nie,” het Mabona bygevoeg. “Ons het alles in ons vermoë gedoen om seker te maak dat leerders die bes moontlike kans het om goed te doen in die eksamen.”

Die departement het ook ʼn ooreenkoms met Childline om leerders by te staan wat druk ervaar weens die eksamen of ná hulle uitslae ontvang het. Leerders kan Childline tolvry kontak by 0800 055 555. “Ouers en lede van die gemeenskap word ook gemaan om kontak te maak indien hulle ondersteuning benodig vir ʼn leerder wat moontlik nie die druk kan hanteer nie.”

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, wens alle graad 12-leerders alles van die beste toe vir die eksamen.

Die uitslae sal op 7 Januarie 2020 bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hannetjie ·

Natuurlik moet hulle gereed wees…hoe dan?
Sterkte aan die hele land se matrieks…werk hard bring julle kant

Kaaskop ·

Om ‘n 30% slaagsyfer te kry dink ek ek kan ook na 50jaar weer my matriek gaan skryf en slaag! Hoe gereed wil/kan/moet mens wees om so ‘n syfer te bereik?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.