Gauteng-gesin weier glo kwarantyn

Argieffoto (Foto: ANA)

Die Gautengse departement van gesondheid maan lede van die publiek om met gesondheidswerkers saam te werk in die lig van die uitbreking van die nuwe koronavirus (Covid-19).

Kwara Kekana, woordvoerder van die departement, het gesê ʼn gesin het geweier om in kwarantyn geplaas te word. “Die vrou en die dogter het beide positief getoets vir die virus. Die man het geweier om getoets te word. Hy het die hospitaal verlaat sonder dat enige monsters geneem is.”

Die departement het die Johannesburgse hooggeregshof Maandagaand dringend genader om seker te maak dat hy nie sonder ʼn hofbevel inbreuk maak op mense se grondwetlike regte nie. “Die hofbevel is vanoggend omstreeks 01:00 toegestaan ten gunste van die departement.”

Die saak is direk by die polisie aangemeld om die gesin op te spoor. “Ons is bly om aan te kondig die gesin is Dinsdagmiddag omstreeks 12:30 opgespoor en daar word tans na hulle omgesien by ʼn toegewyde gesondheidsfasiliteit.”

Kekana het gesê die departement loof die polisiediens dat hulle so vinnig reageer het.

“Soos pres. Cyril Ramaphosa Sondag gesê het: ons moet saam werk om hierdie pandemie te bestry.”

Intussen is twee toeriste ook in Nieu-Seeland in aanhouding en sal waarskynlik gedeporteer word ná hulle self-isolasie-vereistes geïgnoreer het. Owerhede in Nieu-Seeland het Saterdag aangekondig elke persoon wat die land van enige ander land in die wêreld besoek, moet 14 dae lank self-isoleer.

Immigrasie Nieu-Seeland (INZ) het gesê die twee persone, wat Maandag van Suidoos-Asië aangekom het, is nou vir 14 dae in kwarantyn geplaas en sal daarna die land moet verlaat.

“Hierdie tipe gedrag is heeltemal onaanvaarbaar en sal nie geduld word nie,” het Stephen Vaughan, woordvoerder van INZ, gesê. “Om gedeporteer te word, hou baie ernstige gevolge in. Dit beteken dat individue verbied word om vir ʼn sekere tyd lank na Nieu-Seeland terug te keer en hulle sal moontlik ook sukkel om na ander lande te reis.”

Nieu-Seeland het tans 11 bevestigde gevalle van Covid-19.

Wil jy op die hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eugene ·

Mense wat so ander se lewens in gevaar stel moet ten sterkste gestraf word. Daar is nie plek vir hulle in die samelewing nie

Jack ·

Ek glo natuurlik dat ons gesondheids stelsel onbevoeg is en meer skade sal aanrig aan my gesondheid. Ek verkies ook eerder om na myself om te sien. Om in die staat se gesondheids ratte te beland is so gevaarlik soos om in SA se regstelsel vas te val. Ek verkies om na myself om te sien. My kanse is beter.

netekalleen ·

Hulle moet mens atleast die keuse gee om te selfissolleer in so geval. Maar die man van die gesin kon uit lojaliteit vir ons land homself laat toets het. Lyk my sy plan was om nog ander onskuldiges aan te steek

Marcello ·

In George is ook so geval , die vrou het weggehardloop toe hulle haar in kwarentyn wou sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.