Gauteng-gesondheidshoof geskors

Dr. Barney Selebano, die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement. Foto: http://www.health.gpg.gov.za

Dr. Barney Selebano, die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement. Foto: http://www.health.gpg.gov.za

Dr. Barney Selebano, die hoof van die Gautengse gesondheidsdepartement, is met onmiddellike inwerkingtreding geskors na aanleiding van die dood van minstens 94 psigiatriese pasiënte in die departement se sorg.

Die hoof van geestesgesondheid by die departement, dr. Makgabo Manamela, het ook ʼn kennisgewing van voorneme om geskors te word, ontvang. Sy het 48 uur kans om redes te verskaf hoekom sy nie geskors behoort te word nie.

Die Gautengse provinsiale regering het Woensdag gesê die skorsingskennisgewings wat aan Selebano en Manamela gegee is, vorm deel van die aanbevelings in die gesondheidsombudsman se verslag rakende die sterftes van die psigiatriese pasiënte. Dr. Ernest Kenoshi, wat onder meer die Steve Biko Akademiese Hospitaal vir 15 jaar bestuur het, is as die waarnemende hoof van die departement aangestel.

Intussen is ʼn taakspan van senior beamptes en kenners soos dokters, psigiaters, sielkundiges en arbeidsterapeute steeds besig om inspeksies by al die nie-regeringsorganisasies (NRO’s) te doen waar psigiatriese pasiënte tans versorg word nadat hulle van Life Esidimeni oorgeplaas is. “Altesaam 20 NRO’s is reeds besoek en die proses sal teen Vrydag afgehandel wees,” het die departement gesê.

Volgens die verklaring doen die span ook mediese ondersoek van die pasiënte by die NRO’s en skakel hulle deurentyd met die families om hulle op die hoogte te hou van verwikkelinge. “Die span werk ook om instansies te identifiseer wat voldoende toegerus is om vir psigiatriese pasiënte te sorg in ooreenstemming met die Wet op Geestesgesondheidsorg.”

Die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, Qedani Mahlangu, het bedank slegs ʼn dag voordat die gesondheidsombudsman ʼn verdoemende verslag bekendgestel het waarin hy aandui dat minstens 94 psigiatriese pasiënte gesterf het nadat hulle uit die Life Esidimeni-sentrum in Gauteng na NRO’s sonder geldige lisensies verskuif is. Die DA het intussen ʼn aanklag van strafbare manslag teen Mahlangu aanhangig gemaak.

Woensdag het Solidariteit Helpende Hand aangekondig die organisasie gaan ’n klasaksiegeding teen die departement van gesondheid van stapel stuur na aanleiding van die pasiënte se tragiese dood.

Die aksie sal deel uitmaak van ’n drieledige strategie om aandag te gee aan die Life Esidimeni-kwessie: Helpende Hand wil aansoek doen om ’n strukturele interdik om die departement te dwing om binne 90 dae op ’n gestruktureerde basis onder die howe se toesig planne aan die hof voor te lê om te verseker dat so ʼn situasie nie weer sal voorkom nie.

Voorts sal die voorgestelde interdik ook versoek dat die staat binne 90 dae ná die eerste verskyning weer aan die hof ʼn verslag moet voorlê hoe die planne toegepas is. Laastens wil Helpende Hand die hof versoek om die saak te verwys na die klagtes wat ingedien is by Direktoraat vir Openbare Vervolging (DOV).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

jean ·

Geskors, sekerlik met volle salaris…….ons het geen probleem met die wat onder die vreeslikste omstandighede gesterf het…….niks.

m ·

Begin net vir n slag BEKWAME mense aanstel dan sal hierdie tipe dinge nie gebeur nie. So eenvoudig soos dit. Kyk vir n slag verby kleur en politiek en dit sal goed gaan.

humor ·

Solidariteit, Helpende Hand dankie dat julle die hand op hierdie saak le en groot sukses vir julle

Magda ·

Ek stel voor as jy geskors word – moet dit met 30% betaling wees, en as jy onskuldig is sal die ander 70% dan aan jou uitbetaal word – maar as jy skuldig is dan word die 30% van jou pensioen af getrek – Hierdie mense voel absoluut niks vir niemand nie – en verdien om ook geskors te word van die Mediese rol as die saak afgehandel is. Die staats Hospitale se diens is so swak – en al dien jy n klagte in – word dit gefile in file 13 en kom daar niks vanaf nie – Ek weet waarvan ek praat want ek is so behandel by Kalafong en loop met n 2cm+ gewas in my linker nier en is gese dat dit nie groot genoeg is om enige behandeling nou te doen nie – en as ek weer diens wil he moet ek van vooraf begin en dit is by die kliniek en weer alles van vooraf doen wat my die eerste keer 6maande geneem het om enige resultate te kry.So ek weet nie – loop maar met die pyn en gewas.

lettie ·

Magda dis hartseer. Ons kry eenvoudig nie waarde vir belastinggeld nie. Dit word eerder gesteel terwyl die huisloses huisloos bly, die siekes siek bly, die onderwysstelsel die kinders faal, die werloses werkloos bly en eksdom ons verarm omdat daar ongeruimdhede is en ons met peperduur krag sit.

Speedguard ·

Wat van die agbare Minister, dit help nie jy kap die stert af nie, dit is of die kop of is dit maar net weer ‘n toe smeer spul!!

Anita Meyer ·

Wie moet ek kontak om ‘n klag in te dien vir ‘n pasient wat oorlede is?

Vergeet ·

Hy gaan maar net weer erens anders deploy word al word hy skuldig bevind. Glo julle nog regtig in vervolging en enige straf vir ANC kaders? Hulle gaan ‘n paar rand aan die slagoffers se families uitbetaal en jy gaan die ou se gesig en naam vergeet, so ook die LUR s’n wat die skip gejump het.

Alida ·

Dit gaan nie hier oor vergoeding of geld nie. Die mense is dood. Dit gaan oor geregtigheid. Hopenlik sal die gesondheidsdepartemente nou besef dat hulle opgeleide mense moet aanstel met integriteit en nie net werk skep vir die werkloses nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.