Gauteng glo binnekort gebuk onder tweede virusgolf

Argieffoto

Die departement van gesondheid is bekommerd dat die tweede golf van die koronavirus teen volgende week die ergste in Gauteng gaan wees.

Só het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Dinsdagoggend gedurende ’n virtuele mediakonferensie rakende die koronavirus gesê.

Meer as 7 000 nuwe gevalle is Maandag saam met vlak 3 van afsonderingsregulasies aangekondig.

Die meerderheid van die land se nuwe gevalle is in KwaZulu-Natal aangemeld (30,5%) gevolg deur die Wes-Kaap (29,4%), Gauteng (24,8%) en die Oos-Kaap (5,1%).

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid. (Foto: Twitter)

Die infeksiekoers vir al die pas getoetste mense in Suid-Afrika staan tans op 32,9%. Die koers is buitengewoon hoog en ’n groot bron van kommer aangesien die infeksiekoers eens op 10% en minder gestaan het, het die minister vanoggend uitgewys.

Altesaam 11 256 pasiënte in Suid-Afrika is tans in ’n hospitaal opgeneem met Covid-19. Dié pasiënte maak in die stadium 8,3% van die land se aktiewe gevalle uit. Altesaam 3 543 van Covid-19-pasiënte in die land se hospitale is tans op suurstof terwyl 604 aan ’n ventilator gekoppel is.

Die minister het ook gesê die meerderheid distrikte in Suid-Afrika is tans in die sogenaamde reaksiefase – dit beteken die distrikte se aantal Covid-19-gevalle is groter as of gelyk aan ’n 20%-toename in nuwe gevalle vergeleke met sewe dae vantevore.

Volgens Mkhize kom die land se hospitale in die stadium die mas op hoewel die druk aan die toeneem is. Die algehele beskikbaarheid van persoonlike beskermingstoerusting (PPE) in die land staan tans op 87,1%.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.