Gauteng het dalk kruin van Covid-19 bereik

‘n Vrou laat doen ‘n Covid-19-toets by die OR Tambo-lughawe. (Foto: Phill Magakoe/AFP)

Covid-19 statistieke van die afgelope week dui daarop dat Gauteng moontlik reeds die kruin van die vierde Covid-19-vlaag bereik het.

Volgens dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het die getal daaglikse infeksies sowel as die positiwiteitskoers in dié provinsie die afgelope week afgeneem. Syfers vir provinsies langs die kus het egter skerp begin toeneem.

Tydens die departement van gesondheid se weeklikse mediakonferensie het die minister en ander kenners ʼn grotendeels rooskleurige prentjie geskets in terme van hospitalisasie, ernstige siektes en sterftes wat Covid-19 betref.

Die departement het gister aangekondig dat die land voorlopig op valk 1 van inperking bly.

Suid-Afrika het die afgelope week daagliks meer as 20 000 nuwe gevalle aangemeld en die positiwiteitskoers die afgelope week was meer as 30%, baie hoër as die 24% tydens die kruin van die derde vlaag. Daar is egter nou minder mense wat suurstof en selfs hospitalisasie benodig as tydens die vorige vlae van die pandemie en mense bly nou ook vir ʼn korter tydperk in die hospitaal. Die persentasie sterftes in alle ouderdomsgroepe het ook afgeneem.

In Gauteng, waar die positiwiteitskoers in vorige weke sowat 35% was, het minder as 30% van Gautengers wat die afgelope week vir Covid-19 getoets het, positief getoets. Dit is die laagste van alle provinsies. “Dit wil dus voorkom of Gauteng nou sy kruin bereik het en die aantal nuwe gevalle besig is om af te neem,” het Phaahla gesê.

Argieffoto. (Foto: Elaine Krige)

Dit terwyl die positiwiteitskoers en getal nuwe gevalle in die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal toegeneem het.

Hoewel die hospitalisasies die afgelope week amper verdubbel het, is die persentasie Covid-19-pasiënte wat opgeneem word nadat hulle positief getoets het, baie laer as tydens die tweede en derde vlae van die pandemie. Die afgelope week het slegs 1,7% van Covid-19-pasiënte nodig gehad om in ʼn hospitaal opgeneem te word.

Die afgelope sewe dae is 7 600 mense met Covid-19 in hospitale opgeneem. Dit is ʼn 70%-toename vergeleke met verlede week. “Ons moet egter in gedagte hou dat dit ʼn toename vanaf ʼn baie lae basis is. Die getal mense wat daagliks met Covid-19 opgeneem word (348) is ook baie laer as tydens die derde vlaag (800), hoewel die getal daaglikse gevalle nou baie hoër is as tydens die vorige vlaag,” sê Phaahla.

Inentings

Phaahla sê die regering is bekommerd oor die lae opkoms by inentingstasies landwyd en dat die departement die afgelope tien dae ʼn afname gesien het in die getal mense wat daagliks ingeënt word. Daaglikse inentings is tans tussen 100 000 en ʼn 130 000. Die regering se doelwit is om meer as 200 000 mense daagliks in te ent.

Dr. Michelle Groome, verbonde aan die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) sê ook mense wat inenting ontvang het, is minder geneig om met Covid-19 in die hospitaal opgeneem te word.

Phaahla het Suid-Afrikaners weer aangemoedig om hulle te laat inent en die veiligheidsmaatreëls vir Covid-19 te volg, ten einde te verseker dat hospitale nie oorweldig word nie en dat die land op vlak 1 van die inperking bly.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

50 Kommentare

Danie ·

Of jy nou pro of anti entstof is, is dit baie duidelik dat die entstof wel n verskil maak. Daar is elke dag n 100 000 mense wat die entstof ontvang en per toeval is daar is soveel minder mense wat ernstig siek word en of hul lewe verloor. Ek is verheug dat al hoe meer mense besef dat daar geen bose magte agter dit sit nie en hul gesonde verstand gebruik.

Hendrik ·

So jy glo en versprei ook die propaganda. Selfs met die lae inentingskoers neem die gevalle af. Dus is dit nie die inentings wat dit laat afneem nie.

Danie ·

Hendrik, ek glo en versprei geen propaganda nie, ek gebruik net my verstand. Asb. ek daag jou uit, vertel vir ons van die propaganda en die eind doel daar agter. Gee ook al jou bewyse oor wat jy kwyt raak en ek praat nie van video links nie maar konkrete bewyse.

MakersMark ·

Antivaxers is die grootste verspreiders van misinformasie en die virus. Ook die grootste persentasie van hul eindig op in die hospitaal of ICU. Die grootste kermers oor lockdowns en die inentings paspoorte wat kom. En veg vir “vryheid”…..wees dan vry om te kies soos hul wil hou net op om valse inligting te versprei. En te kerm oor hul vakansie by die see, geldsake wat deur die “mensgemaakte” virus omvergegooi is of die bottelstoor wat nou ‘n uur vroeër toemaak. Nog nooit so klomp hulpeloses teëgekom nie. Als is ‘n sameswering. Maar die oplossing reg voor hul.

Alfred E Neuman ·

Danie, n mens kan maar net spekuleer oor sekere mense se onvermoeë om logika te kan verstaan.

Cherokee ·

Stem saam met jou Alfred. Maar probeer ten minste, asseblief. Ons hoop julle sal tot die besef kom.

Cherokee ·

Die ‘julle’ in die kommentaar, is natuurlik gerig aan Alfred & kie.

MakersMark ·

Onvermoë is ‘n sagte stelling my siening hel meer oor na onnoselheid toe.

Cherokee ·

Danie, lees Openbaring 13, en dán sal jy miskien jou opinie oor wat jy sê van ‘geen bose magte’ verander. Sal terugvoering waardeer.

Danie ·

@Cherokee, ek het so gemaak en dit verander nie my siening nie. Ek dink as jy dit wil verbind tot die huidige situasie, sal jy n konektasie kan maak maar so ook met 1000de ander goed. Ek is geensins nie bereid om na n ander opinie te luister met is oop vir enige sinvolle debatte maar ek sien egter nie wat jy daarin sien nie. Miskien glo ek dalk net dat daar nie net bose en sleg in alles sit nie.

Cherokee ·

Baie dankie vir jou terugvoering, Danie. En dankie dat jy dit gelees het. Nou verstaan jy die rede waarom ek en ‘n groot persentasie van die anti-vaxers nie inenting naby ons sal toelaat nie.
Jy lees dit anders. Wees geseënd.
Ons het ons onbuigbare redes.
Daar is nie net boos en sleg in alles, maar jy moet wys wees.

piet ·

MM – Onthou net die seemonster moet ‘n hele paar horings en koppe he anders tel dit nie.

piet ·

Die Corona-virus lyk glad nie soos die beskrywing van die dier in Openbaring nie…dalk moet die horinkies nog groei. LOL

MakersMark ·

Sekere sieners van die toekoms sal met jou stry piet. As die see draak corona is sal hy nie ons kom irriteer nie want die ANC sal die strande toemaak.

Jacob ·

Die afname in ernstige infeksies en sterftes word toegeskryf aan die feit dat Omicron etlike kere minder dodelik is as die Delta variant. Verder word dit ook toegeskryf aan die feit dat meer as 70 % van alle Suid Afrikaners volgens Discovery, reeds Covid 19 gehad het en dus natuurlike immuniteit het.

Om die afname te wil toeskryf aan sowat 26% van Suid Afrikaners wat inge-ent is, is wensdenkery en met alle aanduidinge dat Omicron bes moontlik die einde van die pandemie aankondig, is die vraag, waarom ‘n stof wat nog net vir noodgebruik goedgekeur in my laat spuit. Luister na Kyle Warner en besluit maar self of jy wil inent of nie. Dit bly elkeen se persoonlike keuse.

Alfred E Neuman ·

Hennie ek het die artikell gaan lees, maar kry nêrens die inligting wat jy beweer nie.

piet ·

Ek ook nie Alfred, ek dink hy het ‘n ander artikel opgemaak.

Hennie ·

So jou kon antwoord maar word gesensuur, die persoon sal maar eendag self verantwoording moet doen

MARELIZE ·

Net 1.7% vd wat wel positief toets word gehospitaliseer, m.a.w. die pasiënte is nie so ernstig dat hospitalisasie nodig is nie. Die kruin is reeds bereik dus neem aantal positiewe gevalle af.

My aarde. Is dit so moeilik om in te sien (soos genadiglik die oorgrote meerderheid v SAners) inspuiting is onnodig?

VaalDonkie ·

En daar is ‘n klomp van daai wat vir ander redes in die hospitaal opgeneem is, en bloot terloops positief getoets het.

Francois Le Cochon ·

Marelize, so, as boere saamtrek en bid vir reen, en dit reen, dan was die bid onodig, want dit het in elk geval gereen? Dinge gebeur nie net vanself nie. Daar is altyd eers ‘n aksie, gevolg deur ‘n reaksie. Mense se^ covid is nie ‘n pandemie, want die sterfte syfers is laag, maar hulle hou nie in gedagte dat die sterfte syfer laag is agv sekere maatreels nie.

Cherokee ·

François, lees asseblief die voorspelling in Openbaring 13, en sê dan (daarna) of jou eerste sin van pas is, met betrekking tot jul houding.

MakersMark ·

Help nie om agter godsdiens te skuil nie. Het die in die 1300’s die swart pes ook met sekere hoofstukke in die bybel geassosieër ? Wat van al die plae daarna ? Natuur rampe? Oorlog? Opstande ? Om een wêreld gebeurtenis te neem en te verklaar dis nou die einde is snert. Die eindtye het begin toe Jesus opgevaar het hemel toè. Lees tog die hele bybel, dan mis mens nie die evangelie nie.

bobmartin ·

Waar val jy uit? Marelize het niks van boere en reen gepraat. Sy praat van hospitalisasie, pasiente en inspuitings.

Mrs H ·

Die verdomde inenting verkramp die mense se verstand! Dan praat hulle so graag van hoe slim hulle is en hoe dom ek nou kastig is, want ek kies om op my gesonde immuunsisteem en God te vertrou.. Maar als wat hulles se is teenstrydigge duimsuigery en word met snert vergelyk. Hehehee, nie eens lus om tyd of energie aan die ‘small minded’ te gee nie. Wonder wie is die ‘onnoselle’ lol. Twee jaar later en die wereld bevolking staan nog uiters sterk vir n sogenaamde VERSKRIKLIKE dodelikke virus – common cold …. Het dit oorkom met n gewone loop neus en kopseertjie. Nou natuurlik immuun.

Alfred E Neuman ·

Jy is uiters arrogant en algeheel disrespekvol teenoor dié wat agv die virus gesterf het. Skandelik man, skandelik!

MakersMark ·

Jy sal oplet die AVr’s voel niks vir ander glo net eie leuens.

MakersMark ·

Sies man daar is mense dood aan die virus wat jy nou afmaak as niks. Huisgesinne uitmekaar geruk. Maar dis wat die antivaxers nie wil hoor nie tot hul self of hul familie in dieselfde bootjie is. Verder kerm hul net ipv om te doen wat reg is.

Rudi ·

Dis logies. Baie van Gauteng gaan nou see toe. Ander provinsies sal nou toeneem.

Nico Strydom ·

Dagsê B-Man
Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.
Vriendelike groete
Maroela Media

Andre ·

Wys hoe goed is die alternatiewe medikasie wat werklik werk om selfs parasiete te vernietig.

Esme ·

Ons sal daardie inligting nog kry – Naam, Dag, Datum en selfs hoe lank die variant sal vertoef.

KB ·

Vraag:
Hoeveel mense is al dood vd Omikron-variant? Die mense wat wel dood is…was dit van die Delta-variant? Was hulle ingeënt?
My bron sê EEN mens is wêreldwyd dood aan die Omikron-variant (soos tot en met Dinsdag, 14 Desember 2021).
Wat sê die medici en virologie-spesialiste?

Samuel ·

Ek sou graag wou weet wat werklik in die entstof is. Niemand sê wat die bestanddele is nie. Alles is so wasig. Ek ken die bestanddele in my bloeddruk medisyne. Niks is ‘n geheim nie. Of die entstof werk, bly ‘n ope vraag.

MakersMark ·

Die storie dat niemand weet wat “in die vaksienes” is nie is holrug gery. So ook die storie dat fetusse “vermoor” word om dit te vervaardig, en natuurlik die beste een dat dit “dna verander” en eintlik “gene therapy” is. Facebook wetenskap.

Hendrik ·

Dis maklik, as Gauteng nou die kruin bereik het van die vierde golf, dan kan ons dalk die vyfde golf hê net voor kersfees, met al die gepaardgaande inperkings.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.