Ouers in Gauteng het net sewe skooldae kans om hul kind se skoolplasing vir gr. 1 of gr. 8 vir 2021 te aanvaar.
Aanbiedings vir plasing sal ná dié tydperk verbeur word waarna die plasing aan die volgende aansoeker op die skoollys aangebied sal word, het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR van onderwys, Sondag gesê net enkele dae voor dié provinsie se plasingsfase vir volgende jaar se gr. 1’s en gr. 8’s eerskomende Donderdag afskop.
Die plasingsfase sal tot einde November duur. Skole sal gedurende dié tydperk op grond van hul kapasiteit aanbiedings vir plasings aan ouers via SMS maak. Aansoekers kan tot 31 Oktober aanbiedings vir plasing via SMS ontvang namate daar plek beskikbaar is.
Skole wat met die verloop van die plasingsfase hul volle kapasiteit bereik sal geïdentifiseer en onttrek word aan verdere plasing.
Aansoekers wat nie by die skole waar hulle aansoek gedoen het akkommodeer kan word nie, sal van 1 tot 30 November aanbiedings vir plasing via SMS ontvang van skole wat wel beskikbare ruimte het.
Ouers kan gedurende die plasingsfase meer as een aanbod ontvang hangende die beskikbaarheid van plek by die skole waarvoor aansoek gedoen word. Indien die tweede aanbod aanvaar word, sal die eerste aanbod egter nie meer beskikbaar wees nie.
Lesufi sê skole in Gauteng het volgende jaar kapasiteit vir 373 634 leerders, hoewel sy departement reeds 409 770 aansoeke wat kwalifiseer vir plasing ontvang het. Ouers is toegelaat om by maksimum vyf skole van hul keuse aansoek te doen.
“Die aanname word gemaak dat die meeste leerders geplaas sal word. Die uitdaging is egter dat die meeste skole reeds oorbevolk is weens toelatings in vorige jare.”
Volgens die departement is daar boonop ʼn toenemende vraag na plek in skole in digbevolkte gebiede.
Die LUR het ouers dus daarop voorberei dat baie aansoekers moontlik nie plek gaan kry in een van hul voorkeurskole nie en moontlik geplaas sal moet word in ʼn skool waar hulle nie aansoek gedoen het nie.
Die departement het ook ʼn lys bekend gemaak van die skole wat die meeste aansoeke in die provinsie ontvang het. Volgens Lesufi het al dié skole aansienlik minder kapasiteit as die groot aantal aansoeke wat hulle ontvang het.
Skool | Aantal aansoeke ontvang | Kapasiteit |
---|---|---|
LAERSKOOL AKASIA | 1 515 | 182 |
LAERSKOOL THERESAPARK | 1 237 | 190 |
LAERSKOOL RACHEL DE BEER | 1 073 | 240 |
SELCOURT PRIMARY SCHOOL | 884 | 120 |
LAERSKOOL SILVERTON | 830 | 180 |
ALSTON PRIMARY SCHOOL | 830 | 220 |
ALBERVIEW PRIMARY SCHOOL | 771 | 140 |
HAMILTON PRIMARY | 762 | 90 |
FREEWAY PARK PRIMARY | 761 | 180 |
LAERSKOOL DANIE MALAN | 755 | 154 |
Skool | Aantal aansoeke ontvang | Kapasiteit |
---|---|---|
ALBERTON HIGH SCHOOL | 2376 | 210 |
HOËRSKOOL LANGENHOVEN | 2040 | 280 |
SIR JOHN ADAMSON HIGH SCHOOL | 2025 | 280 |
BOKSBURG HIGH SCHOOL | 2000 | 285 |
HOËRSKOOL AKASIA | 1870 | 210 |
HOËRSKOOL PRESIDENT | 1860 | 270 |
NORTHCLIFF HIGH SCHOOL | 1783 | 300 |
MONDEOR HIGH SCHOOL | 1760 | 310 |
PHUMLANI SECONDARY SCHOOL | 1685 | 300 |
HOËRSKOOL GERRIT MARITZ | 1682 | 210 |
Volgens Lesufi het die departement vanjaar minder vroeë aansoeke vergeleke met vorige jare ontvang. Die departement verwag dus dat die provinsie vanjaar heelwat meer laat aansoeke gaan ontvang.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
19 Kommentare
Gebruik al die geld wat bestee word om nuwe standbeelde te befonds en om dorp en straatname te verander, om eerder nog skole te bou. Of, daar moet briekaangedraai word met die maak van nuwe skoliere…
Waar is al ons belasting geld wat skole moes gebou het. Julle ANC is een groot grap.
wou ook nou net vra waar is die skole wat julle moes bou vir n bevolking wat heeltyd groei ?
En hoeveel nuwe skole is gedurende 2019 tot 2020 boekjaar gebou vir die aanwas van nuwe leerders.
Nee jong,ANC sal nie skole bou nie. Daar is nie eers genoeg onnies vir die bestaande skole nie. Hy sal eerder nog inprop,want “ons” skole werk mos.