Gauteng-inwoners teen hondsdolheid gewaarsku

Argieffoto

Argieffoto

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het ʼn beroep op troeteldiereienaars gedoen om hul troeteldiere te laat inent, nadat verskeie gevalle van hondsdolheid in Gauteng aangemeld is.

Nios het in ʼn verklaring gesê die gevalle van hondsdolheid is spesifiek in Muldersdrift en die Lanseria-gebied waargeneem, waar twee jakkalse met die siekte besmet is. Volgens mediaberigte is ʼn hond in die gebied ook positief getoets vir hondsdolheid.

ʼn Inentingsprogram is in die gebied van stapel gestuur en Nios het ʼn beroep op inwoners gedoen om hul honde en katte te laat inent. Die instituut het ook inwoners gemaan om nie aan enige wilde diere, veral die jakkalse wat mak lyk, te vat nie.

Volgens die Gautengse departement van landbou en landelike ontwikkeling, sterf ongeveer 55 000 mense wêreldwyd jaarliks aan hondsdolheid. Altesaam 44% van hierdie gevalle kom in Afrika voor. Hondsdolheid, ʼn virus wat die senuweestelsel aantas, word deur die speeksel van diere soos honde, jakkalse, muskeljaatkatte en muishonde, wat met hondsdolheid besmet is, versprei.

Simptome van hondsdolheid in diere sluit aggressiewe gedrag en ʼn oordrewe reaksie op klank en lig in. Die diere is gewoonlik rusteloos en gespanne en hap na denkbeeldige insekte. Honde is gedisoriënteerd, dwaal doelloos rond en kwyl. Katte kan abnormale geluide maak en skuim om die bek hê.

Menslike simptome sluit hoofpyn, angstigheid, koors, braking en verlamming in, wat uiteindelik tot ʼn koma en die dood kan lei.

Nios se woordvoerder kon nie Woensdagoggend vir verdere kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Dawie ·

Dit is ‘n verskriklike siekte en mense moet maar versigtig wees om vreemde en wilde diere. Wat ek graag wil weet is hoekom word daar nie gereeld gratis inentings gedoen in alle gebiede nie, of is dit net weer ‘n geldmaak foefie? Jou kinders kan inentings teen kindersiektes vir ‘n minimale bedrag by klinieke kry, maar troeteldiere moet ten duurste by veeartse ingeënt word. Ek vermoed dat die inwoners in daardie gebied in die informele nedersettings se honde seker nie ingeënt sal word nie.

charlene ·

Paul jy is reg geld groei nie aan bome nie. Maar ek het al gesien wat die dr en veaartse betaal vir die medisyne en wat hulle daarvoor vra. Ja hy moet ook sy wins maak maar mense uitbyt???

Eliza-beth ·

Dawie, ons woon buite die stad en ek bedryf ‘n webwef vir ons Estate. Ek is in kontak met die Dep van omgewingsake en word elke jaar ingelig oor gratis inenting en as ek nie van hul hoor kontak ek hulle. Ek versprei dit dmv ‘n epos aan almal hier sowel as aan alle ander mense in die area wat ek ken; ons en die Dep sit plakate op met die datums, ons sekuriteitsfirma wat ‘n baie groot netwerk het kondig dit ‘n paar maal elke aand oor die gemeenskapsradio aan maar mense is eenvoudig lui en laks en ‘n hengse klomp steur hul eenvoudig nie aan dit. Soveel moeite word gedoene n die arme ouens vand ie dep staan in die son en wind en weer by paar plekke hier rond en wag en ek sal jou sê jy sal jou verbaas hoe treurig dit ondersteun word.Nou sit ons met hierdie groot probleem.

Leonie ·

Ek stem saam met jou Dawie. Om al my honde veearts toe te vat vir daai inspuiting gaan my ‘n aaklige bedraggie kos. Ek dink hulle vorige inspuitings het dit ingesluit. Informele Nedersettings sal dit seker gratis kry. As mens gewaarsku word deur die media kan die Regering regtig plan maak om die koste te dra. Baie mense is life vir hulle diere maar het nie geld vir die inspuiting nie.

Charmaine ·

Miskien moet daar gekyk word na al die rondloper/wilde katte in die omgewing, wat die siekte na ons diere kan versprei..

Charmaine ·

Miskien moet daar gekyk word na al die rondloper/wilde katte in die omgewing, wat die siekte na ons diere kan versprei..

Paul ·

Ent jou diere in. Dan hoef jy nie bekommerd te wees nie.

Onthou ook, dis nie net ‘n dieresiekte nie. Mense kry dit ook, en indien dit nie dadelik nadat jy dit opgedoen het, behandel word nie, is die kans byna 100% dat jy ‘n aaklige dood sal sterf.

So om te kla oor ‘n R150 se inspuiting maak regtig nie sin nie. As jy geld het om op die internet te wees en hier kommentaar te lewer, het jy geld vir die inentings.
Sover ek weet bied staatsveeartse dit in elk geval steeds gratis.

Nics ·

Paul ek stem. Mens moet VERANTWOORDELIKE troeteldiereinaars wees. Sorg dat jy steriliseer, inentings op datum is, ontwurm al daai goed – anders moet dan nie troeteldiere aanhou nie, eenvoudig soos dit.Hoekom kla oor geld as dit jou en jou gesin asook jou troeteldier teen ‘n aaklige dood gaan beskerm. Geld kan nie gesondheid koop nie.

Susanne van Graan ·

Gaan asb na die plaaslike SPCA, dit kos omtrent R10.00 per inspuiting, in KZN word honde jaarliks gratis ingeënt, doen net navrae.

charlene ·

Susanne sê asb vir ons waar. Die SPCA naaste aan ons vra my bietjie baie meer as net R 10.00. En my honde en kat bly in die yard. Die informele plekkies kry dit seker vir R 10.00 of minder dat moet ons ander mense wat ook maar swaar trek ten duurste betaal. Kyk is is baie lief vir my diere en alles maar voor ek `n aardige bedrag om so iets betaal moet ek kies, of my kind kry die maand haar meds en kos of ek spuit die honde in. Veeartse vra ook `n ongelooflike groot bedrag, ek verstaan hulle het lank geleer om te kom waar hulle is, maar hoekom mense uitbyt???? Hoekom nie mense eintlik help nou nie?? En Susanne die in nie KZN nie, hier sal jy nie eens `n blokkie ys in die middle van die nag in die middle van die winter verniet kry nie.

Eliza-beth ·

Charlene – net iets: selfs vlermuise byvoorbeeld kan hondsdolheid versprei so om te redeneer jou diere bly in jou erf is verkeerd, daar is hope ander diere wat dit kan inbring NA jou toe. Vir my is geen onkoste ooit te groot om myself, my gesin en my diere te beskerm teen enige siekte soos bv hondsdolheid en ek doen moeite om hul te laat inent. As mens troeteldiere wil aanhou moet mens maar weet daar is kostes. En nou methierdie uitbraak WORD gratis inentings oral in die area gedoen. As mens nie geld het vir die dinge moet jy liefs nie diere aanhou nie, moenie my verkeerd verstaan – ek kritiseer jou nie maar om te sê as jy meot kies tussen inentings vir die diere of jou kind se mediskasie dan kies jy laasgenoemde – en wat as jou kind dan hondsdolheid kry? Nee mense ent jou diere en klaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.