Gauteng is gereed vir akademiese jaar

(Argieffoto: ANA)

Die portefeuljekomitee vir basiese onderwys is tevrede met die algehele gereedheid van die Gautengse departement van onderwys om met die 2021- akademiese jaar te begin.

“Die inligting wat ons ontvang het, stel ons gerus dat skole op 15 Februarie kan oopmaak,” het Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die komitee, in ʼn verklaring gesê. “Die fokus van die aanvang van die akademiese jaar is die behoefte om die veiligheid van onderwysers en leerders te verseker. Die departement het ons verseker dat persoonlike beskermingstoerusting vanaf 3 Februarie 2021 afgelewer sal word en dit sal afgehandel wees voor leer en onderrig begin.”

Wat betref die ontsmettingsprojek van R431 miljoen neem die komitee ook kennis van die inligting wat hy van die departement ontvang het en wag nou vir die afhandeling van die ondersoek voor die komitee ʼn uitspraak kan lewer hieroor. “Die beginsel van deursigtigheid, goeie regering en omsigtige spandering van die belastingbetaler se hulpbronne, bly egter ʼn integrale pilaar van die prosesse van die regering,” het Mbinqo-Gigaba benadruk.

Alhoewel die komitee oor die algemeen tevrede is met die gereedheid, is hy besorg dat die regering nog nie alle leerders by skole geplaas het nie. “Dit sal ʼn negatiewe impak het op die lewens van die 1,48% (3 283 leerders) wat nog nie geplaas is nie. Alhoewel die komitee bewus is van die feit dat Gauteng ʼn migrasie beleef met 222 275 aansoeke vir plasing, wat ʼn ongekende druk plaas op sy stelsels en hulpbronne, het die komitee versoek dat die departement sy prosesse moet bespoedig om dié leerders te plaas.”

Die komitee verwelkom die inligting dat leerder- en onderwysermateriaal byna afgehandel is, met 99,8% van handboeke wat reeds by skole afgelewer is. Die oorblywende skole het versoek dat die departement eers die handboeke aflewer sodra hulle oopmaak, uit ʼn vrees vir diefstal.

“Voortgesette vandalisme by skole is ʼn groot kommer vir die komitee, omdat hulpbronne dan weggelei word van die bou van bykomende skole (wat nodig is om die aanvraag te kan hanteer). Die komitee maan die departement om die sekuriteitsklos en gemeenskappe in die provinsie te betrek om dié uitdaging te takel. “Ons moet dringend vandalisme by skole aanspreek, omdat dit ons kinders beroof van die geleentheid om hul lewens deur onderrig te verbeter. Die algemene samelewing moet eienaarskap neem van skole, omdat hulle kritiek is in die ontwikkeling van gemeenskappe,” het sy bygevoeg.

Wat betref planne om agterstallige werk op te vang, verwelkom die komitee die departement se planne om buite-kurrikulêre klasse aan te bied wat beteken leerders sal voldoende voorbereid wees vir eksamens. Die komitee verwelkom ook planne vir bykomende ondersteuning aan onderwysers vir leer- en assesseringsriglyne.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Met die enorme reinigings rekening kon nuwe geboue opgerig word, sou minder gekos het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.