Gauteng maak plan om agterstand met rybewyse op te los

lisensie

Argieffoto.

Lisensiekantore in Gauteng sal vanaf eerskomende Maandag 70% van hul besprekings en kapasiteit aan die hernuwing van bestuurslisensies toeken in ’n poging om die huidige agterstand uit die weg te ruim.

Bewerings van korrupsie, omkopery en sameswering binne die provinsie se lisensiekantore sal ook vanaf Desember ondersoek word.

Só het Jacob Mamabolo, die Gautengse LUR vir openbare vervoer en padinfrastruktuur, Woensdag gesê ná ’n vergadering met die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC), die Driving Licensing Card Account (DCLA), die staatsentiteit wat bestuurslisensies druk, en lede van die burgemeesterskomitees van alle munisipaliteite en distrikte.

Gautengse lisensiekantore gaan nou aangesê word om hul beskikbare personeel en toerusting vir die hernuwing van bestuurslisensies in te span. Bestuurders wat hierdie opdrag ondermyn, word deur moontlike skorsing in die gesig gestaar.

’n Provinsiale bestuursentrum sal ook opgestel word om lisensiekantore se aktiwiteite daagliks te monitor sowel as om te verseker dat die besluite wat tydens die vergadering geneem is, geïmplementeer word.

Daar sal ook ’n toegewyde span wees om die toerusting en masjiene wat gebruik word om bestuurslisensies te hernu gereeld in stand te hou.

Die departement van openbare vervoer en padinfrastruktuur sal vanaf Desember ook forensiese ondersoeke begin na bewerings van korrupsie, omkopery en sameswering wat glo in lisensiekantore reg oor die provinsie plaasvind.

“Hoewel die huidige Covid-19-pandemie ’n groot impak op die agterstand in die hernuwing van bestuurslisensies gehad het, het dit ook aan die lig gebring dat lisensiekantore oor die jare nie optimaal gefunksioneer het nie. Lisensiekantore se kapasiteit is nie uitgebrei om by die vraag en die druk wat die groeiende bevolking meebring aan te pas nie.

“Ons is egter vol vertroue dat ons met die besluite wat [gedurende die vergadering] geneem is, die agterstande sal kan takel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Kom besoek gerus Nelspruit en Witrivier se onderskeie kantore en ondersoek doeltreffendheid, in die meer as 20 jaar in die Laeveld is diens hier tans op sy laagste punt. Ingryping hier sal welkom wees.

Chris dupreez

Dit is omtrent tyd dat iets gedoen word ,raak sommer ontslae van die useless bestuurders van die kantore.

koos

“dat lisensiekantore oor die jare nie optimaal gefunksioneer het nie”. Niks funksioneer meer optimaal vandat die huidige regime aan bewind gekom het nie.

Thelsa

As die Persone elke dag by die werk is, is dit ‘n beginpunt om die probleem aan te spreek. Die ander oplossing is P-R-O-D-U-K-T-I-W-I-T-E-I-T. Dit help ook nie net om teenwoordig by die werk te wees nie nie want jy kan jou vetkoek en pap by die huis ook gaan eet.

Derek

Hoekom diens nie van die begin af reg gelewer kan word nie gaan mens se verstand te bowe en hoekom daar altyd waghonde moet wees is totaal onverstaanbaar, maar as daar gestrike moet word sal hulle heeldag op hulle voete in die warm son staan en dans. Dit bly maar net n kultuur van eie belang en voel net vere vir dienslewering.