Gauteng-man steeds vermis

Jaco Labuschagne.

Die Gautengse polisie het bevestig die soektog na Jaco Labuschagne (37) duur voort ondanks gerugte dat hy dood gevind is.

Kapt. Tjivhulawi Tshilate, woordvoerder van die Heidelberg-polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn saak van ʼn vermiste persoon word steeds ondersoek nadat Labuschagne Maandag verdwyn het.

Gerugte het Woensdag die ronde begin doen dat Labuschagne se liggaam gevind is. “Dit spruit vermoedelik uit die vonds van ʼn ander wit man se liggaam in Heidelberg, maar ons kan bevestig dit is nie mnr. Labuschagne nie,” het hy gesê.

Maroela Media het Woensdag berig Labuschagne van Elsburg, suidoos van Germiston, het na bewering ʼn boodskap vir sy familie gelaat dat hy sy eie lewe gaan neem voordat hy verdwyn het.

“Die Vispol-triotaakspan van die Ekurhuleni-Oos-polisiegroepering, onder leiding van kapt. Kasaven, het ʼn soektog na hom van stapel gestuur,” het Tshilate gesê. “Sy wit JMC-dubbelkajuitbakkie met die registrasienommer DK 20 TC GP is die laaste keer in die omgewing van Heidelberg gesien.”

Kasaven en sy span het onverpoos in die veld en stormwaterslote langs die N3-snelweg na hom gesoek, maar die soektog het tot dusver niks opgelewer nie.

Dessie Rechner, stigter en direkteur van Pink Ladies, het gesê Labuschagne is Maandag omstreeks 10:00 die laaste keer gesien. “Sy bakkie is 4×4-aangedrewe en het nie ʼn opsporingstoestel nie. Dit wil voorkom of hy depressief is,” het sy gesê.

Hy het vermoedelik ʼn denim en ʼn vlootblou toeknoophemp aangehad toe hy die laaste keer gesien is.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om hulle in hul soektog by te staan. Mense wat Labuschagne of sy bakkie opspoor, word versoek om die naaste polisiestasie of die Elsburg-speurders by 011 827 2306, 011 827 2306 of 011 824 2730 of die Pink Ladies by 072 214 7439, 083 378 4882 of 072 620 7704 te bel.

Rechner het ʼn beroep gedoen op sosialemediagebruikers om ʼn pamflet met Labuschagne se foto en inligting daarop te versprei in die hoop dat Labuschagne vinniger opgespoor kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

honourable member ·

Ai tog ek wens mense wil praat as iets hulle pla en nie familie onder sulke druk plaas van selfmoord nie. Sterkte aan die familie .

Harsteer ·

Dis so hartseer. Soms gooi die lewe ons in paaie waar ons nie wil wees nie. Sterkte aan sy familie. Jul is in ons gebede.. Sterkte

Gesiggie ·

Sterkte aan die Familie, mag jul vrees in vreugde verander… ek hoop regtig dat Jaco veilig sal wees.. dit moet baie erg wees vir die Familie, want waar begin n mens soek, ek glo met die hulp van die Pink ladies, sal daar gou n antwoord wees.. Kom ons Bid vir n wonderwerk..

Elmarie Pretorius ·

Die gerigte dat hy depresief is. Is ONWAAR SY sister en ander familie het bevestig dit nie waar is nie. Mense moet ophou om snert te versprei. Stasn saam en soek Jaco . Vermoedlik aan die Suidkus opgemerk alles leidrade word ondersoek. Taak span van SASR is ook besig saam alle ander instansies en publiek

Ag nee ·

Ag nee, klink of jy kwaad is oor kommentaar, ek sê altydf as jy nie wil hê mense moet jou onder ‘n spesifieke kam skeer nie, moenie in die situasie kom nie. Gewone mense pleeg nie sommer net selfmoord/dood nie, hul stuur nie sulke boodskappe nie. Dit is nie lekker om te lees, maar die man is weg na so boodskap. Troos liewer die familie en bid vir hulle, dit is realiteit, dit is dalk omdat dit altyd om die bos hol eerder as deur die bos, dat hy moed opgegee het, iets was vir hom te veel, hy sal nie sommer net so sms stuur nie. Ek hoop en bid saam met die familie dat hy gevind en gehelp kan word, dit is nie noodwendig uit ‘n negatiewe oogpunt gesê nie.

pixie ·

Dit is verskriklik hartseer maar wanneer ek na sy ogies kyk in die foto sien ek ‘n mens wie depressief is en nie meer lus is vir die lewe nie. Jaco asb. dit is nie die moeite werd om jou lewe te neem nie my maatjie. Ek was ook depressief gedurende Julie en wou myself vergas maar gelukkig het ek Life Line gekontak en ‘n nuwe lewensmaat ontmoet en nou is ek weer lus vir die lewe. Ek bid vir jou veilige terugkeer. Baie liefde. Tannie Pixie (Ek is 70 jaar oud).

Mary ·

Sterkte aan Jaco se familie en vriende, ek hoop hy is veilig. Dis vreeslik as jy na n geliefde van jou soek en nie weet waar om te begin nie. Julle is in ons gebede.

Grace Mugabe ·

Ek is oortuig hy maak iewers kopskoon, maar intussen ly sy familie en dis onregverdig. Laat weet hulle jy is veilig, Jaco! Jy hoef nie terug te gaan nie, maar spaar hulle die foltering van onsekerheid.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.