Gauteng: Meer as 1 200 verdagtes dié naweek vasgetrek

boeie

Foto: SAPD/Facebook

Die polisie in Gauteng het meer as 1 200 verdagtes die afgelope naweek in hegtenis geneem as deel van sy 16 dae lange veldtog teen geweld teen vroue en kinders én om misdaad oor die Kerstyd ʼn nekslag toe te dien.

Kapt. Mavela Masondo, woordvoerder van die polisie, sê die verdagtes is onder meer in hegtenis geneem tydens padblokkades en klopjagte.

Masondo sê 288 persone is die naweek vasgetrek vir kaping, dronkbestuur of die besit van ʼn gekaapte voertuig. Altesaam 346 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met huis- en sakeroof, die besit van dagga en die besit van ʼn ongelisensieerde wapen. Soveel as 277 verdagtes is vasgetrek vir sake wat verband hou met moord en verkragting, 142 persone vir aanranding en 227 vir bedrog en die kwaadwillige beskadiging van eiendom.

Masondo het ʼn beroep op die publiek gedoen om hul samewerking aan die polisie te gee en misdaad aan te meld. Hy het gesê die polisie sal geen steen onaangeroer laat dié Kerstyd nie, en dat misdadigers vir enige misdaad, groot en klein, sal moet rekenskap gee.

Al die verdagtes sal voor einde Desember in die landdroshof in Johannsburg verskyn. Dié veldtog teen misdaad sal nog voortduur tot einde Januarie 2018.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Action Jackson ·

‘n Mens wil nie ondankbaar klink nie, maar hulle doen vir ‘n jaar lank niks….en spring nou op en arresteer links en regs. Seker weer “bonus” tyd…. Dit kan ook wees dat hulle hierdie aksies reg die jaar week vir week uitvoer, en dat die media dan net nie daaroor berig soos nou nie, maar dit klink vergesog.

Jollie ·

Hulle mag dalk vasgetrek wees en in die hof verskyn, maar hoe gou voor hulle weer op straat is en hulle gemene dade voortsit. Dit help niks dat ons Polisie die mense in hegtenis neem sodat hulle net weer more, oormore op straat kan wees nie.

Johan ·

Die polisie kan nie vir die hof voorskryf nie. As die magistraat/landdros/regter borg toestaan of die beskuldigdes op waarskuwing vrylaat kan die polisie niks daaraan doen nie.

Johann ·

Verkiesing verkiesing……skielik is daar polisie, en boosdoeners gevang, en tshirts val uit trokke saam met kos pakkies en Zuptopia betaal sy Zupmaikies vir hul getroue blindelingse diens aan hul bokwagter. Afrika stelsel en sisteem op sy beste.

Andre ·

Syfers van skuldig bevindings van so n optrede word nooit verskaf nie. Maklik om te arresteer.
Andre.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.