Gauteng moet koue sonder krag en water trotseer

Argieffoto

Inwoners van Gauteng word vandeesweek deur ʼn driedubbele uitdaging in die gesig gestaar met yskoue temperature, onderbrekings in watertoevoer en kragonderbrekings in verskeie dele van die provinsie wat inwoners gelyk tref.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SANW) het Maandag gewaarsku temperature in die suide van Gauteng sal tot die laagste nóg vanjaar daal. Die weerdiens verwag dat temperature in Vereeniging tot -4 °C sal daal, terwyl dit -1 °C aan die Wes-Rand sal word, 1 °C in Johannesburg en 2 °C in Pretoria.

Johannesburgers kan ook nie in ʼn warm bad klim om die koue af te weer nie, aangesien die plaaslike munisipaliteit ʼn beroep op inwoners gedoen het om oor die volgende twee en ʼn half dae water spaarsamig te gebruik. Daar sal in dié tyd wateronderbrekings in die stad wees omdat ʼn klep op die hoofpyplyn geïnstalleer word.

Rand Water het om 05:00 vanoggend die watertoevoer afgesny om die klep van Lethabo na die Vereeniging-pompstasie te installeer.

Die watervoorsiener het gesê watertoevoer na al die Gauteng-munisipaliteite kan geraak word, insluitend Sedibeng, Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni. Hierdie gebiede kan onder swak waterdruk of selfs heeltemal droë krane gebuk gaan.

Op die elektrisiteitsfront gaan dit nie veel beter nie. Talle inwoners in Johannesburg en Ekurhuleni is die afgelope naweek in donker gedompel en moes om verskeie redes die grootste deel van hul naweek sonder elektrisiteit klaarkom.

Eskom het gesê inwoners in die noordelike voorstede van Johannesburg, insluitend Fourways, Douglasdale, Diepsloot en Riverside View, het weens ʼn kabelfout kragonderbrekings ervaar.

Die Johannesburgse stadsraad het gesê Forest Town, Parkview en West Cliff het sonder krag gesit nadat ʼn voereenheid wat die Hopefield-substasie voorsien Saterdagoggend onklaar geraak het.

In die ooste het inwoners van Boksburg, Benoni en Edenvale ook sonder elektrisiteit gesit. Die Ekurhuleni‑metro het aangekondig dat daar tot 20:00 vanaand kragonderbrekings sal wees weens instandhoudingswerk aan die kragnetwerke in KwaThema en Tembisa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ronel ·

My tweelingsus bly in Bloemfontein. Hulle het die hele naweek ook nie water gehad nie a.g.v. ‘n gebarste pyp.

Saartjie ·

Ja en liewe Emfuleni gaan daagliks gebuk sonder krag….. Inwoners is al keelvol

Johan ·

Verstaan regtig nie hoekom die SA Weerdiens ‘n “waarskuwing” moes uitreik nie…?

Temperature van -4oC vir Vereniging en onder vriespunt vir die Oos Rand, Wes Rand en Jhb is normaal vir hierdie tyd van die jaar.

Inteendeel, ek het ervaar dat minimum temperature die laaste paar jaar heeltemal te hoog was vir die winterseisoen.

jaco ·

so 2 jaar gelede het ‘n ANC-raadslid vanaf iewers in die binneland gese die Here straf die Wes-Kaap met droogte omdat meeste kiesers daar DA stem. Blykbaar is dit dus die die Here se wil om te stem VIR korrupsie, slaggate in paaie, lae standaard onderwys ens ens ens. En blykbaar is dit “sonde
So nou wonder ek maar net: As die meerderheid kiesers in Gauteng dan ANC gestem het en dis BINNE die wil van God was, watse” sonde” het hulle dan gedoen om met waterbeperkings “gestraf” te word???

Lydia ·

Birch Acres in Kempton Park se krag is van gisteroggend 9 uur af en nog nie weer aan nie. Hulle deel ons ewe rustig mee dat die krag toevoer eers teen 29 Junie 2019, Saterdag herstel sal wees. 7 dae sonder krag. Lekker lekker……………………

Johan ·

Norkem Park, Norkem Park se krag is vanoggend weer af. Die 5de keer in net n bietjie meer as n week. Ons weet nie eintlik meer wat om te doen nie, want die verskonings raak alhoemeer belangriker.

Adri ·

jaco, jy praat lekker twak…wonder of jy weet. As jy niks te doen het nie moet dit nie hier doen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.