Gauteng, Mpumalanga loop deur oor geldbestuur

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die provinsiale regerings van Gauteng en Mpumalanga se departemente van finansies het Dinsdag behoorlik streepsuiker gekry van die nasionale tesourie toe hul begrotingsbestuur skerp gekritiseer is.

Gauteng het darem ook ‘n paar komplimente van die streng tesourie-amptenare ingeoes, onder meer omdat die provinsie nou (soos die Wes-Kaap) ‘n tenderproses volg wat oop is vir die publiek en tenderbedrog dus bykans onmoontlik maak.

Die situasie in Gauteng lyk aansienlik beter as in Mpumalanga, met Gauteng wat ‘n paar hoogs problematiese areas het terwyl Mpumalanga se hele stelsel deur die tesourie as ongeloofwaardig bestempel is.

In Gauteng was dit veral die departemente van gesondheid, onderwys en menslike nedersettings (behuising) wat deurgeloop het.

Die provinsiale gesondheidsdepartement is in die slegste toestand. Die nasionale tesourie wys uit dat die voortdurende veranderings in senior bestuursposisies sowel toerekenbaarheid as dienslewering kan benadeel.

Skoksyfers uit die gesondheidsdepartement sluit in dat die bedrag wat die departement as gevolg van hofsake moes uitbetaal, R22,6 miljard bedra het, waarvan R19,4 miljard weens nalatigheid.

“Regsake neem teen ‘n verstommende pas toe en dit is nodig dat skuldiges aan die pen moet ry,” bevind die nasionale tesourie, wat uitwys dat dienslewering daardeur in die wiele gery word.

Bykans R7 miljard se rekeninge is teen die einde van die finansiële jaar nog nie deur die Gautengse gesondheidsdepartement vereffen nie.

Hoewel die Gautengse onderwysdepartement ‘n pluimpie ontvang vir hul besteding aan nuwe skoolgeboue, loop hulle deur oor swak beplanning vir gevolglike lopende uitgawes soos personeelkoste.

Wat die provinsiale paaie-departement betref, wys die nasionale tesourie uit dat die gevaarlike Moloto-pad tussen Pretoria en Groblersdal binnekort van die provinsiale na die nasionale padowerheid oorgeplaas word.

Die provinsiale behuisingsdepartement loop onder kritiek deur omdat al hoe minder staatsgesubsidieerde huise in Gauteng gebou word.

Aan die positiewe kant word Gauteng daarmee gekomplimenteer dat die provinsie die gewoonte ontwikkel het om eers geld aan ‘n projek toe te wys nadat die projek as gereed geag word, en dat kontantbestuur in so ‘n mate verbeter het dat die provinsie deesdae met ‘n kontantsurplus sit.

Die kompliment oor die instel van ‘n oop tenderproses se glans word effe afgeneem daardeur dat die provinsie sowat R9 miljard aan onbetaalde skuld aan leweransiers het, waarvan sowat R7 miljard deur die gesondheidsdepartement.

In Mpumalanga lyk die situasie aansienlik slegter, met die departemente van gesondheid, onderwys en ekonomiese ontwikkeling wat die ergste deurloop.

Die gesondheidsdepartement oorspandeer sy begroting, en betaal heeltemal te veel vir sommige medisynes, insluitend antiretrovirale middels.

Die departement is laks om pasiëntefooie in te vorder en die uitstaande kostes as gevolg van hofuitsprake is meer as R6 miljard.

Die onderwysdepartement se turf sit behoorlik, met die vereiste norme en standaarde vir skoolfinansiering en leerderfinansiering wat volgens die tesourie nie eerbiedig word nie. Meer as R700 miljoen is intussen onregmatig bestee deur die provinsiale onderwysdepartement.

Die totale werklikheidsvervreemding van die provinsiale departement van ekonomiese ontwikkeling blyk daaruit dat die departement tans die doelwit het om 5% ekonomiese groei per jaar te behaal, maar net 1,5% handhaaf.

Dit is nie die enigste syfer uit Mpumalanga wat die realiteitstoets druip nie. Die nasionale tesourie merk doodluiters op dat die bestedingsvoorspellings uit Mpumalanga ongeloofwaardig is – die naaste wat die sentrale liggaam daaraan kan kom om te bevind dat die provinsiale tesourie jok.

Uitstaande skulde van die provinsie het in die afgelope twee jaar verdubbel tot R1,3 miljard, en die infrastruktuurbestuur van die departemente van gesondheid en onderwys laat veel te wense oor. Dit word vererger deur voortdurende struweling tussen die twee departemente en die provinsiale departement van openbare werke.

Die meeste provinsiale staatsdepartemente in Mpumalanga het gekwalifiseerde oudits gekry weens swak interne beheer, voortdurende veranderings in topposisies en voortdurende vakatures in sleutelposte.

Swak kontantvloeibeheer, deels weens onbetaalde provinsiale rekeninge aan leweransiers hou die provinsiale regering van Mpumalanga ook terug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

So CR… hoe dan nou met jou “persepsie” wat jy bakhand voor die Wereld mee staan? Dan LIEG jy mos blatant oor JOU en die ANC se SA, as die feite wat finansiele CHAOS weergee in ag geneem word? Wat my siek maak is die feit dat die ANC KADERS eenvoudig gewetenloos geld uitgee en weggee asof dit HULLE geld is? Dis tog ons as BELASTING BETALERS se fondse wat hulle links en regs OF weggee… of pocket?

IN YOUR FACE ANC….. julle anargie legacy na amper 25jaar!!!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.