Gauteng-munisipaliteite skuld Eskom miljarde

(Argieffoto: GCIS)

Die Ekurhuleni- en Emfuleni-munisipaliteite in Gauteng se skuld aan Eskom beloop reeds miljarde rand en die kragvoorsiener het die afgelope jaar nie geskroom om kragtoevoer ná dié twee munisipaliteite af te sny nie.

Volgens Eskom skuld die Ekurhuleni-munisipaliteit aan die Oos-Rand altesaam R544 miljoen aan die kragvoorsiener. Die Emfuleni-munisipaliteit, wat onder meer Vereeniging en Vanderbijlpark bedien, skuld sowat R4,4 miljard. Hierdie bedrag het vier jaar gelede nog op R614 miljoen gestaan.

Ná Eskom die kragtoevoer na die Emfuleni-munisipaliteit afgesny het, is in ʼn hofgeding beslis dat groot ondernemings die kragvoorsiener direk kan betaal en nie deur die munisipaliteit nie.

“Eskom doen alle wetlike stappe om die skuld in te vorder en sal seker maak dat die munisipaliteite al hul skuld delg,” het die kragvoorsiener in ʼn verklaring gesê.

Volgens Eskom het Ekurhuleni twee weke gelede die helfte van sy R1,07 miljard se skuld vereffen. Volgens die kragvoorsiener het hy R86 miljoen se rente op die laat betaling gehef.

“Ons sukkel om die res van die skuld uit die munisipaliteit te kry. Talle pleidooie aan die burgemeester om die skuld te vereffen, val egter op dowe ore.”

Die Ekurhuleni-munisipaliteit het egter in ʼn verklaring aangevoer dat hy nie agterstallig is met betalings aan Eskom nie en dat die kragvoorsiener op historiese skuld hamer.

“Die munisipaliteit het by verskeie geleenthede Eskom se neiging om wetgewende finansiële praktyke te verontagsaam, betwis. Dit is die grondslag van die dispuut wat by die Nasionale Tesourie aanhangig gemaak is,” sê die munisipaliteit.

Die munisipaliteit sê hy sal nie huiwer om ʼn hofgeding teen Eskom te begin oor sy versuim om aan die bepalings van munisipale finansiële wetgewing te voldoen nie. Hy het ook reeds aan Eskom geskryf en gevra om hul uitlating oor die agterstallige gelde in die openbaar terug te trek.

“Hierdie optrede is ook bedoel om te verseker dat elektrisiteitstoevoer aan inwoners nie onregmatig ontwrig word nie.”

Die munisipaliteit het ook aangedui hy gaan die rentebedrag betwis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Suzette ·

Die kader munisipaliteite kan nie nie verwag dat hulle krag kan verbruik maar nie daarvoor betaal nie – WAT verstaan hulle nie? Dit is omdat die onbekwame, oormatige aanstellings al die geld opvreet. Die Mangaung Metro is dieselfde (dit geld vir meeste van die munisipaliteite). Hier word mense aangestel in die kantore van die kaders en ‘n metro polisie ontplooi (wat bokkerol doen) met geld wat die munisipaliteit nie het nie. Die mense wat wel werk is so min, hulle kry nie als gedoen nie en toerusting is stukkend want om parte te kry vat maande. Maar as daar ‘n sokker game is – sjoe dan moet die haas uit die hoed geruk word om daardie veld gesny te kry. Of as daar ‘n kader in die hof verskyn, eish, dan moet die strate skoon kom. Bo blink onder VROT!

marius ·

Verkoop die gemors se goed op veilings . Tot die burgemeester se ketting . Dis wat hulle aan gewone mense doen .

Hennie J ·

Jy is 100% korrek—tree op teen die goed en verneder hulle. Die burgemeester se stoel, sy ampsvoertuig,sy kantoormeubels tesame met dit van ander sogenaamde ampsdraers en kader-amptenare.Amper vergeet ek…….ook die fiets waarmee hulle die bode stuur om kfc te gaan koop!

Marius ·

Nou wie het die knaap ‘n burgermeester gemaak? Hy moet dalk sy goue ketting teruggee. Die geld is al so lank nie betaal nie daarom word dit afgemaak as historiese skuld. ESKOM moet die krag af hou totdat die rekening ten volle vereffen is.

Blikkies ·

Die Munisipaliteit beter vinnig ‘n plan maak en die foute regstel. Ek bly in daardie wyk en ek betaal dat ek hoes…

Andries ·

Nou wie de mr is verantwoordelik vir die”historiese skuld”. Klap hom, Jan van Riebeeck, sodat hul kan wakker word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.