Gauteng ontken 72 pasiënte is binnekort haweloos

(Foto: Tswelopele Frail Care/Facebook)

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling sê hy neem met kommer kennis van ʼn “misleidende verklaring” deur die Demokratiese Alliansie dat 72 verswakte en gestremde pasiënte van die Tswelopele-sentrum nêrens heen sal hê om te gaan nie en haweloos sal wees sonder behoorlike toegang tot versorging.

Bronwyn Engelbrecht, die DA se woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het in ʼn verklaring gesê die sentrum sal amptelik teen die einde van Maart sluit. “Dit is weens ʼn gebrek aan ondersteuning van die departement en meer as 70 pasiënte sal geen heenkome hê nie.”

Tswelopole is ʼn niewinsgewende organisasie wat al 17 jaar lank in Hillbrow in Johannesburg bedrywig is. Dit het oor die jare 24 uur versorging vir sy verswakte inwoners gebied, asook maatskaplike dienste en veiligheidsbeddens.

Die sentrum het ook leergeleenthede gebied vir verpleegstudente en finalejaar- mediese studente. Altesaam 55 personeellede sal na verwagting ook hul werk verloor as die sentrum sy deure sluit. Die sentrum skuld tans R3 miljoen in agterstallige huurgeld.

Engelbrecht en Tswelopele sê die sentrum versoek al sedert 2019 bystand van die departement, maar die sentrum het nog net een keer iets van die departement teruggehoor.

Tswelopele maak staat op ʼn subsidie van die departement. Dit is egter nie voldoende vir stygende kostes en skuld nie.

Feziwe Ndwayana, woordvoerder van die departement, ontken egter die bewerings.

“Die departement is bewus daarvan dat die organisasie deur sy verhuurder uitgesit word, omdat hy agterstallig is met sy huurgeld,” sê sy. “Die departement het dadelik gesprekke gehou met die raad en die personeel en alternatiewe fasiliteite verseker om die persone heen te skuif, naamlik twee huise vir persone met gestremdhede en ses ouetehuise. Familielede is ook gekontak en het tussen 7 en 11 Maart die geïdentifiseerde fasiliteite besoek.”

Ndwayana sê Tswelopele is hof toe gesleep oor die agterstallige huur. “Die departement was een van die respondente saam met Stad Johannesburg. Die niebetaling van die huurgeld deur die sentrum is nou ʼn regskwessie en die saak is op 31 Januarie 2022 in die Johannesburgse hooggeregshof aangehoor. Die saak is van die hofrol geskrap, kragtens ʼn ooreenkoms tussen die partye op voorwaarde dat die departement die aksieplan vir die plasing van die begunstigdes by die alternatiewe fasiliteite sal implementeer.”

Sy sê die departement kan bevestig dat hy alternatiewe plasing bekom het, saam met die departement van gesondheid, “om seker te maak dat daar voldoen word aan alle gesondheidsvereistes voor en tydens die oorplasing van begunstigdes na die alternatiewe plasing”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Nico ·

Hoekom, kruip hierdie mense weg, is hulle bang vir die waarheid, gaan dit dieselfde wees as die Life Endumeni geval wees,

Jacobus ·

Dis ‘n finansiële kwessie. Kaders om te betaal en karre om te koop! Lewensloop van ANC! SKANDALIG!

Mariana ·

As die Departement sy plig gedoen het, sou die huur nie agterstallig geraak het nie. Daar sal maar altyd verskonings uitgedink word. Dit is ‘n skreiende skande hoe die regering die land se oumense, gestremdes en ander hulpbehoewendes behandel. Gee maklik geld vir die wat nie wil werk nie en die wat net kinders maak, maar vir hulle wat regtig sorg nodig het, is daar geen hulp. Karige pensioene help ook nie

Sarel ·

Nog of weer ‘n Esidimeni…terwyl niemand
verantwoordelikheid aanvaar nie..

Swerwer ·

Kyk hierdie kom darem nou al van 1994 af. Toe is daar al gesê dat mense wat verstandelik gestrem is nie ‘n reg op die lewe het nie en dat al die instansies en skole gesluit moet word. Dit was ‘n donker tyd vir ons as ouers en familie want waarheen dan. Ons Hemelse Vader het ons bygestaan dat met groot gevegte die instansies oorleef het tot nou toe. Dit is omdat die “Besluitnemers” nie die vaagste benul het wat dit beteken om ‘n kind/familielid te versorg nie. Eintlik is die groot rede die Gestermde kan nie finansiël bydra tot die Staatskas nie, en ongelukkig by die ANC gaan alles oor geld en mag.
Daar is/was baie Engele in die samelewing wat hul lewens opoffer vir gestremdes se versorging sonder dat die ANC ooit bewus is daarvan. Dit is Engele wat spesiaal op aarde geplaas is om na die mensies om te sien, maar dit sal die ANC nooit aanvaar nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.