Gauteng-ontsnapping: 5 van 20 weer vas

Die verdagtes wat ontsnap het. Foto: Verskaf

Vyf van die 20 verhoorafwagtende gevangenes wat Dinsdagmiddag uit ʼn polisiewa in Johannesburg ontsnap het, is weer agter tralies.

Kol. Lungelo Dlamini, provinsiale polisiewoordvoerder van Gauteng, het Donderdag aan Maroela Media bevestig verskeie leidrade is opgevolg wat tot die vyf se inhegtenisnemings gelei het.

Kingley Jooste, Simtembile Moni, Vincent Mowabisi Vandala, Rushden Katz en Sabelo Mbanjwa is dié wat aangekeer is en gaan nou ook van ontsnapping uit wettige aanhouding aangekla word.

ʼn Volskaalse soektog duur steeds voort na die 15 wat steeds die polisie ontduik.

Maroela Media het Woensdag berig die polisiewa het die gevangenes teen 16:00 van die Johannesburg-landdroshof na die Johannesburg-Sentraal-gevangenis vervoer toe die ontsnapping plaasgevind het.

“Die vangwa is by Pat Mbathaweg naby die South Gate-treinstasie in ʼn hinderlaag gelei. ʼn Groep swaargewapende mans het met gewere toegeslaan en die wa se deur oopgebreek, waarna die gevangenes ontsnap het,” het Dlamini gesê. Polisiebeamptes is nie tydens die voorval beseer nie.

Die ontsnaptes word aangekla van verskeie misdrywe waaronder gewapende roof, huisbraak, diefstal en die besit van dwelms. Een van die gevangenes is reeds tot 17 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan gewapende roof.

Dlamini het gewaarsku dat die verdagtes as gevaarlik beskou moet word en dat die publiek die polisie dadelik moet bel as die ontsnaptes opgemerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

B-man ·

Misdadigers/sindikate verdien ten minste ‘n pluimpie, omdat hulle die kwotastelsel reg kan toegepas.

m ·

Wat n grap. Darem is 5 van die goed van die strate af. Hulle sal nou net hulle bribe geld moet gaan terugvra want dit het nou nie gewerk nie…. hahahahaha

Andre ·

Die wat aangekla is vir diefstal of korrupsie moet by die ANC of Zimbabwe se “Diplomatieke” diens aansluit, dan verdwyn die aanklagtes soos mis voor die son.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.