Gauteng Opera sluit deure ná 18 jaar

Gauteng Opera (Foto: Facebook)

Gauteng Opera het vandeesweek bekend gemaak dat hy ná 18 jaar sy werksaamhede gaan staak en sy deure finaal gaan sluit.

Arnold Cloete, bestuurshoof, sê in ʼn onderhoud met Maroela Media ʼn slegte ekonomie het daartoe gelei dat dié liggaam se finansiering die afgelope paar jaar opgedroog het.

Cloete sê die bestuursraad het ná talle oorwegings besluit dit sal beter wees om Gauteng Opera te sluit terwyl daar nog ʼn moontlikheid is dat sy personeel en kunstenaars, van wie sommige permanent in diens is, ʼn laaste salaris betaal kan word.

Volgens hom is finansiering vantevore uit korporatiewe en privaat skenkings verkry. Dié skenkings het ʼn konstante afname getoon en is boonop nié meer genoeg om die liggaam se bedryfskoste te dek nie.

“Dis nie vir ons ʼn lekker aankondiging om te maak nie,” sê hy. “Baie van ons bloed en sweet is in Gauteng Opera sedert die ontstaan in 1999. Moeilike en slegte ekonomiese toestande het egter daartoe gelei dat ons finansiering byna heeltemal opgedroog het en daar is dié jaar bloot net geen ander uitkoms as om ons deure te sluit nie.”

Gauteng Opera het in 2008 – aan die begin van die wêreldwye resessie – sy eerste groot terugslag beleef. Sedertdien sou hy ʼn paar ander keer ook sluit, maar kon elke keer naelskraap oorleef.

Gauteng Opera (Foto: Facebook)

Volgens Cloete het die liggaam weer in Junie verlede jaar die valbyl net-net vrygespring – en dít is volgens hom ook maar net omdat sy kunstenaars besig was met ʼn reeks konserte.

“Ons besef toenemend dat al meer mense van die hand na die mond leef. Die afgelope ruk het dit net al moeiliker gegaan – dermate dat ons móét toemaak uit respek vir ons kunstenaars en personeel. Ons kan ook nie meer oorleef op enkelskenkings nie; daar is soveel onkoste wat maandeliks bygereken moet word buiten salarisse en die huur van ʼn gebou.”

Cloete sê die liggaam se bedryfskoste is sowat R200 000 per maand. Hy sê hoewel skenkings in die verlede dié koste kon dek, sal Gauteng Opera voortaan die koste van meer as ses maande moet dek om sy deure oop te hou. Volgens hom het van die personeel reeds weens ʼn geldtekort nié hulle volle salarisse ontvang nie hoewel daar altyd verseker is dat die kunstenaars betaal sal word.

Dit sal ʼn “wonderwerk” verg om dié keer die slag te oorleef. “Ons sal waarskynlik selfs van ons eiendom moet verkoop om die laaste bedryfskoste en salarisse te betaal,” sê hy. “Dit is nie die moeite werd om vir net een maand te probeer en te hoop dat geld sal instroom nie omdat die skuld en die agterstallige salarisse meer raak.”

Gauteng Opera (Foto: Facebook)

Cloete sê selfs meer hartseer as die sluiting van Gauteng Opera, is dat baie van die kunstenaars waarskynlik nie meer dieselfde geleenthede sal kry om op te tree nie. “Ons het ʼn hele reeks konserte vir 2018 beplan wat ongelukkig nou almal gekanselleer moet word. Ons het wonderlike en talentvolle kunstenaars wat minder geleenthede sal kry om op te tree. Dan is ons ook bekommerd oor ons studente wat besig is met klaviereksamens en in die middel van die jaar eksamen moet skryf. Ons hoop dat ons hier en daar sal kan optree sodat ons darem kan verseker dat die studente se eksamens afgelê kan word.”

Gauteng Opera hou op 18 Maart ʼn laaste konsert waarvan die doel sal wees om die bedryfskoste te dek en vir ʼn laaste keer salarisse te betaal. Die konsert vind om 15:00 plaas by die Tin Town-teater.

“Dis die einde van ʼn era,” sê hy. “ʼn Ontsettende hartseer maar werklike einde.”

Vir meer inligting oor Gauteng Opera se afskeidskonsert, stuur ʼn e-pos na [email protected] of bel 011 067 8000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Veritas ·

Dit verbaas my gladnie. My lewe lank kon ek nie verstaan hoe, skynbaar normale, mense na die gemors wil kyk of luister nie. Opera en operette, net soos sigaar en sigarette. Die een bevat meer twak as die ander.

Casper Labuschagne ·

Dit is ‘n skreiende aanklag teen ons gemeenskap wat kultuur vir die produkte van ‘n kras materialisme verruil het. Maar dit is ook meer as net dit, dit is die ideologie dat Eurosentriese kultuur nie in die konteks van Afrika gesteun moet word nie en uiteindelik het korporatiewe borge die sommetjie gemaak om die meerderheid eerder te bevoordeel. Ook speel die Internet ‘n rol, ek kyk amper weekliks na puik opera uitvoerings op Youtube maar het laas ‘n dekade gelede self ‘n opera uitvoering bygewoon.

Maar uit die smeulende kulturele puinhoop waarvan ons geslag nie waardig is nie, sal daar dalk ook ‘n nuwe opgang verskyn. Enkele kilometer van waar ek hier sit, is Maokeng, die geboorteplek van Levy Sekgapane en waar hy ook grootgeword het. As ons ‘n hoër kulturele erfenis versmaai, sal ander gemeenskappe dit wel opneem en dit voort dra.

Stormrider ·

Alles waar Casper. Jou argumente is diep en bevat baie stof tot na-denke. Maar ek is van mening dat jy die belangrikste aspek nog nie aangespreek het nie – behoorlike kulturele opvoeding van kindsbeen af. Die gebrek daaraan is ‘n betreurenswaardige kwessie wat my na aan die hart le. Kom ons koester die geloof en hoop dat ons kulturele wortels nie verder verdor in Afrika nie en dat die nageslagte weer musiek met waardes sal omhels

Stormrider ·

Dis verskriklik jammer om te hoor. Anders as Veritas hierbo, is ek ‘n groot liefhebber en ondersteuner van klassieke musiek en opera. Gelukkig verskil smaak, ek kan my al vir etlike dekades nie meer vereenselwig met die hoofstroom Afrikaanse musiekmark nie. Ek respektee r egter alle mense se reg en keuse om te luister na wat hulle wil, sonder om hulle sleg te se of afbreuk te maak aan hulle voorkeure.
Wat die sluiting van die Opera aanbetref – dis vir my hartseer dat baie ondersteuners van hierdie geanre eers uitvind van die krisis nadat dit te laat is. Ons kort meer bemarking en bewusmaking vir die uitvoerende kunste – dis immers waar die beste talent in die land hulle vestig vir hulle brood-en-botter.

Piet Snot ·

Dit was ‘n dapper poging.
Baie dankie, Arnold en vriende.

Sarel Strydom ·

Wat ek nie verstaan is hoekom iets wst deur ander mense as kultuur gedien en ge iet word deur ‘n ander oersoon as ” gemors” bestempel moet word. Probleem vandag geen respek vir ander mense nie.

GM ·

Ek stem saam, hoekom is dit nou eers in die nuus? Daar is soveel besighede wat in stilte sukkel. Als maak toe en word met winkelsentrums en snert vervang. Selfs die inry-flieks het toegemaak. En dit was vir ons so lekker om van dit gebruik te maak, aangesien ons nie met ons klein kinders in ‘n gewone fliek kan gaan sit nie.
Dis nou seker ‘n simpel voorbeeld, maar hoekom nie ‘n sangkompetisie by die operahuis hou nie, en sodoende fondse insamel? Daar is baie talent daarbuite. Of elke nou en dan ‘gewone’ konserte daar hou in plaas van opera, dan sal daar dalk meer voete soontoe beweeg. Ek weet dit ‘defeat the purpose’ van om ‘n operahuis te wees, maar partykeer moet mens jou horisonne verbreed om te kan oorleef.

JC ·

Onmiskenbaar ‘n verdere teken van die aaklige en kil, verbruikersmania- gedrewe, en ondankbare, intellektueel verwarrende, en ontheemde tye waarin ons lewe; met ‘n skreiende ondankbaarheid teenoor; en gebrek aan waardering van; een van die grootste kulturele skatte ooit.

As mens nou ooit ‘n teken wou sien van gebrek aan intellektuele diepte en die verval van ‘n land, dan is dit nou hierdie.

Die agteruitgaan van westerse kultuur- verskynsels en skatte wat nie meer hond-haar-af kan maak in ‘n vinning wordende en vervallende Suid-Afrikaans afrikanistiese swart kultuur; (waar dit duidelik is dat die aard v/d aanbod dienooreenkomstig nou besig is om vinnig te neig na die aard v/d vraag) wat oor die algemeen vere voel vir westerse kultuurskatte en verskynsels; is duidelik.
Waar is die diepte van intellektuele- aktiwiteite en nadenking in ons samelewing heen?
Opera laat jou DINK en leef!
Dit is vreemd dat Afrikaners altyd die pot aan die kook moet hou; maar helaas is hierdie reddingspoging ook net een trap te ver!
Waar is die honderde duisende engelssprekende “expats” van die VK, Frankryk, Belgie en Nederland se noodskenkings en antwoorde op DIE wekroep nou?
Dit is betreurenswaardig, maar wie gee skynbaar om!
#LANK LEWE OPERA!

rollie ·

Ek twyfel of dit aan swak ekonomiese tye toegeskryf kan word as mens sien hoe mense hul geld op onnodige goed soos wegneemetes, restaurante ens. bestee. Eerder ‘n gebrek aan belangstelling in die kunsvorm.

E.K. die eerste ·

Ons het ons kinders van BAIE jongs af na alle tipes vermaak geneem, van fliek tot musiekuitvoerings (klasiek en populêr, verhoogproduksies van dramas ens, en ek glo vas enige mense moet balans hê in die lewe. As mense nie “weet” hiervan nie sê dit iets van jou. Daar is maar altyd te min ondersteuning van hierdie tipe ding. Hoe sal ‘n kind weet wat om te kies as hulle nie blootgestel word allerlei kunsvorms nie? Hier is baie swart kinders ons wittes voor deurdat hul graag leer om musiekinstrumente soos viool en te bemeester en ook uistekende operasangers opgelewer het. Hulle dink beslis nie dis “gemors” nie maar is te bly as hulle onderrig in opera/klasieke musiek kan kry. Hierdie is weereens ‘n skande vir SA. Die kleinste dorpies in Europa het simfonie orkeste, die kunste in alle vorms word goed ondesteun.

Engela ·

Dis so jammer Arnold het nagelaat om Mimi Coertse en Neels Hansen te noem as die stigters van die Black Tie Ensemble wat Gauteng Opera vooruitgegaan het. Die Black Ties het eers in 2013 na Johannesburg geskuif en is toe herdoop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.